Brief aan ‘n Liefdesoeker

Verhoudings is ‘n tema wat ‘n baie groot rol speel in die jeug se fase van die lewe. Ons is jong mense wat klaar maak met skool of universiteit en soek graag iemand om ons lewens mee te deel - bewustelik of onbewustelik.

Brief aan ‘n Liefdesoeker
Photo by Annie Spratt / Unsplash

Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Maranata

Liewe Soeker,

Verhoudings is ‘n tema wat ‘n baie groot rol speel in die jeug se fase van die lewe. Ons is jong mense wat klaar maak met skool of universiteit en soek graag iemand om ons lewens mee te deel - bewustelik of onbewustelik.

“Daar is baie visse in die see!”

Klink dit bekend? Wel, die werklikheid is nie altyd so eenvoudig soos die bogenoemde stelling dit laat klink nie. As jy al vis gevang het (of net probeer het), weet dat die visse nie altyd byt nie. Jy kan dieselfde aas gebruik as die ou langs jou wat sopas ‘n pragtige vis uitgetrek het, maar jou emmertjie bly leeg. Geen vangs, geen vis, geen liefde.

Dit is belangrik om te noem dat ons nie dieselfde as almal anders rondom ons moet doen as dit kom by die soeke na ‘n lewensmaat nie. Sosiale media en Instagram trends het die verhoudingswêreld besoedel. Almal soek nou wat almal anders het, want hulle foto’s lyk so ideaal. Maar ons besef nie dat dit nie vir ons is nie. Jou lewe is uniek en baie anders as ander mense. Hoekom soek jy nou presies dieselfde tipe ou met dieselfde haarstyl of ook só ‘n meisie met sulke make-up? Die Here het man en vrou gemaak om bymekaar te pas: fisies, emosioneel en geestelik. Almal is verskillend, met verskillende rolle, take en gawes.

Ons en die wêreld is baie keer bekommerd oor looks of persoonlikheid, maar moet ons daarop fokus? Moet my nie verkeerd verstaan nie – ons moet aangetrokke wees tot ons tweede helfte en beide persoonlikheid en looks dra daartoe by.

Nou waarna kyk ons wel?

Kyk na Genesis 2, spesifiek vers 21. God het vir Adam ‘n vrou gemaak en gegee. In hierdie ‘transaksie’, as ek dit so kan stel, staan God sentraal. Elkeen van ons, as ons na iemand soek of reeds iemand het, moet besef dat God sentraal moet staan. As Hy nie doen nie, gaan ‘n mens in ‘n verhouding op mekaar moet staat maak. Hoe betroubaar is ‘n sondige mens? Hy is mos nie vlekkeloos nie? Die Skrif is duidelik oor die sondige aard van die mens.

In Genesis 2 stel God die huwelik in. Dit is immers die doel van uitgaan, is dit nie? Hoekom gaan ons uit? Om na die huwelik heen te werk. Maar hoekom stel Hy nou juis die huwelik in? Hoekom trou ons? Hoekom woon ons nie net saam en sluit ‘n saamwoonkontrak soos deesdae begin gebeur nie? Wat maak die huwelik die huwelik? God is die een wat die huwelik sluit. Dit is hoe die huwelik met blote saam woon en saam slaap verskil. Waarom sal Hy dan nie sedert dag een sentraal in ‘n verhouding tussen man en vrou staan, as die huwelik juis oor Hom gaan nie?

Daar is ongelooflik baie om te sê oor verhoudings en biblioteke vol is daaroor geskryf – ek gaan onmoontlik alles kan sê wat gesê moet word. Daarom is die fokus van hierdie brief op God se plek in die verhouding, want dit is die belangrikste aspek van ware liefde.

In die boek, When sinners say I Do, word die beeld gegee van die huwelik as ‘n knopieshemp. Sodra die eerste knopie van ‘n hemp nie die regte gaatjie vind nie, gaan die res van die knopies nie oplyn nie en gaan die hemp lelik lyk. Bespotlik. As God nie sy plek in die verhouding het nie, gaan die res van die liefdesaspekte nie op hul plek wees nie. Die verhouding gaan nie kan funksioneer nie. Liefde gaan lelik wees, bespotlik. Is dit nie wat die sondige natuur van die mens deesdae daarvan maak nie? Ons hoef nie ver te kyk nie, want rondom ons in ons eie kringe breek verhoudings en huwelike as gevolg daarvan. Liefde is deesdae afgemat, lelik en bespotlik.

Elke deelgenoot van die verhouding (jy ook) moet ‘n persoonlike band met God hê. Wanneer beide man en vrou se geloof groei, groei hulle nader aan God en uiteindelik nader aan mekaar. Liefde vir God en liefde vir jou naaste loop hand aan hand. So vind die huwelik sy doel: om saam tot eer van God te lewe. Dít is hoekom God dit ingestel het. Reeds voor die sondeval was die huwelik daar met ‘n doel. God moet die fondasie wees. Dan bou jy jou huis en gesin op rots en nie op sand nie. In ‘n huis waar God sentraal staan, kan die mure nie ineenstort nie.

Nog ‘n vraag: Hoekom dra ‘n bruid ‘n wit rok op die bruilofsfees? Is dit net omdat dit mooi is? Daar is baie om te leer oor verhoudings in die Bybel. Die hele evangelie word uitgebeeld deur ‘n huwelik tussen Christus en sy kerk. So kan ons elkeen in ons eie verhoudings, op ons eie troudag of die troudag van iemand anders sien hoe Christus ons vuilheid met sy bloed kon reinig. Spierwit en skoon. Christus maak gebroke huwelike heel en maak huwelike juis ekstra mooi. Hy maak ons elkeen weer mooi en heilig vir die Vader.

Wanneer ‘n mens met die bril van die evangelie en ware insig na die verhouding en huwelik kyk, word tekste wat handel oor die rolle van mans en vrouens (bv. 1 Kor 7: 1-8) pragtig, wat vir die wêreld miskien dom en verkeerd lyk.

Dus, wil jy ‘n meisie kry? Wil jy minder eensaam lyk op jou profielfoto? Gaan nooi daardie seun vir ‘n roomys by McDonald’s. Gaan vra daardie meisie vir ‘n koffie. Deel die Psalmboek. Staan jou man, wees ‘n man, en gaan op ‘n date. Wil jy die sonsak met iemand aan jou arm geniet, die warm gloed van die son op jou gesig voel en die vuur van liefde in jou hart voel opvlam? Wil jy ‘n man ontmoet wat oor jou waak en, soos Christus, jou liefhet? Gaan soek in die Woord - by God self - na raad. Bid tot jou Vader wat in die hemel is. Gaan praat met medegelowiges hieroor, miskien met jou ouers of jou mentor. God het die huwelik ingestel, Hy sal jou die pad ook wys.

Selfs wanneer jy bang is dat jy alleen gaan wees, gee God ook daarvoor sy raad en troos (1 Kor 7: 8). Hou aan om jou dagtaak te doen en jou roeping uit te leef. Uitgaan en trou is waarlik nie als in die lewe nie. Ons primêre doel in die lewe (of ons in ‘n verhouding is of nie) is om die Here te prys. Dit bly altyd dieselfde. Fokus daarop.

Ek hoop jy kom reg, die Here hoor graag van jou.

Liefde in ons Here,
Die Christen

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp