Amen – ‘n belydenis van vertroue dat God hoor

Ons almal sluit ons gebede af met die woord Amen. Dit is een van die eerste geloofswoorde wat baie kinders leer. En dit is is ook die woord waarmee die Onse Vader afsluit. Maar watter waarde het die woordjie "amen" in die praktyk van jou gebede?

Amen – ‘n belydenis van vertroue dat God hoor
Photo by Ümit Bulut / Unsplash

Verwerking van ‘n preek deur Ds C Kleyn (2005-06-05)

Ons almal sluit ons gebede af met die woord Amen. Dit is een van die eerste geloofswoorde wat baie kinders leer. En dit is is ook die woord waarmee die Onse Vader afsluit. Maar watter waarde het die woordjie "amen" in die praktyk van jou gebede? Kry dit soms nie die betekenis van: Klaar, dis afgehandel nie. Of dalk wonder jy wat van die gebed sal word, hoor God jou ooit. 

As dit is hoe ons Amen sê, dan het ons gebed min of geen waarde nie. Dan kan mens verstaan hoekom baie mense op die ou end stop om te bid. Sulke gebede is nie vertroulike gesprekke met God nie. Dan praat jy in feite in die lug en rig jy jou nie in geloof tot die hemelse Vader, wat beloof het om na jou te luister, nie. Wanneer amen niks meer beteken as "klaar" nie, dan is dit waardeloos. Dan geld dit wat die Here gesê het: "Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af." (Matthéüs 15:8).

Die gelowige gebed is egter ‘n gebed vol van vertroue. As die vertroue nie daar is nie, dan beledig ek God in sy gesig. Dink maar aan enige gesprek met ander mense - Wanneer jy met iemand praat en hulle duidelik laat agterkom dat jy hom nie vertrou nie, dan beledig jy hom in sy gesig. Jy sal sukkel om ‘n oop gesprek te hê. Dan het jy geen gemeenskaplike basis meer nie.

Met die gebed werk dit dieselfde. Om te bid sonder om te glo dat God betroubaar is en nakom wat Hy belowe het, is dieselfde as om God in sy gesig beledig. Die gebed is dan skyn. Geen wonder dat ons op die wyse nie die krag en troos van die gebed ervaar nie.

Die woordjie amen wil my op die hoogte van die geloofs-verwagting bring. Letterlik beteken die woord: dit staan vas, dit is geldig. Wanneer ek die woord gebruik, dan bely ek daarmee: ek erken die volle geldigheid en waarheid van wat ek sopas gesê het. 

In die Onse Vader slaan die amen allereers terug op die lofprysing daarvoor: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Die woorde staan vas. Dit is waar en seker. Daarom is ek seker van die verhoring van my gebed. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer. In my be-aming van die lofprysing gee ek uiting aan die sekerheid van die verhoring. Ek bely: my gebed is verhoor.

Dink maar aan Psalms 10, 20 en 28 (Om net ‘n paar te noem) - Midde in die nood roep die Psalmiste uit: “Die Here het gehoor” (Psalm 10). “Nou weet ek dat die Here sy gesalfde verlos” (Psalm 20). “Geloofd sy die Here, want Hy het die stem van my smekinge gehoor” (Psalm 28). ‘n Gelowige gebed kan van die sekerheid van die verhoring juig. Jy weet dit so seker dat jy dit selfs kan teken as iets wat reeds aanwesig is. 

Hoe kan jy daarvan so seker wees? Net deur geloof. Deur God op sy woord te aanvaar. Deur God in sy mag en heerlikheid te vertrou. Deur alle woorde, inklusief die beloftes, van die groot en getroue God te glo. Hy het Homself as die Hoorder van die gebede bekend gemaak en getoon. Het Hy jou dan nie belowe dat Hy jou met alle goeie dinge wil versorg nie? Dit wil Hy as jou getroue Vader, en dit kan Hy ook as jou almagtige Vader, doen. Hy het die oorwinning belowe. In my gebed lê ek my hand op sy beloftes. Daarin vind ek my vastigheid. "Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (dit wil sê in Christus) is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons" (2 Korinthiërs 1:20). Ons laat ons amen hoor nadat en omdat Hy eers sy ja van trou laat hoor het.

"Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige."(Openbaring 1:8). Christus self word die Amen genoem, die getroue en waaragtige Getuie (Openbaring 3:14). Alles wat Hy gesê en beloof het, het Hy as die Amen, as die Getroue gesê. Daarom kan jy vol vertroue amen op jou gebed sê. Jou sekerheid rus in sy trou en sekerheid.

Ons gebede is baie sekerder deur God verhoor as wat ons in ons harte voel dat ons dit van Hom begeer. Deur ons sonde is ons begeertes dikwels onsuiwer en kortsigtig. Ons laat ons maklik verblind deur ons eie nood. As ons dan nie van die konkrete nood verlos word nie, dan dink ons vinnig dat ons gebede nie verhoor word nie. As ek byvoorbeeld vir genesing gebid het en ek word nie genees nie, het God my dan verhoor? As die moeites in my gesin of in my persoonlike lewe erger word pleks van beter, is my gebed wel verhoor? So bly ons sit in ons kortsigtigheid met die sogenaamde onverhoorde gebede. Maar God verhoor baie sekerder as wat ek bid of dink. Ons sien dikwels slegs uit na ‘n tydelike en onmiddellike vervulling. Ons kyk nie verder nie. Maar God se planne gaan baie verder. Hy werk heen na ‘n ewige ryk, ‘n ryk so groot in heerlikheid dat ons menslike breine dit nie kan bevat nie. 

God is ‘n Verhoorder van die gebede. Op hierdie oomblik sien ek miskien nie baie daarvan nie, die moeites kan selfs vererger, maar op God se tyd sal blyk dat Hy die gebede verhoor, baie ryker as wat ek my ooit ingedink het. Die stryders van Psalm 20 het vir die oorwinning van die koning gebid. Hulle het ook reeds van die oorwinning gesing. "Hulle het inmekaargesak en geval, maar ons het opgestaan en ons weer opgerig."  

Die mense wat Psalm 20 gedig het, het gedink aan die aardse oorlog in hulle tyd, en ja, die Here het hulle ook daarin gehelp. Tog kan ons ook nou terugkyk en sien Hoe die Here planne vir nog baie groter oorwinnings gehad het, planne wat hulle nog nie verstaan het nie. Die Here het sy Gesalfde, ons Here Jesus Christus, die oorwinning gegee. En Christus sal eenmaal alle vyande oorwin. Die goddelose, die antichristelike magte sak inmekaar en val, maar die gelowiges - ook hulle wat hul goed en bloed in die stryd verloor het - sal opstaan en hulle weer oprig. Hulle sal verhoog word en met ongekende heerlikheid gekroon word.

Mag net so die einde van ons gebede ‘n loflied wees op God se grootheid en trou. Gee uiting aan die sekerheid van die verhoring - ook al verkeer jy nou nog midde-in die nood en stryd. Bid sonder ophou. Volhard in die geloof. Onthou: aan Hom behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Die oorwinning is seker.

AMEN

Bron: Kleyn, C. 2005. In die slot van ons gebed gee ons uiting aan ons sekerheid van die verhoring. Aanlyn: https://www.vgk.org.za/preke/24130