Soos ‘n beer wat van haar kleintjies beroof is - Hoséa 13
Hoe moet ons die ontstellende beelde van God se toorn verstaan - en wat sê dit werklik oor wie Hy is?
Lees Hoséa 13
“Toe het Ek vir hulle soos 'n leeu geword, soos 'n luiperd lê Ek by die pad en loer. Ek val hulle aan soos 'n beer wat van kleintjies beroof is, en Ek skeur hulle borskas oop; en soos 'n leeuin verslind Ek hulle daar, die wilde diere van die veld sal hulle verskeur.” (Hoséa 13:7-8)
In ons Skrifgedeelte word die HERE met ‘n verskeidenheid skrikwekkende diere vergelyk. ‘n Leeu, ‘n leeuin, ‘n luiperd en dan ‘n beer wat van haar kleintjies beroof is. ‘n Beer wat van haar kleintjies beroof is - hierdie interessante uitdrukking kom drie keer in die Bybel voor:
In 2 Samuel 17:8 waar Húsai met Absalom praat oor koning Dawid: “Verder het Húsai gesê: U weet dat u vader en sy manne helde is en bitter van siel soos 'n beer wat van haar kleintjies beroof is in die veld; ook is u vader 'n krygsman, en hy sal nie by die volk vernag nie.”
Spreuke 17:12: “Laat 'n beer wat van kleintjies beroof is, 'n mens ontmoet, maar nie 'n dwaas in sy sotheid nie.”
En dan in ons hoofstuk van Hoséa vandag: “Ek val hulle aan soos 'n beer wat van kleintjies beroof is, en Ek skeur hulle borskas oop” (Hoséa 13:8)
‘n Ma-beer is bekend daarvoor dat sy baie beskermend is oor haar kleintjies. As iets of iemand haar kleintjies bedreig of wegneem, dan reageer sy met aggressiewe woede. Sy sal verskeur en verslind. ‘n Beer wat van haar kleintjies beroof is, is baie gevaarlik. Dit is daarom nogals opmerklik dat Salomo skryf dat dit verkiesliker is om so ‘n beer raak te loop as ‘n dwaas in sy sotheid.
Dit is inderdaad angswekkende beelde wat gebruik word om die HERE te beskryf en dit laat ons miskien ‘n bietjie ongemaklik voel – ‘n leeu, ‘n luiperd, ‘n leeuin en ‘n beer wat van haar kleintjies beroof is. Dien ons dan ‘n God wat so verslind en verskeur soos hierdie wilde roofdiere? Dien ons dan nie ‘n God wat in onbeskryflike groot genade en liefde sy Seun na hierdie wêreld gestuur het nie?
Ja, God is die God van liefde en genade, maar Hy is ook regverdig. God haat sonde en sal geen sonde ongestraf laat bly nie. “’n Jaloerse God en ‘n wreker is die HERE, ‘n wreker is die HERE, en vol grimmigheid” (Nahum 1:2a). Die God wat ons dien, is ‘n verterende vuur (Hebreërs 12:29).
Die volk het swaar gesondig. Hoofstuk 13 noem veral twee sondes: Afgodery (vers 1-2) en dan hoogmoed in vers 6: “Ooreenkomstig hulle weiveld het hulle versadig geword; toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet.”
Sonde vertoorn God en bou ‘n skeidsmuur tussen ons en God (Jesaja 59:2). Dit doen skade aan ons verhouding met God en doen sy Naam oneer aan. En juis daarom word God toornig – sy toorn is in lyn met sy geregtigheid. Daarom word Hy so aanvallend soos ‘n beer wat van haar kleintjies beroof is.
Waar moet hierdie woorde ons bring? Eerstens, moet dit ‘n diep vrees en eerbied vir die heilige en regverdige God wek – want wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? (Nahum 1:6) Tweedens, moet ons ons skuld besef en dit voor die Here bely. Derdens, kan ons vasgryp aan God se vergiffenis. Want dieselfde God wat aanval soos ‘n beer wat van kleintjies beroof is (vers 8), is die HERE ons God, ons Heiland, van Egipteland af (vers 4). God is dus regverdig en genadig.
God se genade en regverdigheid ontmoet mekaar in die feit dat God ook met ‘n ander dier in die Bybel as ‘n leeu, luiperd en beer vergelyk word. Christus, wat self die Leeu uit die stam van Juda is, word ook die Lam van God genoem (Openbaring 5).
As Lam van God het Christus die las van die toorn van God aan die kruis gedra. Hy is verbrysel aan die kruis (Jesaja 53:5,10), soortgelyk aan hoe ‘n prooi verskeur word deur hierdie roofdiere. Christus het sodoende die volmaakte en plaasvervangende offer vir gelowiges gebring. God is regverdig, want Hy straf ons sonde. God is genadig, want Christus is in ons plek gestraf.
Die Bybel gebruik beeldryke taal soos vergelykings en metafore van diere om die waarheid van die evangelie al hoe dieper by ons te laat insink. Mag die evangelie ons harte deurweek en lei tot ‘n lewe van dankbaarheid vir die God van genade en geregtigheid.
Gebed
“o HERE, straf my nie in u toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie. Wees my genadig, HERE, want ek is verswak; maak my gesond, HERE, want my gebeente is verskrik. Ja, my siel is baie verskrik; en U, HERE, tot hoe lank? Keer terug, HERE, red my siel; verlos my om u goedertierenheid ontwil. (Psalm 6:2-5).” Here, so erken ons ook saam met Dawid in Psalm 6 dat U regverdig is en dat ons u genade nodig het. Dank U dat U hierdie genade in Christus ook aan ons skenk sodat ons voor u aangesig mag lewe. Ons bid dit alles in Christus se Naam. Amen.
Coram Deo
‘n Beer wat van haar kleintjies beroof is – ‘n interessante uitdrukking wat drie keer in die Bybel voorkom. Dit is ‘n beeld wat ons met eerbied en vrees vul voor die regverdige God, maar wat tegelyk in beeldryke taal verkondig waarvan Jesus Christus ons kom verlos het – die toorn van God oor die sonde.
Verdere Bybelstudie
Openbaring 5 | Nahum 1
Ander leesstof
Volg gerus die volgende skakels om meer te lees oor ander voorbeelde waar bere in die Bybel genoem word, asook interessante feite oor die tipe beer waarna daar heelwaarskynlik in die Bybel verwys word, naamlik die Siriese bruinbeer:
- https://www.oneearth.org/species-of-the-week-syrian-brown-bear/.
- https://www.biblestudytools.com/dictionary/bear/.
Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata