Vakansie en rus (Matthéüs 11:25-30)
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” - Matthéüs 11:28
Ons nader nou die einde van 2025. Die skole en universiteite het al gesluit. Baie besighede beplan om toe te maak vir die laaste week of twee van die jaar en baie mense het ook verlof ingesit. ‘n Tyd van rus lê vir ons voor as die Here wil soos wat die laaste dae op 2025 se Kalender afgemerk word.
1) Die mens se behoefte na rus
Die Here weet dat ons as mense rus nodig het. Ons sien dit al in die feit dat Hy ‘n weeklikse rusdag ingestel. Dit is ‘n Skeppingsordinansie dat die mens 6 dae moet werk en 1 dag moet rus. Die rusdag is veral gegee om geestelik te rus deur ons in die Here te verlustig, maar dit sluit natuurlik die liggaamlike rus nie uit nie.
Die Here gee dus ‘n weeklikse rusdag vir ons, maar Hy gee ook in sy wysheid vir ons hierdie Desembervakansie om na ‘n jaar se harde werk en moeite te rus en asem te skep. Na ‘n jaar se geswoeg en gespartel, voel baie van ons miskien uitgeput, vermoeid en emosioneel gedreineerd. Die jaar was vir sommige van ons uitdagend, besig en vol beproewings. Vir ander was die jaar vol hoogtepunte en vreugdes, maar selfs dit kan energie en moeite vereis.
Ons is dan ook vermoeid met die sonde. Wanneer ons sukkel om sekere sondes af te lê. Wanneer ons struikel en worstel. Wanneer dit voel asof ons moeg raak in die stryd teen die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur. Ons voel ook vermoeid en belas en het daarom ‘n dringende behoefte om te rus.
Daar lê nou deur die Here se voorsienigheid ‘n tydperk van rus voor vir die meeste van ons. ‘n Tyd wat ons nie net vir liggaamlike rus en ontspanning moet gebruik nie, maar ook moet gebruik om rus vir ons siele in Christus te vind – om opnuut verkwik te word deur sy Woord en sy Gees. Die vraag is: Hoe kry ons hierdie rus vir ons siele?
2) Die rus wat die Here gee
In Matthéüs 11 gee die Here Jesus die bekende oproep en belofte: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matthéüs 11:28). Hoekom kan die Here Jesus rus vir ons siele gee?
Want Hy het ter wille van sy kinders self moeite en onrus deurgegaan. Christus het mens geword, en Hy het as ware mens ook moeg geword (Johannes 4:6). In Getsémané het Jesus gesê: ”My siel is diep bedroef tot die dood toe” (Matthéüs 26:38). “En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.” (Lukas 22:44). Terwyl Hy bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matthéüs 26:39)
En ons weet wat verder gebeur het. Jesus het die lydingsbeker gedrink. Aan die kruis het Hy die toorn op ons sonde gedra, is Hy deur sy Vader verlaat en het angs, moeite, pyn en spot ervaar. Christus is van alle rus ontneem aan die kruis, sodat Hy vir gelowiges die ware rus kon bring – vrede by God, vergifnis, bevryding van die Satan se heerskappy. Rus wat gaan oorloop in ‘n nuwe hemel en nuwe aarde, die ewige Sabbatsrus (Hebreërs 4:8-11), waar daar geen moeite meer sal wees nie (Openbaring 21:4).
Dit is die rus en wyse waarop Christus die rus bewerkstellig het. Hoe kry ons dan deel aan hierdie rus? Eenvoudig: “Kom na My toe” (Matthéüs 11:28). Om na Jesus toe te gaan, beteken om in Hom te glo. Om te glo dat Jesus Christus die rus bewerk het deur self die diepste onrus deur te gaan. En vir elke sondaar wat vermoeid is en na Jesus toe gaan, gee Hy elders hierdie wonderlike belofte: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37)
3) Prakties rus hierdie vakansie
Rus liggaamlik goed uit. Ons is ‘n liggaam-siel eenheid. Ons liggame en siele het albei rus nodig om behoorlik te funksioneer.
Bly besig met die Woord van die Here. Die Here Jesus sê in vers 29 en 30: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Leer dus by Jesus, sy juk is sag en sy las is lig. Die lering van Christus is bevrydend, in kontras met die juk van wettisisme wat die Fariseërs afgedwing het.
Bid. Dit is ook wat Jesus in vers 25-27 doen. Ons lees gereeld in die evangelies hoe Jesus Hom af gesonder het en op ‘n afgeleë plek gaan bid het. Bid dat die Here jou weer nuwe krag sal gee. Slegs ‘n verhouding met die lewende God deur Christus se werk kan ‘n rustelose siel ware rus vind.
Die rus wat God bring, is meer as ‘n vakansie. Dit is ‘n rus wat oorloop in die ewige Sabbatsrus. ‘n Rus, troos en vrede in Christus. Laat ons ons in hierdie rus verlustig, veral op Sondae, maar ook gedurende hierdie vakansie.
Gebed
Onse Vader wat in die hemel is. Dankie dat U ons deur hierdie jaar gedra het. U ken ons moeites en moegheid. Ons bid dat U ons sal versterk met nuwe krag en rus in Christus. Wees met almal wat ook die vakansie op reis gaan, bewaar hulle op die paaie. Ons sien uit na die ewige rus wat U vir ons berei en roep daarom uit: Maranata! Kom Here Jesus, kom tog gou! Amen.
Coram Deo
Rus behoorlik die vakansie. Nie net liggaamlik nie, maar soek veral rus vir jou siel in Christus.
Verdere Bybelstudie
Hebreërs 4 en Psalm 42 en 43
Geskryf deur Heinrich Goodey, GK Pretoria-Annlin