Ware Liefde
“En nou bly geloof, hoop en liefde – hierdie drie, maar die grootste hiervan is die liefde.”
1 Korinthiërs 13:13
Soos ons hierdie reeks begin het, sluit ons dit ook so af. Geloof en hoop het werklik liefde nodig om tot aksie oor te gaan; daarom is liefde die belangrikste van die drie komponente.
Geliefdes, God is liefde. Liefde is uit God, en daarom moet ons mekaar liefhê sodat ons God meer kan ken (1 Johannes 4:7–8). Wanneer ons God vergeet, beweeg ons weg van ware liefde. Liefde is die grootste gebod.
In Mattheüs 22:37–39 beveel Jesus: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en grootste gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
As jy na hierdie verse kyk, sien jy dat God ons geskape het sodat ons mekaar kan liefhê en Hom kan ken. Sy grootste liefde aan sy kinders is dat Hy sy enigste Seun, naamlik Jesus Christus, gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16).
Dis hoekom ons God moet liefhê, want om Hom lief te hê gee ons versekering van die ewige lewe. Verder, as ons kyk na die tweede gebod wat hiermee gelykstaan — om jou naaste lief te hê soos onsself — beteken dit dat ons iemand anders se belange voor ons eie stel.
Wie is dan ons naaste? Dit is die mense om jou: jou vriende, familie, bure, die mense saam met wie jy werk, die kerk, ensovoorts. Dit is dus mense wat jy ken. Ook die mense wat jy nie ken nie, moet jy liefhê.
Ons as mense sukkel daarmee om ons naaste lief te hê. Dit gebeur wanneer iemand iets verkeerd aan jou gedoen het, byvoorbeeld, as iemand jou geslaan het en jy neig dan om terug te slaan. Na so iets gebeur het, het jy al gestop en nagedink wat Christus in hierdie tipe situasie sou doen?
“Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet julle vyande liefhê en goed doen aan dié wat vir julle haat” (Lukas 6:27).
Dit is wat Jesus Christus sê wat ons moet doen. Om ons naaste lief te hê sluit ons vyande in — die mense wat kwaad aan ons gedoen het. Christus verduidelik hierdie prentjie deur die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Lukas 10:25–37). Die Samaritaan het ’n Joodse man gehelp, al was hulle groot vyande in daardie tyd.
In vandag se tyd kies ons soms om die Leviet en priester te wees en nie die barmhartige Samaritaan nie. Onthou, ons het gesê dat God liefde is. As ons nie God kies of in Hom glo nie, dan is liefde sinloos. Liefde kan nie van God geskei word nie en kan nie sonder Hom bestaan nie.
Dit bring ons dan by die wêreld se siening van liefde. In 2 Timotheüs 3:2–4 sê Paulus vir ons dat daar mense is wat liefhebbers van genot is in plaas van liefhebbers van God. Alles word bo God gestel — dit is ook ’n siening van liefde wat eerder eer aan sonde gee as aan God. Die wêreld baseer liefde op emosies; liefde gaan egter nie net oor emosies nie. Liefde is aksie en hoe ons ander mense hanteer: om vir die armes te sorg, om iemand te bel wat nie ’n goeie dag gehad het nie, om iemand te besoek wat siek is, ensovoorts.
Ons moet oppas vir die perspektief dat ons dink ons beter is as mekaar of dat God nie die ons ewe liefhet nie. ’n Goeie prentjie hiervan is die gelykenis van die verlore skaap in Lukas 15:1–10, waar die man een skaap gaan soek het wat weg en verlore was uit die honderd. Hy was vol blydskap toe hy die skaap gevind het.
Vers 10 sê: “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”
Uit hierdie prentjie sien ons dat Jesus Christus werklik omgee oor die sondaar, en ons sien dus dat Hy jou en my as individue liefhet.
Geliefdes, ware liefde kom van God, en as ons nie ware liefde het nie, ken ons nie God nie. Ons moet daarop reageer deur ’n lewe van ware liefde te leef onder die krag van ons Here Jesus Christus. “Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof” (1 Timotheüs 1:5).
Hierdie beklemtoon dat ware liefde gegrond is in die suiwerheid en opregtheid van ‘n mens se hart. Net so moedig 1 Petrus 1:22 gelowiges aan om mekaar dieper te lief te hê vanuit 'n suiwer hart, wat die idee versterk dat liefde 'n weerspieëling is van iemand se innerlike toestand. Jy kan nie ‘n mens se hart opereer of x-strale gaan doen om vas te stel wat liefde is nie. Liefde is ontasbaar en nie fisies nie. Ons harte word daarom deur die Heilige Gees vernuwe sodat ons deur God se liefde in Christus mag lewe.
Gebed
Ons almagtige hemelse God en Vader, ons dank U, Here, vir U groot liefde.Ons dank U dat ons redding mag ontvang deur die bloed van Jesus Christus.Ons vra, Here, dat ons ons naaste mag liefhê — ons vyande ook ingesluit.Ons bid, Here, dat ons soos die barmhartige Samaritaan kan wees. Ons vra, Here, dat ons kan vergewe net soos U ons vergewe het.
In Christus bid ons dit.Amen.
Coram Deo
Vanweë die liefde van God is daar hoop vir ons om gered te word, en deur geloof in God word ons gered.
Bronne en Vedere Studie
- 1 Korinthiërs 13:4-13
- 1 Johannes 4:7-21
- https://learn.ligonier.org/guides/love
- https://learn.ligonier.org/articles/true-love-2
- https://youtu.be/KX70iu8bmM0?si=cTUqxOSaK3X6_OF1
- https://youtu.be/R3TnRwDVjlg?si=v8HvpP7INFycVG1l
Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Maranata