Vaste Hoop
As ’n klein kind hoop jy dat eendag, as jy ouer word, jy nie probleme sal hê nie en dat jy goed sal kan lewe. Ons sien hier die verkeerde denkwyse van hoop — en nie net by kinders nie, maar ook by ouer mense.
Lees 1 Petrus 1:1-12
As ’n klein kind hoop jy dat eendag, as jy ouer word, jy nie probleme sal hê nie en dat jy goed sal kan lewe. Jy het byvoorbeeld die denkwyse: “Ek hoop ek word eendag ryk sodat ek nie arm word nie”, “Ek hoop ek trou met ’n baie mooi vrou,” of “Ek hoop dit donderweer nie vandag nie, anders gaan ons nie kan sokker speel nie.” Ons sien hier die verkeerde denkwyse van hoop — en nie net by kinders nie, maar ook by ouer mense.
As mense het ons sondige gedagtes wat oor en oor opkom. Hierdie sondige gedagtes kom alles uit ons eie sondige harte. Ons kort ’n nuwe hart en ’n nuwe siel. Dis hoekom ons die verkeerde denkwyse van hoop in die algemene lewe het. Natuurlik wil meeste mense suksesvol wees in hul toekomstige lewe, maar dis net God wat dit bepaal. Ons weet nie hoe ons lewe gaan uitdraai nie. God alleen ken ons toekoms.
Die enigste Christelike versekering vir die toekoms is die ewigheid na my tyd hier op aarde en dit is die vaste hoop; die hoop van ewige lewe. Ons het sekerheid dat ons na hierdie lewe op aarde, saam met Christus sal wees in die hemel en dit is waarop ons gaan fokus in hierdie oordenking - die vaste hoop in Jesus Christus.
In die vorige oordenking het ons op geloof gefokus — dat ek in die Here Jesus Christus kan glo. Ons het dit gebaseer op die bewyse wat Hy gee in sy Woord. As ek ’n gebrek aan geloof in Christus het, het ek nie vaste hoop in Hom nie. So die vraag is: waarop moet ek my vaste hoop sit? Hoe kan ek ’n lewende hoop hê?
Soos ons in die eerste oordenking gesê het, is hoop ’n anker vir die siel, veilig en vas (Hebreërs 6:19). En wie is dan ’n anker vir die siel? Jesus Christus is. Hy is die anker vir my en jou wat vas en veilig is. 1 Petrus 1:1-7 gee vir ons ’n baie mooi verduideliking van lewende hoop.
Eerstens, deur God se barmhartigheid het ons die wedergeboorte tot ’n lewende hoop ontvang deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood (vers 3). God was so genadig en lief vir ons dat Hy sy Seun, Jesus Christus, gestuur het sodat ons deur Hom gered kan word.
In vers 4 verduidelik Petrus vir ons die rede waarom ons ons vaste hoop in die Here moet stel. Dit is dat Hy ’n plek vir ons in die hemel het. Geliefdes, my en jou plek in die hemel is deur God verseker en bewaar. Jesus Christus bied die ewige lewe aan dié wat in Hom glo. Dit is hoekom daar hoop vir elke gelowige is.
Die probleem is, geliefdes, dat baie mense oorweldig is deur die lewe — hulle voel hopeloos en dink dat dinge nie beter sal gaan nie. Dit is mense wat byvoorbeeld angs, depressie of selfmoordgedagtes het. Die meeste van hierdie mense kom uit moeilike omstandighede en omgewings. Mense baseer hoop op verkeerde dinge, soos om dwelms te verkoop om meer geld kan kry om ‘n pa te help wat siek is, of prostitute wat hoop om meer geld te maak deur betrokke te raak by seksuele aktiwiteite. Daar is soveel meer dinge waarop ’n mens sy hoop verkeerd baseer. Paulus sê vir ons in Kolossense 3:2: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Dit is ’n oproep om ons gedagtes in lyn te bring met hemelse, ewige en Christus-gesentreerde waardes, eerder as om deur tydelike aardse bekommernisse verteer te word. Jou hoop op sonde kan jou nie vry maak van wat jy verloor het of ’n moeilike tyd nie. Dit gaan jou vrymoedigheid stukkie vir stukkie vernietig.
Geliefdes, hoop word geskep deur die Heilige Gees binne in ons. Dit is die versekering dat God sal doen wat Hy sê Hy sal doen. Petrus sê verder vir ons in verse 5 tot 7: As gevolg van hierdie onwrikbare vertroue in die verlossing wat God vir ons in Christus bewerk het en vir ons sal aanhou bewaar tot die laaste dag, moet die Christelike lewe gekenmerk word deur blydskap — selfs te midde van intense probleme en beproewinge.
Ons word opgewek tot die nuwe lewe saam met Jesus Christus (Romeine 6:3-4). Ons sal van nou af as nuwe skepsels leef totdat ons sterf en die ewige lewe saam met Hom het.
Ons het hoop omdat ons ons primêre geestelike vyande kan oorwin, naamlik die duiwel, die wêreld en ons sondige natuur — ons vlees (Heidelbergse kategismus Sondag 52). Maar die dood is ons laaste vyand wat ons moet oorwin (1 Korintiërs 15:26). Ons kan na die hemelse stad gaan wanneer ons hier op aarde sterf.
Soos ons gesê het: Christelike hoop is vaste hoop, gebaseer op Jesus Christus — die hoop dat God sy beloftes sal vervul.
“Die Here sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie. Daar sal ook geen rou of gehuil of pyn meer wees nie, want alles het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Ons het hoop as gevolg van dit wat Hy belowe het en dat ons daardeur die uiteindelike oorwinning oor sonde en kwaad sal behaal.
Gebed
Vader in die hemel, wat ’n voorreg is dit dat ons u kinders mag wees. Ons is dankbaar dat U ’n God is vol barmhartigheid en liefde. Ons vra, Here, dat U ons sal help om in U te glo en dat ons nie ons hoop op sonde sal plaas nie, maar slegs op Jesus Christus, ons anker en ons vaste hoop. Ons sien baie daarna uit om in die hemelse stad fees te vier met ons Verlosser, Jesus Christus. Help ons, Here, dat ons slegs in Hom mag glo. Ons bid dit alles in Christus se Naam alleen. Amen.
Coram Deo
My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort. Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop. Hy is my anker, my vaste hoop. Ek behoort nou aan Jesus — niks sal my ooit van Hom kan skei. Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop. Hy is my anker, my vaste hoop (Lied 292).
Bronne en vedere studie
- https://www.ligonier.org/learn/articles/the-role-of-hope-in-the-christian-life
- https://www.ligonier.org/learn/articles/living-hope
- https://www.ligonier.org/learn/articles/10-reasons-hope-when-all-seems-hopeless
- https://youtu.be/DYOWL9dw6kM?si=J8P0aeElTw5P49vi
Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Maranata