Volharding tot die einde
As jy dink aan die woord “volharding”, dan dink mens direk aan verskillende voorbeelde om dit te verstaan: studies, sporte, geloof, en terugslae. Hoekom werk ons hard om studies te voltooi, ‘n marathon te doen, te groei in geloof, en hoopvol te bly wanneer die golwe van die lewe ons omgooi?
As jy dink aan die woord “volharding”, dan dink mens direk aan verskillende voorbeelde om dit te verstaan: eksamens en studies, sporte, geloof, vervolging en verdrukking, terugslae, ens. Hoekom volhard ons in hierdie dinge? Hoekom werk ons hard om studies te voltooi, ‘n marathon te doen, te groei in geloof, en hoopvol te bly wanneer die golwe van die lewe ons omgooi?
Volharding beteken dat ons hoop op iets in die toekoms, en daarnatoe werk met verwagting. Meestal is dit nie ‘n reguit lyn tot die uitkoms nie, maar met die wete dat God alles ten goede sal laat meewerk (Romeine 8:28), mag (en moet) ons volhard. Dit is belangrik om te let op “die wete dat God alles ten goede sal laat meewerk” — dit gee ons versekering, maar ook vertroue en geduld in God se raadsplan. Volharding kort dus versekering dat die vooruitsig haalbaar is. Maar waar kry ons die versekering?
Menslik is ons swak: ons gee op as dinge moeilik raak en die vooruitsig mistig raak. Dit bring ons tot ‘n nederige besef dat ons God nodig het om ons die pad te wys. Dawid het gevlug vir sy lewe, maar in sy benoudheid en onsekere toekoms het hy God gesoek (Psalm 22:3), sekerheid gevind (Psalm 23:1), en op Hom vertrou (Psalm 108:14). Dawid het die belofte gehad dat hy koning oor Israel sou word (1 Samuel 16), maar hy moes volhard tot die einde om die kroon te ontvang. Vir ons wag daar ook ‘n kroon: die kroon van die nuwe hemel en aarde. Openbaring 3:10 gee vir ons die versekering dat God ons sal bewaar tot op die dag wat Hy terugkom.
God voltooi wat Hy begin
In Openbaring 22:13 staan daar dat God die Begin en die Einde is. Wat beteken dit vir ons? Fillipense 1:6 sê dat Hy voltooi wat Hy begin. Die mooiste (en belangrikste) voorbeeld is die koms van die Messias wat direk na die sondeval aangekondig is (Genesis 3:15), en ‘n paar duisend jaar later ‘n realiteit geword het (Mattheus 1:18-25): God het mens geword en onder ons kom woon (Johannes 1:14)! Volgens die belofte in Jesaja 53 het Hy vir ons sondes aan die kruis gesterf (Mattheus 27:32-56) en opgestaan uit die dode (Mattheus 28:1-10).
Na sy opstanding vaar Hy op na die hemel en gaan sit aan die regterhand van God (Handelinge 1:1-14). Die manne, wat daar was, kry ‘n opdrag en ‘n versekering: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Mattheus 28:19-20). Die wonderlike versekering dat Christus met ons is tot die einde toe, gee vir ons die sekerheid dat ons, met volharding, kan wag op dit wat ons nie sien nie (Romeine 8:25). Mattheus 28:19-20 wys ons ook op die direkte korrelasie tussen die doop en God se nabyheid. Die doop is vir ons “‘n betroubare pand en ‘n kosbare seël” dat God ons in genade aanneem en met ons is tot die voleinding van die wêreld (Doopsformulier). Die kinderdoop is ‘n voorbeeld dat God sy wonderbare werk in ‘n klein en nietige mens begin, en nie die mens uit eie keuse nie.
Volharding in die Kerk
Die Galilése manne, wat by Christus se hemelvaart was, draai hulle om en gaan die wereld in: kerke word gebou op die onverganklike Hoeksteen (1 Petrus 2:6), daar word volhard in die leer van die apostels (Handelinge 2:42), en die onuitblusbare vlam van die Evangelie word gedra (Handelinge 4:19-20).
Maar, soos die saad van die evangelie gesaai word, val die saad langs die pad, op rots, tussen dorings, en op goeie grond (Lukas 8:4-15). Die ryk jongman het bedroef geraak toe hy gehoor het dat hy al sy besittings moes verkoop om Christus te volg — hy was nie bereid om die prys vir Christus te betaal nie. Alhoewel God voltooi wat Hy begin, is ons ten volle deel van ons eie wedloop. In Lukas 14:25-27 vermaan Christus ons om af te sien van ons aardse lewe, ons kruis op te neem en Christus te volg. Is jy bereid om vir Christus te sterf?
‘n Muur van valse sekerheid word deur God afgebreek
Petrus was bereid om vir Christus te sterf (Lukas 22:33), maar hy het op homself vertrou om nie in sonde te val nie. Dawid het owerspel gepleeg (2 Samuel 11) en die volk getel om sekerheid te kry van sy oorlogsvermoë (2 Samuel 24). Beide het die sekerheid gehad dat dit wat hulle doen reg was, maar Petrus was deur Jesus self en Dawid was deur die profete Natan en Gad gewys op hul sondes.
Tot die einde toe gaan ons teen die sonde moet stry (Romeine 7) en ons gaan nie altyd ons eie sondes kan raaksien nie. Gemak seëvier gereeld wanneer ons voor ‘n keuse staan. Dit bring ons valse sekerheid en daarvoor kort ons accountability van medegelowiges — mense wat moeilike vrae vra. Daarenteen moet ons ook ag gee op mekaar in liefde en mekaar tot goeie werke aanspoor (Hebreërs 10:24). In verskeie briewe van Paulus bid hy onophoudelik vir sy medegelowiges (o.a. 1 Thessalonicense 1:2-3). In Paulus se gebede soek hy die beste vir sy medegelowiges tot opbou van God se koninkryk (Mattheus 6:33), nie vir homself nie.
Gelowiges se oë is gevestig op Jesus wanneer hulle saam die wedloop hardloop (Hebreërs 12:2). Hierdie driehoek wat tussen onsself, Christus en medegelowiges vorm kan nie maklik verbreek word nie (Prediker 4:12). Hebreërs 12:1 noem dit selfs ‘n wolk van getuies rondom ons — mense wat saam met ons leef en groei in geloof.
‘n Wedloop om te hardloop met sekerheid
(Meestal) wanneer ons sien dat die verkeerslig groen word, mag ons met sekerheid ry. God gee ons ook die groen lig deur sy genade, en wanneer ons dit in ons lewe raaksien, mag ons met sekerheid (voluit) die wedloop hardloop tot die einde toe. Maar, God laat ons nie agter as ons in die verte verdwyn met die wedloop nie — die Heilige Gees woon in ons en is met ons tot die einde toe. Wanneer ons van die pad afdwaal mag ons weet dat die Goeie Herder (Johannes 10:14) ons met sy staf sal teruglei na waters waar rus is (Psalm 23). Ons hoef nie bevrees te wees nie, want God het ons op ons naam geroep, en ons is syne (Jesaja 43:1)!
Met dit alles, wyk af van die sonde wat jou volharding en sekerheid onderdruk (Hebreërs 10:22), verdiep jou in die Woord en persoonlike gebed, bid vir jou medegelowiges en ondersteun hulle, jaag na die einddoel toe met sekerheid (Fillipense 3:12), en “laat jou hart sterk wees; ja, wag op die Here!” (Psalm 27:14). Deur dit mag jy seker wees dat “geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39).
Hierdie artikel is ‘n gedistilleerde weergawe van die drie lesings wat by Kongres 2025 gehou was deur Ds Pieter Boon (VGK Pretoria-Maranata), Ds Dirk-Maurits Boersema (VGK Johannesburg), en Ds George Mnisi (FRC Nellmapius). Dit sluit ook oordenkings in wat deur verskeie jeuglede gedoen is (Arjan Boon, Cornel Begemann, Ben Bunk). Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata.