Wat bid ons as ons sê: laat U Koninkryk kom?

Wat is die eerste gedagte wat in jou kop opkom as jy aan ʼn soldaat dink? Ek sien ʼn soldaat wat gereed staan met sy harnas en spies om, vir ʼn sekere doel, te verdedig of aan te val. Sien ons die gevaar raak en trek ons die VOLLE wapenrustig aan?

Wat bid ons as ons sê: laat U Koninkryk kom?
Photo by Ivana Cajina / Unsplash

Geskryf deur Antoinette Groenveld, VGK Pretoria

Wat is die eerste gedagte wat in jou kop opkom as jy aan ʼn soldaat dink? Ek sien ʼn soldaat wat gereed staan met sy harnas en spies om, vir ʼn sekere doel, te verdedig of aan te val. Ons as Christene word beveel om die volle wapenrusting van God aan te trek. Sien ons die gevaar raak en trek ons die VOLLE wapenrustig aan? Of is ons bangbroeke of verraaiers? Stry ons genoeg vir die waarheid by die universiteit, werk of skool? In verband hiermee, bid ons, “laat U Koninkryk kom.” Dit is ‘n versoek aan God wat heelwat inhou.

Eerstens word ons gebruik as Sy soldate om Sy koninkryk uit te brei. Twyfelaars of verraaiers is gevaarlik vir die inval. As die Opperaanvoerder dit nodig vind om te stry vir die waarheid, moet ‘n solaat daarvan oortuig wees. Christus wil ons lewe regeer en jy moet jou aan Hom onderwerp. Die wapens wat Hy vir ons gee is Sy Woord en Gees. Ons as soldate word deur hierdie twee middele opgelei en voorberei vir die stryd. Hy deel Sy strategie vir ons en verduidelik vir ons hoe om te lewe. Die Onse Vader gee ons ʼn patroon hoe om te leef. Gebed is nie ʼn aparte deel van ons lewens nie, maar dit is hoe ons tot aksie kom. Om gehoorsaam aan Hom te wees, moet ons onsself aan Hom onderwerp. As gevolg van die sonde doen ons dit nie van harte nie. Daarom moet ons die ou mens afsterf en in die nuwe mens lewe. Ons moet deur Sy krag, onsself daagliks vernuwe.

“Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
- Johannes 3:3 

Uit ons sondaar oogpunt staan ons verbaas hoe die kerk nog steeds bestaan. Psalm 127:1 gee ons vertroue dat God Sy kerk deur die eeue bewaar en vermeerder: “As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” Die kerk is die begin van herstel van Sy koninkryk. Hy vernietig die mag van die duiwel. Die kerk word egter nog omring deur ʼn vyandige gebied. Daarom moet ons bid dat Hy die kerk (gelowiges) bewaar. Ons, die lede van die kerk, moet onsself ook afvra: Hoe lyk ons lewensstyl in ‘n vyandige (geestelike) gebied wat nie gehoorsaam aan Christus se koninkryk is nie? Hierdie is ʼn onvaste stad en dit gaan omval. Of probeer jy, deur die krag van die Heilige Gees, die versoekings te weerstaan om jou lewe rein te bewaar? Stel jy dit in diens van God se koninkryk omdat jy aan Sy kerk mag behoort? Gebed en vertroue op God is nodig vir die bewaring en vermeerdering van die kerk.

Derdens moet ons bid dat die werke van die duiwel vernietig word. Ons moet bid dat God ons oë sal oopmaak om die duiwel se valstrikke raak te sien. Ons moet ook bid dat die heerskappye wat hulle teen Christus gedraai het, vernietig word. Die duiwel se strategie begin baie keer met iets wat mooi en onskuldig is. Maar sy doel is dodelik. Iets soos ʼn film, wat jou geloofslewe negatief kan beïnvloed. ‘n Taktiek daarteen is om van die gevaar bewus te wees en dit positief aan te val. Om die Bybel te lees en tyd te maak vir die goeie, sodat daar nie meer tyd vir die slegte is nie. Dan kry jy ook ʼn weersin in die slegte, en aan dit wat grens aan sonde. Sorg daarom dat jy ‘n warm en toegewyde verhouding met God het, dit help dat jy Sy gawes verantwoordelik kan gebruik. Jy moet ʼn bewuste keuse maak, want dit beteken nie dat jy nou outomaties voor God reg staan omdat jou voorouers reg gekies het nie. Is jy bereid om jou lewe onder God se gesag te plaas of glo jy die duiwel se leuens?

Vierdens moet alle bose planne wat teen die Woord bedink word, vernietig word. Die satan kry dit reg om tot in die hart van die mens te infiltreer. Een voorbeeld hiervan is dat mense hulself op dieselfde vlak van gesag as die Bybel plaas en niemand hulle mag kritiseer nie. Vroeër was die Bybel in Latyns en die pous in die Roomse kerk het gesê dit is te moeilik vir die gewone mense. Net die priesters en biskoppe mog die Bybel aan die mense verduidelik. Hoe ʼn groot armoede is dit nie! As gevolg van die onverstaanbare taal kon mense die Woord nie deel van hulle daaglikse lewe maak nie. Die groot gevaar hiervan is dat die pous dieselfde gesag as die Bybel gekry het. As jy jou Bybel lees, spreek die Heilige Gees direk tot jou. 

Laastens word ons getroos dat ons Generaal se planne vas staan en Hy sal oorwin. God se koninkryk sal seëvier oor die duiwel se ryk (Romeine 16:20). Elke nasie sal aan Hom verantwoording moet doen. Hy sal op die wolke terugkom en geen wêreldse ryk sal voor Hom kan bestaan nie. Satan het nie ʼn plek in God se vrede nie.

“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”
- Romeine 8:38-39

God verander ons ingesteldheid, Hy maak ons medestryders in Sy koninkryk. As medestryders bid ons met reikhalsende verlange, vir die koms van die koninkryk, wanneer God alles in almal sal wees (1 Korinthiërs 15:28). Hierdie toekoms verwagting gee ons hande en voete vir ons lewe. Ons mag diensbaar wees om Sy koninkryk op te bou. 

Bronnelys

  • Ds. M.J. Booyens. 2007. Laat My Lammers wei.
  • PG Boon. 2013. Sondag 48: Medestryders bid vir die koms van die koninkryk.  https://www.vgk.org.za/preke/24714
  • J Bruintjes. 2020. Die gebed van die Christen. https://www.vgk.org.za/preke/25859