Weet mense ek is 'n Christen?
As jy nou al die mense rondom jou gaan vra of hulle weet dat jy ‘n Christen is, wat sal hulle antwoord wees? Sal hulle ‘n definitiewe JA sê, of sal hulle huiwer? As ons na ons alledaagse lewe kyk, moet ons onsself afvra of ons waarlik die lig van Christus uitstraal in alles wat ons doen.
Geskryf deur Brendan Aartsma, VGK Bellville
As jy nou al die mense rondom jou gaan vra of hulle weet dat jy ‘n Christen is, wat sal hulle antwoord wees? Sal hulle ‘n definitiewe JA sê, of sal hulle huiwer? As ons na ons alledaagse lewe kyk, moet ons onsself afvra of ons waarlik die lig van Christus uitstraal in alles wat ons doen.
Ons leef in ’n wêreld waar geloof dikwels stilgehou word, asof dit iets persoonliks is wat nie te veel aandag moet kry nie. Dikwels is ons bang om op te staan vir ons geloof, bang vir die gevolge om daaroor te praat en dat dit “uncool” of “cringe” gaan wees. Soms besluit ons om die onderwerp van geloof net heeltemal te vermy sodat ons nie gekonfronteer word nie, dan hou ons die geloof by die kerk en leef soos die wêreld in die res van ons lewe. ‘n Lig is gemaak om in die donkerte te skyn, en Jesus vra van ons om ons lig te laat skyn vir die mense om ons Vader te verheerlik.
Om jou lig te laat skyn beteken nie noodwendig dat jy op elke straathoek hoef te preek of Bybelverse op sosiale media hoef te deel nie. Dit gaan oor die manier waarop jy mense behandel, oor hoe jy praat, optree en reageer, selfs wanneer niemand kyk nie. Dít is waar mense die lig begin raaksien.
Ons dink dikwels dat om ons “lig te laat skyn” groot dinge vra – sendingwerk, liefdadigheidsprojekte of iets wat almal kan sien. Maar meestal gebeur dit in ons alledaagse lewe. Dit is wanneer jy kalm bly in ’n moeilike situasie, of vriendelik is teenoor iemand wat jou sleg hanteer het. Dit is wanneer jy eerlik bly in ’n wêreld waar almal die maklike, breë pad vat.
Om Christenskap uit te leef, is nie om altyd reg te wees nie, dit is om ander mense te laat voel dat hulle gesien, gehoor en waardeer word. Dis wanneer jou gesindheid God se liefde weerspieël, selfs al sê jy niks direk daaroor nie.
Om jou geloof uit te leef, veral in vandag se wêreld, kan moeilik wees. Mense verstaan dit nie altyd nie, en soms voel dit net makliker om stil te bly. Maar, die mooi ding is, die lig wat in jou skyn, kom nie uit jouself nie, dit is God se lig in jou. Ons hoef nie perfek te wees om God se liefde uit te straal nie. Inteendeel, dit is juis in ons swakheid waar mense sien hoe God se genade werk. As jy struikel, staan weer op. As jy moeg voel, vra vir krag. Dis nie jou eie lig wat skyn nie, dit is Syne deur jou.
My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk. - 2 Korinthiërs 12:9-10
Ons hoef nie altyd groot dinge te doen om ’n verskil te maak nie. Soms is dit jou glimlag vir iemand wat af voel, jou gewilligheid om te help, of jou keuse om vrede te maak eerder as om reg te wees. Só wys ons vir mense wie Christus is, nie net deur ons woorde nie, maar ook deur hoe ons leef.
So dalk is die vraag nie net: “Weet mense dat ek ’n Christen is?” nie, maar eerder: “Sien hulle iets van Christus in my?” Wanneer ons elke dag met hierdie ingesteldheid leef, begin ons wêreld stadig maar seker ligter word.