Lies Women Believe: and the truth that sets them free

Meeste van julle het al van die boek gehoor "Lies Women Believe", geskryf deur Nancy DeMoss Wolgemuth. Sy is ‘n Christelike skrywer. Die boek bespreek nege verskillende onderwerpe, met verskillende leuens wat verwant is aan elke onderwerp.

Lies Women Believe: and the truth that sets them free

Geskryf deur Riana Antonides, VGK Bellville

Meeste van julle het al van die boek gehoor "Lies Women Believe", geskryf deur Nancy DeMoss Wolgemuth. Sy is ‘n Christelike skrywer. Die boek bespreek nege verskillende onderwerpe, met verskillende leuens wat verwant is aan elke onderwerp. Daar is baie onderwerpe wat sy in die boek kon plaas, maar DeMoss het besluit om op die nege te fokus wat die meeste vroue as die grootste waarhede beskou.

Regdeur die boek, illustreer Nancy elke leuen deur die oogpunt van Eva. Dit gee die boek ‘n nuwe dimensie en laat mens dieper dink. Dit gee jou die geleentheid om jouself in die skoene te plaas van Eva, en hoe elke leuen ontstaan het deur die sondeval. Met deernis en insig ontleed die skrywer elke leuen wat dikwels in vroue se gedagtes binnedring en verskaf 'n padkaart van die Christelike waarheid, vir die vrou wat die waarheid wil leer ken.

Die boek, wat ongeveer 40 algemene wanopvattings beskryf, daag lesers uit om hulself te konfronteer daarmee. DeMoss se skryfstyl is toeganklik en deernisvol, wat dit maklik maak vir lesers om op 'n persoonlike vlak met die onderwerp te assosieer. Die skrywer put uit persoonlike anekdotes, Bybelse verwysings en verwante werklike scenario's om elke leuen te illustreer. Dit verseker dat die inhoud herkenbaar en boeiend bly.

Een van die sterk punte van hierdie boek is haar vermoë om sensitiewe onderwerpe met grasie en wysheid aan te pak. Daar word elke keer weer teruggekeer na God se Woord om die waarheid vas te stel. DeMoss spreek die reeks leuens aan waarmee vroue dikwels in die samelewing gekonfronteer word, soos dinge wat ons glo oor God, onsself, emosies, kinders, prioriteite en ons omstandighede. Deur hierdie leuens te erken, nooi sy lesers uit om die waarheid te vind in God se Woord en hulself daardeur te bevry van die kettings van die druk in ons samelewing, asook van die  onrealistiese verwagtings wat die wêreld skep. Daardeur stel sy die waarhede weer terug in fokus op God en Sy Woord.

Alhoewel die boek ongetwyfeld bemagtigend is, is dit nie sonder sy beperkings nie. Sommige lesers sal dink dat van die leuens nie van toepassing is op hulself nie. Maar êrens in jou lewe sal jy dalk ‘n vriendin ontmoet wat wel die leuen glo. Dit skep dan ‘n basis waarna ‘n vrou kan terugkeer om die Waarheid aan ‘n ander te leer.

"Lies Women Believe" bied aan lesers 'n kragtige Christelike basis.  Die boek is geskik vir jonger dames en ook vir ouer vroue wat wil groei in kennis van God. Deur elke leuen wat in hul lewens posgevat het, te identifiseer, word lesers aangemoedig om terug te keer na God se Woord. Soos daar geskrywe is in Johannes 8:32: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” En in Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”

"Lies Women Believe" is boeiend geskryf en kan ‘n goeie impak maak op die lewens van die lesers. Nancy DeMoss Wolgemuth se verkenning van algemene wanopvattings bied 'n platform vir vroue om hul self-persepsies te heroorweeg, skadelike leuens weg te gooi en 'n meer Christelike lewenstyl ​​te omhels.

Ons as klein dames Bybelstudiegroepie het die boek saam behandel, en het baie daaruit geleer. Soms tydens voorstudie het ek gedink die hoofstuk is nie so veel op my van toepassing nie, maar by verdere deurdink en bespreking kon mens wel jouself daarin herken.

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp