Sê my, wat kan u my vertel van die Wedergeboorte?

Die dag het aangebreek. Die kersies is al in die koek gedruk, die stoele is reggesit vir die partytjie en nou word daar net gewag vir almal om te kom. Ons almal het ‘n dag een keer ‘n jaar waar ons hierdie beleef. Hoekom doen ons dit?

Sê my, wat kan u my vertel van die Wedergeboorte?
Photo by Nikhita Singhal / Unsplash

Geskryf deur Jonatan Boon, Providence Canadian Reformed Church

Die dag het aangebreek. Die kersies is al in die koek gedruk, die stoele is reggesit vir die partytjie en nou word daar net gewag vir almal om te kom. Ons almal het ‘n dag een keer ‘n jaar waar ons hierdie beleef. Hoekom doen ons dit? Ons vier die dag waarop ons bestaan op aarde begin het (of eintlik nege maande na die ontstaan daarvan). 

Miskien is dit voor die hand liggend, maar ons geboorte is een van die belangrikste oomblikke in ons lewens. Sonder om gebore te word, sou ons nooit hier gewees het nie. Dis nie net hierdie fisiese geboorte wat so belangrik is nie. Die Here Jesus vertel vir ons in Johannes 3 van ‘n ander geboorte wat net so belangrik is. 

Wat is die wedergeboorte?

In ‘n nag amper tweeduisend jaar gelede het ‘n nuuskierige Fariseër van Jesus geleer wat hierdie ander geboorte is. Oftewel, wat dit beteken om wedergebore te wees. Net soos wat ons nie die sonlig sou sien as ons nie gebore was nie, so sal niemand die koninkryk van God sien as hy nie weer gebore is nie (Joh 3:3).

As jy dit so lees, kan jy nie help om saam met Nikodemus te vra wat dit beteken nie. Hierdie wedergeboorte is duidelik anders as ons fisiese geboorte. Jesus vertel hom dat hierdie geboorte ‘n Geestelike geboorte is (Joh 3:6). Gees is met ‘n hoofletter, want dit is God die Heilige Gees wat geboorte gee aan ons geestelike lewe. 

Enige iemand wat Jesus se woorde in die oorspronklike Grieks sou gelees, sou hier ‘n woordspeling opmerk. Jesus bedoel met ‘weer gebore’ ook ‘van bo gebore’. Ons moet raaksien dat hierdie Geestelike geboorte iets is wat God die Heilige Gees aan ons doen. Net soos wat ons self niks kon doen aan ons eie geboorte nie, net so is ons wedergeboorte slegs die werk van God. 

Tydens hul nagtelike gesprek verwys Jesus na Esegiël 36 wanneer Hy sê dat iemand uit water en Gees gebore moet word (Joh 3:5). Esegiël help ons verstaan wat wedergeboorte is. Dit is as God ons skoon maak van ons onreinhede wanneer Hy water oor ons uitgiet, oftewel ons sonde van ons af wegneem. Wedergeboorte is wanneer God vir ons ‘n nuwe hart gee wat homself nie meer verhard teenoor God nie, maar eerder luister na wat God vir ons sê. Dit is wanneer die Heilige Gees in ons binneste kom woon en ons lewe omdraai sodat ons nou na God kyk, in plaas van na onsself (Eseg 36:25-27). 

In die Dordtse Leerreëls bely ons dat die wedergeboorte die werk van die Heilige Gees is wanneer die evangelie tot in die binneste dele van die mens deurdring. Dit is wanneer Hy die geslote hart open, wanneer Hy versag wat hard is en besny wat onbesnede is (DL 3/4:11). Die wedergeboorte is wanneer die Heilige Gees ons harte oopsluit sodat ons die goeie nuus van redding in Jesus Christus nie langer verwerp nie, maar omarm. Wanneer die Heilige Gees ons sondige natuur omploeg sodat geloof in ons harte ontkiem. Hierdie is ‘n wonderlike wonder wat in ons harte plaasvind, maar ook ‘n wonder van groot betekenis.

Terwyl Jesus Nikodemus oor die wedergeboorte leer, sê Jesus van die mees bekende woorde ooit: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe mag hê (Joh 3:16).” Jesus wys hier vir Nikodemus en vir ons hoe belangrik wedergeboorte en geloof is. Slegs deur geloof in Jesus mag ons die ewige lewe ingaan. As wedergeboorte aan die wieg van geloof staan, dan is dit duidelik hoe belangrik ons wedergeboorte is. Slegs omdat die Heilige Gees my hart deur die wedergeboorte verander het, glo ek nou in Christus as my Verlosser en daarom sal ek nie verlore gaan nie, maar die koninkryk van God binnetree. 

Twee definisies vir wedergeboorte

Die definisie wat mense vir wedergeboorte het het ietwat verander oor die afgelope eeue. Dit is goed om hiervan bewus te wees, anders mag ons dalk deurmekaar raak. 

Tydens die Reformasie (en baie van ons in gereformeerde kringe gebruik nog hierdie definisie) is wedergeboorte gesien as die hele proses van die Heilige Gees wat in ons harte werk. Vanaf die oomblik toe die Gees iemand tot geloof gebring het tot die daaglikse heiligmaking waar die Gees ons meer en meer vernuwe om volgens die wil van God te leef. Dit is hoe die NGB Artikel 24 die woord ‘wedergeboorte’ gebruik: “... dat die geloof hom weergebore laat word en tot ‘n nuwe mens maak, hom ‘n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry.”

Die meer algemene verstaan van die woord ‘wedergeboorte’ in ons tyd is om slegs te dink aan die allereerste werk van die Heilige Gees in ons hart. Die oomblik toe die Heilige Gees ons hart van klip in ‘n hart van vlees verander het, sodat ons die evangelie aanvaar het. 

Die punt hier is nie om te sê watter definisie die regte een is nie. Daar is goeie Bybelse argumente vir beide, maar die punt is eerder om verwarring te voorkom. Dit kan maklik gebeur dat ons ‘n geprek met ‘n persoon oor die wedergeboorte het, maar dan verby mekaar praat. In so ‘n geval kan dit help om op dieselfde bladsy te kom deur te verstaan wat die ander persoon met wedergeboorte bedoel. 

Wanneer en hoe was ek weergebore?

Ons vier ons geboorte elke jaar met ‘n verjaarsdagpartytije. Ons weet wat die plek en datum van ons geboorte is - dit staan in ons paspoort en in die kerkhandboekie. Nou mag jy wonder op watter dag jou wedergeboorte was en wanneer jy dit moet vier?

Miskien is dit goed om te onthou dat die enigste rede hoekom jy weet wanneer jy gebore is, is omdat iemand anders dit vir jou vertel het. In die verlede was daar baie mense op aarde wat nie geweet het wanneer hulle gebore is nie. God openbaar nie al die details van die werk wat Hy in ons doen nie, so dit is nie verbasend dat die meeste van ons nie ‘n datum kan opnoem vir ons wedergeboorte nie.

Soos wat ons geboortedag vir ons belangrik is, so is dit ook reg om waarde te heg aan ons wedergeboorte. Dit was die oomblik waar ons geloofslewe begin het. Tog moet ons nie vaskyk in ons wedergeboorte met die doel om uit die te pluis waar, wanneer en hoe dit gebeur het nie.

Ons lewens van elke dag word nie beheer deur hoe en waar ons gebore is nie. ‘n Geboorte is net die begin van ‘n lewe, daar is ‘n hele lewe wat wag om geleef te word. Ons groei, gaan skool toe, begin met ‘n werk, trou, koop ‘n huis, sien kleinkinders groot word, ensovoorts. Die lewe is baie meer as net ‘n geboorte. So is dit met ons wedergeboorte. Die wedergeboorte is net die begin, maar daar is nog ‘n hele lewe saam met God wat geleef moet word. ‘n Lewe waar ons ons vertroue in Christus plaas, waar ons hande vou om te bid, waar ons daagliks ‘n Bybel oopmaak. ‘n Lewe waar ons elke Sondag na God se stem in die kerk gaan luister, waar ons openbare geloofsbelydenis doen, waar ons deel word van die evangelisasiekommissie. Waar ons Bybelstudies bywoon en waar ons eendag oor die drempel van die nuwe Jerusalem gaan stap. Ons geloofslewe is veel meer as net ‘n wonderbaarlike wedergeboorte.

Alhoewel ons nie die fyner details van ons wedergeboorte kan en moet naspeur nie, kan ons dit wel raaksien as ‘n groot werk van God. Jesus vergelyk die wedergeboorte met die wind (Joh 3:8). Die wind is onsigbaar, maar ons almal hoor die sagte suis van ‘n briesie op ‘n somersaand. Net so kan ons nie die besonderhede van ons wedergeboorte sien nie, maar ons kan die vrugte daarvan, geloof en goeie werke, in onsself en in ander waarneem. Ons kan daarom God loof dat die Heilige Gees in ‘n geloofslewe ontwikkel het, alhoewel ons dalk nie weet waar en wanneer nie. 

Daar is wel iets meer om te sê oor hoe die Heilige Gees werk om ons harte van klip om te ruil vir harte van vlees. God die Heilige Gees skenk ons wedergeboorte deur die lewende Woord van God (1 Pet 1:23). Die Heilige Gees gebruik die Bybel om nuwe lewe in ons te wek. Hier kan ons spesifiek dink aan hoe die evangelie elke Sondag vanuit die Skrif gepreek word. Die Woord en die prediking daarvan is die gereedskap waarmee die Gees ons harte vernuwe (DL 3/4:17). Dit is daarom so belangrik om die Woord van God te hoor, want dit is wanneer die Heilige Gees by uitstek in ons harte werk. Wedergeboorte is heeltemal die werk van die Heilige Gees, maar dit beteken nie dat ons moet wegkruip en wag vir die Gees om aan ons wedergeboorte te gee nie. Hierdie is eerder ‘n aansporing om die Bybel oop te maak en om jouself en ander aan te moedig om Sondag in die kerk te gaan sit. Dit is hoe die Heilige Gees geslote harte oop maak. 

Wat van jong kinders?

In die verlede, en nou ook, is daar baie mense wat wonder of jong kinders ook weergebore is. Wat van babas of ongebore babas? Hierdie is nie net ‘n goeie besprekingsvraag vir ‘n Bybelstudieaand nie. Vir ouers wat ‘n jong kind moes begrawe of die hartseer van ‘n miskraam ervaar het, dring hierdie vraag tot in hul binneste deur. 

As iemand slegs die ewige lewe kan hê as hy wedergebore is en die Heilige Gees wedergeboorte skenk deur die lees en preek van God se Woord, hoe kan ‘n baba, wat na twee kort wekies op aarde sterf, gered word? Met vrae soos dié moet ons na die Bybel teruggaan en luister na wat God sê, in plaas daarvan om self antwoorde uit te dink. 

Die Here beloof ons dat die belofte van redding in Jesus vir almal is wat in Hom glo, asook hulle kinders (Hand 2:39). God sluit die jong kinders van gelowiges by sy belofte in. Daarom mag gelowige ouers wat ‘n jong kind mis, omdat sy vroeg oorlede is, uitsien daarna om haar weer te sien (DL 1:17).

Hoe en wanneer die Heilige Gees ‘n wedergeboorte skenk in die lewens van hierdie jong kinders, weet ons nie. Dit is iets wat ons aan God moet oorlaat. Ons kan net vashou aan dit wat God ons in die Skrif vertel. 

Tog kan ons sê dat die Heilige Gees net so kragtig in die hart van jong kinders kan werk as in die harte van tieners, middeljariges of bejaardes. Die Heilige Gees kan ook aan hulle geloof skenk, dalk wanneer die Bybel na ete gelees word of wanneer hulle twee reëltjies uit Sondag se preek verstaan of op ‘n ander wonderlike manier. Christus hou nie verniet die geloof van kinders vir ons tot ‘n voorbeeld nie (Mark 10:14-15).

Afsluiting

Ons geboorte was ‘n groot wonder van God. Hy het alles so gelei dat jy in die wêreld sou kom. Miskien is ons wedergeboorte nog ‘n groter wonder van God. Net soos wat ons nie onsself kon laat gebore word nie, net so min kon ons op ons eie tot geloof in Christus kom. Ons sou Jesus altyd bly verwerp, want die evangelie sou nooit tot in ons verharde harte deurdring nie. Maar die Heilige Gees het ons harte kom verander sodat ons nou in Christus as ons Verlosser glo. Daarom kan ons die koninkryk van God sien en het ons die ewige lewe. Ons mag dalk ons geboorte met ‘n partytjie vier, maar ons kan elke dag ons wedergeboorte vier deur die nuwe lewe te leef wat God vir ons gegee het. 

Bronnelys

  • Danker, F. W. (red), 2000. A Greek-English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature. Chicago: The University of Chicago Press.
  • Dennis, L. T. (red) en Grudem, W. (red), 2008. The ESV Study Bible. Wheaton: Crossway. 
  • Van Genderen, J. en Velema, W. H., 1992. Beknopte Gereformeerde Dogmatiek. Apeldoorn: Uitgeverij Kok – Kampen.
  • Van Houwelingen, P. H. R., 1997. Johannes. Kampen. Uitgeverij Kok – Kampen.
  • Van Vliet, J., 2016. Growing in the Gospel. Hamilton: Lucerna Publications.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp