Wie is Unite180?

Hierdie artikel gee 'n oorsig van Unite180 aan die hand van twee praatjies. Die eerste aangebied deur prof. Henk Stoker, en die tweede deur verskeie afgevaardiges van die Gereformeerde kerke in die Pretoria-omgewing wat die geleentheid gekry het om met 'n senior pastoor van Unite180 te praat.

Wie is Unite180?
Photo by Edwin Andrade / Unsplash

Geskryf deur Ds Gerben Meijer, GK Die Kandelaar

In September was daar twee geleenthede waar daar gepraat is oor charismatiese bewegings, onder andere met die fokus op Unite180. Die eerste praatjie is by die Gereformeerde Kerk Oos-Moot aangebied deur prof. Henk Stoker en die tweede praatjie, twee weke later, by Gereformeerde Kerk Die Kandelaar deur myself. Na die eerste praatjie het een van die senior pastore van Unite180 – Willbert Kinnear – die kerkkantoor van Oos-Moot gekontak vir ‘n afspraak. Die gesprek het in die pastorie van Oos-Moot plaasgevind en ek kon self hierin deel. Dit het geleentheid gegee om persoonlik kontak te maak en meer inligting oor Unite180 te bekom. Na aanleiding van die praatjies en die gesprek met Willbert, deel ek graag in hierdie artikel die een en ander oor Unite180.

Die ontstaan van Unite180

Unite180 se wortels lê in die Pinkster Protestante Kerk in Suid-Afrika (PPK). Die PPK is in 1958 gestig en bestaan huidiglik uit ongeveer 220 gemeentes. In 2013 het daar onder leiding van ‘n aantal jeugpastore, deur middel van ‘n kerkplantingsprojek, ‘n nuwe gemeente in Hatfield ontstaan. Dit was die begin van Unite180. Vanaf daar het hulle vinnig gegroei en ontwikkel en ‘n aantal kampusse (kerke) regoor die land opgerig, onder andere in Bloemfontein en Potchefstroom, asook internasionaal (Eindhoven en Londen). Hulle hoofkampus het hulle in die noorde van Pretoria gebou. Die terrein het hulle in 2018 begin ontwikkel teen ‘n koste van R100 miljoen en dit in 2023 amptelik oopgemaak – die plek staan bekend as UniteCity. Ander projekte wat hulle onlangs geloods het, is die bou van ‘n nuwe astro-hokkiebaan by Hoërskool Overkruin ter waarde van R7 miljoen. Hiermee toon hulle aan waarop hulle as kerk gerig is – gemeenskapsontwikkeling en jeugondersteuning. Unite180 is gefokus op jongmense. Volgens berigte het hulle ‘n lidmaatskap van 15000 lidmate waarvan ongeveer 70% onder die ouderdom van 25 jaar is.

Hoe werk Unite180? 

Die leierskap van Unite180 bestaan uit David en Chanelle Grobler (Senior pastore), Louis Paulus (Uitvoerende pastoor en direkteur), Wilbert Kinnear (Uitvoerende pastoor) en Ruan Spies (Pastoor en direkteur). Onder hulle is daar nog 33 ander pastore.

Hoe word iemand ‘n pastoor in Unite180? “In Unite180, the journey to becoming a pastor follows a structured progression within our church. Individuals typically start as uGroup leaders, then advance to area leaders before being considered for the role of pastor. All our pastors followed this process, reflecting a commitment to develop leaders from within.”

Buiten die pastore is daar ook 199 area-leiers en 1176 uGroup leiers. Die leierskapstelsel toon aan hoe Unite180 se program van week tot week lyk. As jy by Unite180 wil inskakel, doen jy dit deur middel van ‘n uGroup. Jy kry drie verskillende groepe: Pre-Teen, Standard en Online. uGroups is klein selgroepe wat almal elke week op dieselfde tyd vergader: Woensdag 19:00. Elke uGroup het ‘n leier en sodra een selgroep te groot word, skei hulle en word twee groepe. As iemand bewys het dat hy goed leiding kan neem as ‘n uGroup-leier en daar onder die persoon se leiding meerdere selle ontstaan het, word iemand ‘n area-leier. ‘n Area-leier hou toesig oor ‘n aantal uGroups. Die uGroup-leiers staan onder toesig van area-leiers, die area-leiers onder toesig van die pastore en die pastore onder toesig van die senior pastore. Die vraag is onder wie se toesig laasgenoemde staan.

Buiten die Woensdag byeenkomste het hulle dienste op Saterdag en Sondag. Besoekers word met hartlikheid ontvang

Come to the new visitor station on Sunday at church and receive a free cappuccino when you download the Unite180 App. Come back for your second visit and receive a free t-shirt!”

Ook het hulle ‘n Bybelskool waar ingeskryf kan word om kursusse te volg. Lede word aangemoedig om by Unite180 uSchool verder te leer.

Wat sê ander oor hulle?

Tydens die gesprek met pastoor Kinnear was een van die punte deur ons uitgelig dat daar bitter min oor Unite180 bekend is. Dit skep heelwat vrae en onsekerhede omdat daar deur ander heelwat aantuigings teen hulle gemaak word. Met ‘n kort soektog op die internet word dit duidelik: sommige beweer dat die groep eienskappe van ‘n kultus vertoon. Dít vanweë hoe alles hiërargies by hulle inmekaar steek. Tipies van ‘n kultus is dat daar ‘n leier is wie se persoonlikheid die groep se oortuiging vorm. Ook eie aan kultiese praktyke is dat lede van hulle families en die samelewing geïsoleer word. Verder is daar ook vrae oor waarheen die finansies van die kerk gaan. Blykbaar is daar agter Unite180 ‘n maatskappy wat die finansies hanteer - hulle werk met ‘n dubbele raad: die een kant geestelik en die ander kant direkteure van die besigheid. In die titelbeskrywings van die senior pastore sien jy dit raak. Ander bekommernisse wat uitgelig is, is die gebrek aan deursigtigheid en die intimiderende manier van evangelisasie.

Wat bely ons?

In ons Nederlandse Geloofsbelydenis bely ons oor die kerk in artikels 27-32. Daarin stel ons dat elkeen verplig is om by die ware kerk aan te sluit. Ons maak ‘n fyn onderskeid tussen die ware en die valse kerk. Ons bely: “Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeëien...Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf…”

Aan die hand hiervan word dit duidelik dat daar kommerwekkende verskille met Unite180 is. Punte waarop ons drasties met hulle verskil is sluit in die buitengewone gawes van die Gees (profesie, spreek in tale, gebedsgenesing). Verder is daar vraagtekens oor die regering van die gemeente: Wie hou toesig oor die prediking, die opleiding en die ampte? Opmerklik is dat Unite180 nie die diakonale amp ken nie. Ons verskil ook van hulle oor die sakramente - die doop is by hulle ‘n bekeringsdoop en nie die verbondsdoop nie. Die doop word ook nie bedien in ‘n erediens nie, maar meestal binne ‘n sel en die bediening van die doop kan ook deur enige ander gelowige gedoen word. Daar is nog heelwat wat verder uitgelig kan word, soos die aggressiewe manier van evangelisasie en die gevoelsmatigheid in hulle godsdiens. Ook blyk dit vanuit hulle optrede teenoor mense wat nie meer ‘n uGroup bywoon nie, dat daar nie sprake van liefdevolle tug is nie, maar eerder harde uitsluiting (straf). In kort is daar heelwat vraagtekens oor hulle praktyke as ons dit meet teen die maatstaf van die ware kerk soos wat ons bely. 

Ten slotte

As jy in kontak kom met iemand van ‘n ander kerk is dit altyd goed om weer na binne te kyk, om seker te wees van wat ons saam glo en bely oor die kerk van die Here. Met dit as vertrekpunt kan jy meestal opbouend met iemand anders in gesprek tree. Kom dit by die charismatiese kerke, dan is dit belangrik dat jy self weet en kan vertel hoe die Heilige Gees in jou lewe en in ons kerke werk, watter rol gevoel in jou geloofslewe speel. Mag ons met vrymoedigheid as gereformeerdes hiervan getuig, Dít terwyl ons vashou aan dit wat die Here ons in sy Woord leer: “wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees.” (1 Petrus 3:15)