Beperkte Versoening (Dordtse Leerreëls 2)

“Die Dood van Christus en die Verlossing van die Mense deur sy Dood” is die hoofstuk se titel. Hier word die dood van Christus en hoe ons daarna moet kyk in 9 paragrawe uitgelê. 

Beperkte Versoening (Dordtse Leerreëls 2)
Photo by Jason Leung / Unsplash)

Hierdie is deel 2 van die Dordtse Leerreëls reeks "Meer van God, minder van my"

Lees: 2 Korinthiërs 5:12-21

Laasweek het ons in God se uitverkiesing gesien dat Hy ons van die strikke van sonde bevry. Ons het dus gekyk na die “wat” van die uitverkiesing, maar hierdie week kyk ons na die “hoe” van die uitverkiesing. Dit is in die tweede punt van die Engelse akroniem ULTIP:

  • Unconditional Election (DL Hoofstuk 1)
  • Limited Atonement (DL Hoofstuk 2)
  • Total Depravity (DL Hoofstuk 3)
  • Irresistible Grace (DL Hoofstuk 4)
  • Perseverance of the Saints (DL Hoofstuk 5)

“Die Dood van Christus en die Verlossing van die Mense deur sy Dood” is die hoofstuk se titel. Hier word die dood van Christus en hoe ons daarna moet kyk in 9 paragrawe uitgelê. 

Arminius se dwaalleer oor Christus se dood kan gevind word in die verwerping van dwalings. Hier kan ons lees hoe hy geleer het dat Christus vir die hele mensdom gesterwe het, maar dat net ʼn gelowige kan kies om die dood van Christus en die vergewing van sondes te aanvaar. Jy vra dalk nou vir jouself: hoekom moes Christus dan sterwe? Kon Hy nie net van die hemel af iets gedoen het vir almal nie? Die Arminiane sê dat God, toe Hy die mens geskape het, vereis het dat almal perfek aan die wet gehoorsaam moet wees. Maar, na die sondeval het God besef dat niemand perfek al sy gebooie sal kan onderhou nie. Arminius leer verder dat God sy Seun stuur om ʼn perfekte voorbeeld te wees hoe om God se gebooie volledig na te kom. Hy is nie gestuur om vir sondes te sterwe nie, maar leer hulle om aan God se vereiste te voldoen sodat dit makliker kan wees vir mense om verlossing te ontvang.

Arminius leer verder dat terwyl dit nou makliker is deur Christus se dood om verlossing te kry, beteken dit nie dat alle mense dit sal ontvang nie. Hy sê die enigste vereiste van God vir mense om verlossing te ontvang, is om te besluit om God te aanvaar. Soos genoem in die inleiding van die reeks, het Arminius geleer dat die mens “siek” of “beseer” is. So, sê hy, kan mens self besluit om te glo en so verlossing ontvang. Hierdie leer van Arminius word uitgelê in paragraaf 2, 3 en 4 in die Verwerping van die Dwalings in Hoofstuk 2. 

Die leer van Arminius breek God en veral Christus se soewereiniteit af en maak die mens groter. Hy plaas Christus se dood ver weg van ons – ons wat elke dag weer sukkel teen sonde. Hy leer dat sonde net vergewe sal word as mens aanhou glo en nie net dat ons sonde vergewe is, punt. Hierdie leer bring niks troos nie, veral nie as mense sukkel met hulle geloof nie.

Wat glo ons dan? Waar vind ons ons troos in Christus se dood? Die antwoord vind ons in paragraaf 8 van Hoofstuk 2. Daar lees ons dat God in sy goeie raadsplan en uit genade alleen “die lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun aan al die uitverkorenes tot voordeel sal strek” (DL 2:8). Christus is nie gekruisig sodat almal verlossing kan ontvang nie, maar net die uitverkorenes. Alhoewel Christus se kruisdood genoeg is om die hele wêreld te verlos, word dit net beperk na die uitverkorenes (DL 2:4). Dit is die Beperkte Versoening wat hierdie hoofstuk opsom. Hierdie word bevestig deur Christus se woorde in Johannes 17:9 “Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort”. 

Dit is nie al wat God vir ons doen nie. Ons lees verder in paragraaf 8: “so het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigmakende geloof skenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis – waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het – uit elke volk, stam, geslag en taal hulle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het. Verder dat Hy hulle van al hulle sondes – sowel die oorspronklike sonde as die werklike sonde wat na en voor die geloof begaan is – deur sy bloed sal reinig.” Christus werk geloof in ons, omdat ons totaal verdorwe is in ons sonde. Watter troos is dit nie! Ons hoef nie te leef met vrees soos Arminiane nie - die vrees dat ons dalk nie genoeg doen nie. Ons mag weet dat Christus alles gedoen het!

Dit is verder toepaslik vandag, want die dwaalleer van Arminius is die basis van die hedendaagse dwaalleer dat die God van die Nuwe Testament meer liefde en barmhartigheid wys as die God van die Ou Testament. Hoe kyk ons na hierdie leer? Ons mag weet dat God vir ewig en altyd dieselfde bly; Hy “is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Hy het al van die begin van die wêreld sy raadsplan gehad. Hy het al deur die Ou Testament plek gemaak vir Jesus Christus en die nuwe verbond deur sy bloed. Paragraaf 9 som dit op: “hierdie raadsbesluit is die gevolg van God se ewige liefde vir die uitverkorenes. Die besluit word van die begin van die wêreld af tot vandag toe kragdadig deurgevoer, ondanks die vergeefse verset van die magte van die doderyk”. 

Paragraaf 8 eindig met ‘n troos: “Ten slotte dat Hy [Christus] hulle [die uitverkorenes] tot die einde toe getrou sal bewaar en uiteindelik sonder enige vlek of rimpel in die heerlikheid by Hom sal neem. Hierdie mag ons baie troos en krag gee in tye van sukkel en depressie, die lae tye in ons geloof. Christus is altyd daar vir ons. Hy vergewe ons sondes en maak ons nuut. Ons mag lewe, dag tot dag, met die vooruitsig van die ewige lewe saam met Christus. Soos gesê is in Paragraaf 9 “daar sal altyd ʼn kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. Hierdie kerk moet Hom as haar Verlosser, wat sy lewe aan die kruis vir haar gegee het – soos ʼn bruidegom vir sy bruid – standvastig liefhê, Hom met volharding dien en van nou af tot in alle ewigheid verheerlik.” Kom ons leef vandag met hierdie vooruitsig!

Verdere Lesing

Hebreërs 9:23-28, Hebreërs 10:11-18, DL Hoofstuk 2

Gebed

Onse getroue en alwetende God en Vader in die hemel. Ons is dankbaar dat ons voor U mag kom, al is ons sondige en ontroue mense. Here, versterk ons geloof in U en u Woord, veral ook deur u Seun se kruisiging. Ons verdien nie u genade nie – help ons om dankbare lewens vir U en U alleen te leef. Ons bid dit alleen in die bloed van u Seun, Jesus Christus, Amen.

Coram Deo

Die dwaalleer van Arminius verkleineer God en sy krag en genade. In die Bybel en die Dordtse Leerreëls kan ons lees oor alles wat Christus vir ons gedoen het – laat ons troos hieruit vind en so ook in dankbaarheid lewe!

Bronnelys

  • Bouwman, C. (2018). Background to the Canons of Dort. In C. Bouwman, God's Glorious GODness (bl. 1-31).

Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata