Bybel as ‘n vak en Katkisasie is ‘n geskenk wat genadiglik van God af kom
Waar kom die stelling vandaan dat katkisasie en Bybel as skoolvak jou persoonlike verhouding met God skade aandoen?
In die hedendaagse wêreld van die jeug, ontstaan dikwels die vraag of die gestruktuureerde aanbieding van die Bybel as ’n akademiese vak of katkisasieles, die persoonlike verhouding met God kan benadeel. Hierdie argument beweer dat die afdwing van verpligte katkisasie en streng formele Bybelonderrig die jong generasie soms negatief beïnvloed.
Teenoor die vraag en stelling hierbo, wil ek graag die volgende stelling voorstel en verdedig: Bybelonderrig en belydenisgebaseerde katkisasie breek nie ’n persoonlike verhouding met God af nie, inteendeel, dit vorm die basis van ‘n jong kind se lewe.
1. Kennis as die Grondslag van Liefde en Verhouding
’n Betroubare en standvastige verhouding met die Drie-enige God kan nie afgewater word nie, dit is die grondslag van ons geloof. Die Skrif leer ons dat die ware kennis van God die begin punt van ons geloof is. In Hosea 4:6 waarsku die Here: "My volk gaan te gronde weens 'n gebrek aan kennis." Sonder basiese onderrig dwaal die menslike hart onvermydelik af na afgodediens en selfgesentreerde spiritualiteit.
Volgens Sondag 7 v/a 21 is ‘n ware geloof ‘n vasstaande kennis en ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees in ons harte werk. Om God persoonlik lief te hê, vereis dat ons weet wie Hy is, hoe Hy Homself in die geskiedenis geopenbaar het, en wat Sy wil vir ons lewens is. Verder skenk God nie net aan ander nie, maar ook aan my, uit loutere genade, vergifnis vir my sondes. Katkisasie bied hierdie Skrif gebasseerde raamwerk.
2. Die daad van Skrif-gebasseerde toewyding
Die Bybel skei nooit die menslike begrip van die geestelike lewe nie. Toe aan Jesus gevra is wat die grootste gebod is, het Hy geantwoord: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand" (Matthéüs 22:37). Die gebruik van die verstand is dus ’n daad van aanbidding.
In Paulus se briewe word daar deurlopend klem gelê op die suiwerheid en die vernuwing van die gees deur kennis:
- Romeine 12:2: "En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed..." (verstand).
- 2 Timoteus 3:16-17: "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid..."
Bybelonderrig rig die verstand sodat die gelowige "gereed kan wees om 'n antwoord te gee aan elkeen wat verduideliking eis" (1 Petrus 3:15).
3. ’n Waarskuwing teen skynheiligheid
Die argument dat katkisasie skadelik kán wees, bevat wel ’n element van waarheid as ons kyk na die gevaar van skynheiligheid. Wanneer die bestudering van die Woord van die Here bloot as ’n oefening of as ’n verpligte ritueel beskou word, loop dit uit op geestelike oortreding.
Jesus het die skrifgeleerdes van Sy tyd juis hieroor vermaan toe Hy Jesaja aangehaal het: "Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af" (Matthéüs 15:8). Dit is nie die kennis wat skade doen nie, maar die ongehoorsaamheid van die onvernuwde hart wat weier om voor daardie kennis te buig. Kennis sonder liefde, soos 1 Korinthiërs 13:2 verklaar, beteken niks nie.
Die bestudering van die Bybel as vak en die getroue bywoning van katkisasie doen nie die persoonlike verhouding met God skade nie; dit dien as die noodsaaklike beskerming daarvan.
Kopkennis en hartskennis moet hand aan hand loop.
Mag die Heilige Gees in elke individu se lewe werk, sodat jy en ek mag groei in liefde en kennis van ons Here. Mag ons God loof en dank vir Sy Woord. Mag ons met opregte harte in verhouding met die Here leef, en mag ons dankbaar wees vir Bybel en katkisasie onderrig.
Geskryf deur Corbin de Jager, VGK Bellville