Paasfees: Die leë graf en die lewende Here

Paasfees: Die leë graf en die lewende Here
Photo by Pisit Heng / Unsplash

Paasfees staan sentraal in die Christelike geloof. Sonder die opstanding van Jesus Christus sou daar geen hoop wees nie, geen vaste grond vir ons geloof en geen uitsig op ’n nuwe toekoms nie. Daarom klink die woorde van Lukas 24 steeds met krag deur die eeue:

“Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan.”

Die werklikheid van die leë graf

Die evangelies vertel nie simboliese verhale nie, maar getuig van ’n werklike gebeurtenis. Op Paasoggend is die graf leeg. In Johannes 20 lees ons hoe Maria Magdalena, Petrus en Johannes dit self sien: die klip is weggerol en die grafdoeke lê netjies. Alles wys daarop dat Jesus se liggaam nie gesteel of verwyder is nie – Hy het self, deur God se krag, uit die dood opgestaan.

Paulus bevestig dit in 1 Korinthiërs 15. As Christus nie opgewek is nie, is ons geloof tevergeefs. Maar nou is Christus opgewek, as eersteling van dié wat ontslaap het. Die opstanding is die fondament waarop die kerk staan.

Soek Hom op die regte plek

Die vraag van die engele is ook vandag nog aktueel: Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hoe maklik soek ons Jesus op plekke waar Hy nie is nie – in uiterlike godsdiens sonder hart, in gewoontes sonder geloof, of in ons eie verwagtinge eerder as in sy Woord.

Paasfees roep ons om:

  • Christus te soek waar Hy Homself openbaar – in sy Woord,
  • sy beloftes ernstig op te neem,
  • en die tekens van sy werk raak te sien.

Christus se sterwe en begrafnis

Volgens die Heidelbergse Kategismus Sondag 16 moes Christus werklik sterf en begrawe word om die straf op die sonde volkome te dra. Sy dood was nie ’n mislukking nie, maar deel van God se heilsplan. Deur sy sterwe het Hy die mag van die dood gebreek en vir ons versoening met God bewerk.

Die ryk betekenis van die opstanding

Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 17) leer ons dat Christus se opstanding drie groot seëninge vir ons inhou:

  • Eerstens, deur sy opstanding word ons regverdig verklaar voor God.
  • Tweedens, ons word nou opgewek tot ’n nuwe lewe - ’n lewe van dankbaarheid en heiligmaking.
  • Derdens, sy opstanding is die waarborg van ons eie opstanding en ewige lewe.

Paasfees is dus nie net ’n terugblik op wat gebeur het nie, maar ook ’n vooruitsig na wat God nog sal doen.

Lewe uit Paasfees

Die Paasboodskap bring lig in donkerte en hoop in onseker tye. Die Here Jesus leef – nie net in die verlede nie, maar vandag steeds. Hy regeer as die opgestane Here en is naby aan sy gemeente.

"Hy is nie hier nie. Hy het opgestaan."

Geskryf deur Nathalie Antuma, VGK Bellville