Hoe beplan ek my dag Christelik?

Ons het almal besige lewens. Van ons moet daarom ons dag deeglik beplan. Maak nie saak wat jy die dag gaan doen nie, jy moet jou dag beplan. So sal die meeste mense se dae min of meer dieselfde lyk.

Hoe beplan ek my dag Christelik?
Photo by Estée Janssens / Unsplash

Geskryf deur Christiaan van Vondel, VGK Bellville

Ons het almal besige lewens. Van ons moet daarom ons dag deeglik beplan. Maak nie saak wat jy die dag gaan doen nie, jy moet jou dag beplan. So sal die meeste mense se dae min of meer dieselfde lyk. As jy byvoorbeeld ‘n student is, sal jou dag min of meer soos myne lyk. Maar die eintlike vraag is, hoe beplan jy jou dag as ‘n Christen? Want as jy daaroor gaan nadink, lyk Christene se dae baie dieselfde as ander mense s’n, of jy ‘n ateïs of Moslem is of enige ander geloof het.

Kom ons vat my dag as ‘n voorbeeld. Ek staan op, eet ontbyt, gaan klas toe, kom terug by die huis, leer, eet dan en gaan slaap. Voordat ek gaan slaap, bid ek eers en lees my devotional vir die dag. Dit is hoe ek my dag normaalweg beplan. Is dit nie al hoe ons ons dag op ‘n Christelike manier kan beplan nie? Nee, daar is nog baie ander maniere hoe ‘n Christen sy dag kan beplan en ek wil vandag  verduidelik hoe.

Goeie dade

Maar hoe moet ons ons dag Christelik beplan? Om gereeld te bid en Bybel te lees is miskien ‘n goeie weg om te volg. Maar ‘n ander ding waaroor ons miskien kan dink, is goeie dade wat ons in ons daaglikse lewe doen. Dit is nie sommer iets wat jy vooruit beplan nie, maar wanneer die oomblik aanbreek om ‘n goeie daad te doen, sal jy dus besluit om te help of nie. In Galasiërs 6:9-10 staan daar: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van geloof”. In eenvoudige woorde, wees vriendelik en bied hulp aan, jy sal daaruit baat. Ek kan aan ‘n paar voorbeelde dink wat jy op ‘n daaglikse basis kan toepas as ‘n jong mens. Praat ‘n bietjie met die persoon wat eenkant sit in jou klas, hulle het hul eie bekommernisse en sal daaruit baat om dit met iemand te deel. Wees vriendelik met jou onderwysers, lektore of kollegas. Wees oor die algemeen respekvol teenoor ander, soos ons geleer is. Een ding wat ons almal ignoreer is bedelaars by die kruising. Al is dit ‘n sekuriteitsrisiko, gee vir hulle van jou kleingeld as dit lyk asof hulle dit regtig nodig het. Jy kan ook by groepe aansluit wat sulke tipe dade doen. Soos die mense wat die rivier skoonmaak om die Here se skepping te bewaar. Goeie dade kan regtig ‘n verskil maak. En al is jy besig, kan jy nog steeds iets kleins doen. Soos dit in die teks staan – ons sal die vrugte pluk van goeie dade.

Bid

Ons almal bid ten minste een keer per dag, op een of ander manier. Baie van ons bid net vir ‘n paar goed en dink nie regtig daaraan nie. Maak ‘n lysie van goed waarvoor jy kan bid, en gaan daardeur voordat jy gaan slaap. My Jeugvereniging-groep stel byvoorbeeld elke week ‘n lys op waar hulle die lede vra vir gebedsversoeke. Al het jy nie tyd deur die dag nie, probeer om dit iewers in te pas, dit sal maksimum 3 minute van jou dag vat.

Hoe beplan jy jou Sondag?

In die tien gebooie staan daar dat jy op die Sabbat (Sondag) moet rus, en geen werk doen nie. Ons moet die dag aan die Here toewy, en dus kerk toe gaan. As ‘n mens sowat 30 jaar teruggaan, was alles toe op ‘n Sondag. In die moderne wêreld is ‘n Sondag net nog ‘n dag van die naweek. Nou hoe moet ‘n Christen rondom hierdie ingesteldheid sy dag beplan? Dit is belangrik om op ‘n Sondag kerk toe te gaan, aangesien ons na die huis van die Here gaan waar sy Woord verkondig word. Maar wat van die res van die dag? Probeer om nie iets te doen wat sal veroorsaak dat iemand anders moet werk nie. Dit wil sê dat jy nie plekke soos winkels of restaurante besoek nie. Probeer om ook nie jou huiswerk te los vir ‘n Sondag nie. Ek kan uit my eie ervaring sê dat dit nie altyd so maklik is om nie op ‘n Sondag te leer nie, maar probeer om nie alles te los vir Sondag nie (op ‘n akademiese vlak is dit ook ‘n goeie idee). Verder is ‘n Sondag ‘n dag om te ontspan en om van jou daaglikse probleme te vergeet. Ek weet dat die meeste huishoudings se roetines op ‘n Sondag verskil, maar ons s’n bestaan gewoonlik uit kuier met familie, kerk toe gaan en van God se natuur geniet. Ek het net die bodem geskraap van die Sabbatdag en kan nog baie verder uitbrei, maar wat ek nou genoem het, is die basiese eienskappe.

Slot

Beplanning van jou dag is eintlik so ‘n belangrike ding. Party mense beplan nie so baie nie, terwyl iemand soos ek my dag fyn beplan. Ek hoop jy het geleer hoe om jou dag te beplan, en op ‘n Christelike manier. Begin sommer môre met die dinge wat ek genoem het. Jy kan iemand se dag maak, jouself gelukkig maak, dit kan jou ‘n gesonde geloofslewe bied en jy sal sommer ook nader aan God voel.

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp