Vriendskap: 'n Geskenk van God

In die begin van die Bybel lees ons dat God gesê het dat ‘dit nie goed is dat die mens alleen is nie.’ Daarom het God Eva as vrou vir Adam gegee. Die huwelik is die mees intieme vriendskap. Maar vriendskappe is meer as net ‘n lewensmaat. God het ons as sosiale wesens geskep.

Vriendskap: 'n Geskenk van God
Photo by Chang Duong / Unsplash

Geskryf deur Danelle van der Meer, VGK Pretoria-Maranata

In die begin van die Bybel lees ons dat God gesê het dat ‘dit nie goed is dat die mens alleen is nie.’ Daarom het God Eva as vrou vir Adam gegee. Die huwelik is die mees intieme vriendskap. Maar vriendskappe is meer as net ‘n lewensmaat. God het ons as sosiale wesens geskep. Ons is gemaak om vriendskappe te soek. Dit is ‘n kosbare juweel in ons lewens hier op aarde.

In die boek Spreuke sien ons wat ‘n ware vriend is: 

  • ‘n Ware vriend toon liefde, maak nie saak in watter situasie jy is nie. (Spreuke 17:17) 
  • ‘n Ware vriend gee opregte raad (Spreuke 27:9) 
  • ‘n Ware vriend bestraf, in liefde, wanneer nodig. (Spreuke 27:5-6) 
  • ‘n Ware vriend vergewe en koester geen wrok nie. (Spreuke 17:9)
  • ‘n Ware vriend is lojaal (Spreuke 18: 24)

Dawid en Jonathan is ‘n bekende Bybelse vriendskap waar lojaliteit hoog geag is. Na die dood van Jonathan het Dawid vir hom ‘n lied geskryf as huldeblyk aan sy vriendskap.

Die keuse van jou vriende is baie belangrik, want dit het ‘n groot invloed op jou lewe. Vra jouself af: is hierdie mense besig om my te help groei in my geloof? Soek hulle die beste vir my? Kies jou vriende reg!

Vriendskappe vereis harde werk, maar ook geduld en vergewing. Vra om vergewing, maar wees ook bereid om te vergewe, soos Jesus ons vergewe (Kolossense 3:13). Moet nie ou koeie uit die sloot haal nie.

Eerlikheid en openhartigheid is noodsaaklik in ‘n vriendskap. Om mekaar te vermaan in liefde wanneer die waarheid vertel word, is nie maklik nie. Dit maak seer, maar vriende is daar om mekaar te help en saam te groei as kinders van die Here. 

‘n Mens kan nie met almal ware vriendskappe sluit nie. Dieselfde tyd en energie kan nie aan elke verhouding bestee word nie, maar dit keer ons nie om vriendelik te wees teenoor mekaar en ander nie. Soek diepte in vriendskappe, ondersteun mekaar, luister na mekaar en gee raad. Bid vir mekaar in goeie en slegte tye. Wees ondersteunend. Ons kan ‘n voorbeeld kry uit Jesus se lewe hier op aarde. Hy het 12 dissipels uitgekies en liefgehad, maar met drie het Hy ‘n baie noue band gehad. Volg Sy voorbeeld. 

In Johannes 15:13-15 gee die Here Jesus vir ons die definisie van ‘n ware vriend: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat diensknegte nie weet wat sy heer doen nie. Maar ek het julle  vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”

Jesus het sy lewe gegee, sodat ons weer in ‘n diepe, eerbiedige vriendskap met God kan lewe. Met groot eerbied vir ons Verlosser, kan ons sê dat Jesus Christus ons getroue en grootste Vriend is. Hy sal ons nooit verlaat nie. In jou alleenheid, blydskap, droefheid of grootste vreugde is Hy daar vir jou.

Ons het almal vriende nodig, kies daarom jou vriende reg.

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp