Van Apatie na Ywer: Lewe uit Christus

Dit is nou alles goed en wel dat ons besef waarmee ons sukkel. Soms een of soms meer van die dinge wat ons in deel 1 genoem het of dalk iets anders nog. Maar hoe werk ons daarteen? Hoe verander ons van apaties lewe na ywerig lewe?

Van Apatie na Ywer: Lewe uit Christus
Photo by Liana S / Unsplash

Hierdie artikel is deel 2 van 2. Deel 1 kan hier gelees word.

Dit is nou alles goed en wel dat ons besef waarmee ons sukkel. Soms een of soms meer van die dinge wat ons in deel 1 genoem het of dalk iets anders nog. Maar hoe werk ons daarteen? Hoe verander ons van apaties lewe na ywerig lewe? Ons moet eerstens besef dat ons dit nie oornag gaan regkry nie. Dit is die manier waarop ons lewe - die gewoontes wat ons het. Daar is twee dele in die antwoord. Eerstens, en die belangrikste, is die antwoord wat ons uit die Bybel kry. Dit help ons ook dan met die tweede gedeelte, naamlik hoe ons ons daaglikse lewe moet verander.

Eerstens kom ons hoop uit die Bybel. In Jesaja vind ons twee mooi gedeeltes wat ons hoop en vertroosting gee; Jesaja 53:4-6:

“Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” 

Asook Jesaja 57:18:

“Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges”. 

Jesus het self ook gesê Hy kom vir die siekes en die sondaars om Sy lewe vir hulle af te lê. Jesus is met ons. In Hom kan ons ‘n oplossing vir al ons redes teen ‘n apatiese lewe vind. 

In twyf vind ons sekerheid, ons kan Sy voorbeeld volg en anwoorde uit Sy Woord kry. In tye van smart en hartseer mag ons rus en hoop by Hom kry. Alles sal ten goede uitwerk.

Wanneer ons baie besig is met onbenullighede en onseker is oor wat ons prioriteite moet wees, mag ons weet: as ons op Hom gefokus is en Hom ons eerste prioriteit maak, sal Hy met ons sal wees en ons lei vir die res van ons lewe.

Ook in tye wanneer ons onvoldoende voel mag ons weet dat al sien die hele wêreld dit nie, dit wat ons tot eer van Sy naam doen, sal betekenis hê. Hy sal ons ook begelei in situasies waar ons so voel.

Wanneer ons in situasies beland, wat wanneer ons dit vermy, ons broos laat voel, mag ons weet dat ons die situasie met Hom kan aanpak. Al beteken dit swaarkry, is ons nooit alleen nie. Dit maak ons net sterker.

Ons het ‘n doel en dit is om God te verheerlik in alles wat ons doen. En ons moet ons lewe so aanpak. In alles wat ons doen moet ons gefokus wees daarop. Van die klein goed soos Bybel lees en bid tot kerk toe gaan op Sondae. Ons lees in Romeine 8:5: “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.” So moet ons geestelike dinge bedink elke dag wat ons lewe.

So mag ons hulp en antwoorde uit die Bybel kry op al ons redes om apaties te lewe. Maar tog gaan ons lewens aan. Ons gaan skool, universiteit of werk toe elke dag. Ons het die kennis, maar tog sukkel ons steeds daagliks. Hoe kan ons dit verander?

Dit gaan oor die gewoontes wat ons het en die tyd wat ons spandeer het om dit aan te leer. Dan moet ons gewoontes kweek wat dit sal verander, gebaseer op die Bybel. Ek het 4 dinge waarop ek kortliks wil fokus:

1) Eerlikheid. Wees eerlik met jouself, maar ook met ander rondom jou. Dis waarvoor die gemeenskap van die gelowiges daar is. “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16). Daar mag dalk ander mense wees wat met soortgelyke dinge sukkel en hulp kan bied. Dit is wel belangrik om seker te maak dat die gemeenskap waarin jy is dieselfde geloof en doel het.

2) Aanhanklikheid. Spandeer meer tyd met God. Hang Hom meer aan. Dit begin by klein dinge. Probeer stil te word op seker tye deur die dag om vir ‘n paar oomblike net al jou aandag op Hom te rig. Stop alles wat jy doen: Werk, studies, musiek, alles. Raak net vir ‘n paar oomblikke heeltemaal stil. Moet nie daarby stop nie. Luister, kyk of lees na meer dinge wat jou motiveer om meer tyd aan Bybelstudie te spandeer. Probeer altyd meer tyd aan Bybelstudie spandeer. 

3) Vrygewigheid. Dit is soos ‘n skat in die hemel, soos Jesus sê in Matthéüs 6:20-21: “maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” Of dit nou ons tyd, geld of aandag is, of om uit te reik na ander en die liefde wat ons as Christene ervaar te mag deel, help ons self ook om rigting te vind asook om te sien hoe ons aksies ander kan bemoedig.

Dan ten slotte, 4) Wegbreek van die aardse dinge. Dit behels basies die eerste drie dinge in een. Bly nader aan God groei. Probeer meer tyd spandeer in die Bybel om sekerheid te kry van jou oortuigings en waardes. Probeer dit ook in alles wat jy doen toe te pas. Ons doel om God te verheerlik moet altyd ons eerste gedagtes wees. Ons lewe beteken iets vir God en so moet ons ook deur die lewe gaan.

Al sal die stryd teen apatie altyd bly en ons steeds struikel, bly Hy getrou deur ons met Sy Woord en Gees te vorm. Daarom leef ons nie langer apaties nie, maar mag ons daarna streef om dankbaar en toegewyd tot eer van God alleen te leef.

Geskryf deur Ben Bunk, VGK Pretoria