Boererate tot die aandelemark

Binne die Gereformeerde geloof word Christene geroep om God te eer met alle aspekte van hul lewens, insluitend die gebruik van rykdom. Hoe onderskei ek dan tussen die risiko’s van beleggings en aandeleverhandeling en die risiko’s van ‘n weddenskap? Is die twee nie tog maar dieselfde nie?

Boererate tot die aandelemark
Photo by Chenyu Guan / Unsplash

Geskryf deur Gerhard Burger, Gereformeerde Kerk Wonderboom

Binne die Gereformeerde geloof word Christene geroep om God te eer met alle aspekte van hul lewens, insluitend die gebruik van rykdom. Die Skrif leer dat rykdom nie verkwis moet word in hebsugtige strewes nie (Lukas 12:15), en ook nie roekeloos gewaag moet word in die hoop op skielike wins nie (Spreuke 28:20). As gevolg hiervan is dobbelary lank reeds as 'n sondige praktyk verwerp. Ons kinders word groot gemaak om weddery speletjies te vermy en hul nie te steur aan lotto-advertensies wat oor die radio en TV uitgesaai word. Nogtans is dit nie vreemd om te hoor van mense in die kerk, sterk gelowiges, wat hul pensioen en spaargeld verloor as gevolg van aandelemarkte of slegte beleggings nie. Daarom kom die vraag keer op keer na vore: Hoe onderskei ek dan tussen die risiko’s van beleggings en aandeleverhandeling en die risiko’s van ‘n weddenskap? Is die twee nie tog maar dieselfde nie? 

Dobbelary behels die oordrag van rykdom deur toeval, sonder arbeid of bydrae tot die algemene welsyn van ‘n gemeenskap of die “common good”. Dit voed gierigheid, ondermyn ywer en verontagsaam God se voorgeskrewe middele van voorsiening. Dobbelary is ook die eiewillige aanneming van onnodige risiko’s met die hoop dat die aanname beloon sal word.

Tog word Christene in die moderne ekonomie gekonfronteer met aandelebeurse en finansiële markte, instellings wat soms soos dobbelary kan lyk in hul voorkoms van risikoneming. Hoe kan 'n Christen deelname aan hierdie markte regverdig terwyl hy kansspeletjies verwerp? Die antwoord lê in die verskil tussen spekulasie vir selfsugtige gewin en verstandige rentmeesterskap van hulpbronne ter wille van produktiewe arbeid. Hierdie onderskeid kom veral duidelik na vore in die voorbeeld van boere wat hulself verskans deur middel van kommoditeitsbeurse.

‘n Graanboer in Suid Afrika is as gevolg van die vryemarkstelsel ‘n prysnemer. Dit beteken dat hy nie sy eie prys kan vra vir die gewas wat hy groei nie, inteendeel, ‘n boer kan net die vergoeding aanvaar wat die mark aanbied. Markpryse kan dus so laag daal dat boere nie hul insetkoste kan dek nie en ‘n verlies ly. Danksy die vryemark en die afskaffing van die destydse graanrade (vra gerus jou oupa of hy so iets onthou) kan niemand die markprys bepaal, beïnvloed of op enige manier manipuleer om die boere te help nie. ‘n Boer, vanuit die aard van sy beroep, word dus blootgestel aan prysrisiko.

Om hierdie risiko te bestuur, gebruik boere ‘n spesiale finansiële instrument naamlik: Termynkontrakte.

Termynkontrakte, of “futures”, is vaste ooreenkomste wat op ’n beurs aangegaan word om hul oes teen ’n vaste prys, voor dit gestroop word, te verkoop. Met ander woorde ‘n boer verkoop sy voorraad vooruit.

‘n Praktiese voorbeeld:
Boer Jan plant in November mielies en gaan insetkoste soos saad en kunsmis aan van omtrent R 5000. Teen Maart kom hy agter dat die markprys ‘n hoogtepunt bereik het en begin sak. Met behulp van sy ekonoom word daar bepaal dat teen die tyd wat hy in April stroop, die markprys so laag sal wees dat hy nie sy insetkostes sal kan dek indien hy sy mielies dan verkoop nie. Boer Jan onthou dat hy ‘n prysnemer is en nie kan onderhandel vir ‘n beter prys nie. Sy  ekonoom gaan dus na die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) en stel vir hom ‘n termynkontrak op. In die kontrak stel boer Jan dat hy sy mielies teen R 6000 sal verkoop, ‘n bedrag wat hom R 1000 wins sal verseker. By die effektebeurs aanvaar ‘n handelaar die belofte en koop die kontrak by Boer Jan. Boer Jan is nou verplig om in April sy oes teen R 6000 te verkoop aan die handelaar.

Boer Jan het dus sy prysrisiko verskans en is verseker dat, alhoewel die markprys dalk kan val na onder R5000, daar ‘n handelaar sal wees wat sy graan vir R 6000 moet en sal koop. Die handelaar is daarteenoor verseker dat, al styg die markprys na R 7000, Boer Jan aan hom moet verkoop teen R 6000. Die proses staan bekend as verskansing en gebeur daagliks op die aandelemark met beide harde en sagte kommoditeite soos graan en ru-olie asook met finansiële produkte soos aandele.

Deur verskansing maak die boer ‘n voorafbepaalde inkomste vas en verseker dit stabiliteit vir sy onderneming. Terselfdertyd gee die boer die kans op buitengewoon hoë winste prys (as die mark na R 7000 of hoër sou beweeg). Hy beskerm homself ook teen verwoestende verliese (as die markprys onder R 5000 sou beweeg). 

In wese is dit ‘n berging van wins vergelykbaar met Josef se God-geordende berging van graan in Egipte teen die komende hongersnood (Genesis 41). Dit is dus nie dobbelary nie; dit is ’n vorm van wyse rentmeesterskap, en goeie finansiële beplanning.

Die Morele Verskil tussen Dobbelary en Verskansing

Die boer se verskansing demonstreer die morele verskil tussen aandele- of kommoditeitbeurse en dobbelary:

Produktiewe Doel

Dobbelary produseer niks en dra welvaart oor sonder arbeid.

Verskansing ondersteun werklike ekonomiese aktiwiteite – plant, oes, vervoer van voedsel. Die uitruiling fasiliteer stabiliteit in produktiewe arbeid asook regverdige prys ontdekking in ‘n vryemarkstelsel waar ingryping en manipulasie onwettig is. Die Woord leer ons ook egter in Spreuke 28:19-20 dat die Here produktiewe, opbouende en eerbare werk beloon terwyl winsbejaagdheid en werk wat nie tot eer van Hom is, veroordeel en gestraf word.

Gemete Risiko vs. Roekelose Risiko

In beide gevalle is risiko die produk wat gekoop of verkoop word. Die verskil kom egter in dat verskansing die mark gebruik om risiko’s te verminder, inkomste te stabiliseer en voortgesette voorsiening vir afhanklikes te verseker.

Rentmeesterskap vs. Gierigheid

Die dobbelaar soek skielike verryking wat ten einde nie geseënd sal wees nie (Spreuke 20:21). Dikwels word die verryking ten koste van iemand anders verkry. Die boer soek beskerming en volhoubaarheid, gemotiveer deur 'n plig om hulpbronne verantwoordelik onder God te bestuur. 

Breër Implikasies vir Effektebeurse

Dieselfde logika geld vir breër deelname aan effektebeurse. Wanneer Christene in maatskappye belê deur aandele of fondse, dobbel hulle nie, maar maak hulle produktiewe onderneming moontlik - fabrieke, plase, tegnologie en dienste - wat die samelewing bevoordeel. Die belegger deel in beide die risiko's en die belonings van ware ekonomiese arbeid. 

Soos met verskansing moet spekulasie, geskei van ‘n produktiewe einddoel, vermy word. Daghandel op gerugte of die najaag van "vinnig ryk word "-skemas kan inderdaad in dobbelary oorgaan, waar sondige gierigheid, begeerte en emosies die oorhand oor gedissiplineerde, deurdagte beleggings kry (1 Timotheüs 6:9-10). Dit is belangrik om te onthou dat die effektebeurse ‘n mensgemaakte platform is met sy eie verleidings. 

Dit word sterk aanbeveel dat as u nie die nodige kennis het nie, of nie toegang tot betroubare finansiële adviseurs het nie, of sukkel met die versoeking van gierigheid, u die risiko's wat met die aandelemark verband hou, moet vermy.

Gevolgtrekking

Vanuit 'n Gereformeerde perspektief is die aandelebeurs nie inherent sondig nie, en dit is ook nie gelykstaande aan dobbelary nie. Waar dobbelary ‘n vrywillige intrede in ‘n risikante finansiële posisie is, is verskansing eerder 'n instrument wat, wanneer dit verstandig gebruik word, produktiewe arbeid ondersteun en God se voorsienige orde eerbiedig. Boere wat hul gewasse verskans, is voorbeelde van hierdie waarheid: hulle dobbel nie op kans nie, maar soek getrou stabiliteit om vir hul huishoudings te sorg en hul naaste te dien. Boere, vanweë die aard van hul industrie, begin in ‘n risikoblootgestelde posisie. Risiko’s waaroor hul geen beheer het nie. Verskansings gee hulle die geleentheid om die risiko’s aan ‘n gewillige koper te ontlaai en is ‘n belangrike stuk gereedskap in die vryemarkstelsel vir regverdige en deursigtige prysontdekking. Op hierdie manier kan aandele- en kommoditeitsbeurse verdedig word as wettige middele van Christelike rentmeesterskap, mits dit met ywer, matigheid, en die doel om God in alle dinge te verheerlik, benader word.

Olielamp links: Oordenkings | Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp