Onse Vader – Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe
Ons almal weet dat vergifnis die basis van die Christelike geloof is, en ons almal is baie bekend met die bede: “Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe” in die Onse Vader. Hierdie bede maak dit baie duidelik dat ons ook ons naaste moet vergewe as hulle ons seer maak of teen ons sondig. Dit is ‘n duidelike Bybelse beginsel, dink maar aan die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser in Mattheüs 18:23-35. Ons ken die les, ons moet besef hoeveel God ons vergeef het en dat dit wat ons naaste ons skuldig is, niks staan in vergelyking daarmee nie. Daarom moet ons nie so onbarmhartig soos die kneg wees nie, maar eerder ons naaste vergewe. Ja, ons almal ken die Christelike beginsels van vergifnis, maar tog is daar ‘n vraag wat nog baie keer rondom die onderwerp na vore kom: Moet ons ons naaste ook vergewe as hulle geen berou het oor wat hulle gedoen het nie?
Ek dink dit is ‘n baie menslike vraag. Selfs as ons na die bogenoemde gelykenis kyk sien ons dat die tweede dienskneg voor die eerste se voete neer val en hom smeek: “Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal”. Dalk is dit nie so moeilik om iemand te vergewe wat opreg om vergifnis vra nie, dalk is dit nie so moeilik om jou met iemand te versoen wat in diep berou erken dat hulle verkeerd was nie, maar wat van iemand wat geen berou het nie, of erger nog, net aanhou om dieselfde te doen?
Die voordeel van die moderne tyd is dat jy maklik ‘n algemene mening kan kry van die gemiddelde mens. Toe ek vir Google gevra het of ons mense moet vergewe wat nie spyt het oor dit wat hulle gedoen het nie, het ek die volgende AI oorsig gekry:
“Forgiving someone who is not sorry is a personal choice focused on releasing your own bitterness and emotional burden, rather than excusing their behaviour or reconciling. It is not required for safety or self-respect, especially in toxic situations. True forgiveness frees you to move forward, regardless of the offender's remorse.
Key considerations on this topic include:
- Forgiveness vs. Reconciliation: Forgiveness can be granted to free yourself from anger, but that does not mean you must reconcile or trust the person again.
- It’s For You, Not Them: Forgiveness is about letting go of the negative impact the action has on your life, not condoning the act.
- Accepting the Unapologetic: Sometimes, you must accept that an apology will never come and decide to move on without it.
- Setting Boundaries: Forgiving someone does not mean allowing them to continue hurting you. You can forgive someone while still holding them accountable or limiting your interaction with them.
In some belief systems, such as Christianity, forgiving others is seen as a requirement, similar to how one is forgiven. Ultimately, the decision to forgive should be based on what brings you peace and well-being.”
Ek dink dit is ‘n baie goeie opsomming van hoe die wêreld na vergifnis kyk en ons neig om presies dieselfde te doen. Vergifnis gaan uiteindelik oor jouself, jy moet mense vergewe vir die primêre doel om self vrede te ervaar en vry te voel.
Die vraag is nou, wat is die Christelike uitgangspunt? Om hierdie vraag te beantwoord moet ons nog ‘n paar verse terug gaan in Mattheüs 18. Dit begin met ‘n vraag wat Petrus vir die Here stel: “Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?” Dit is ‘n baie bekende gedeelte, maar het jy al jouself ooit daarin verdiep? Menslik gesien is sewe keer al baie, persoonlik sal ek al na die derde keer voel iemand het regtig geen berou nie.
Die Here Jesus wys vir ons dat ons ingesteldheid totaal verkeerd is. Hy antwoord: “Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe”. As ons nog enigsins dink aan limiete, as ons nog enigsins dink daar kom ‘n punt waar ons nie meer hoef te vergewe nie, dan maak ons ‘n fout.
Maar wat kan ons verander? Ons moet ons lewens uitkyk ondersoek en moontlik daaraan verander. Jesus se bergpredikasie vat dit die beste saam:
“Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” (Mattheüs 5:43-48)
Ons probleem is dat ons na vergifnis (en verhoudings in die algemeen) kyk vanuit ons eie perspektief. Jesus leer ons dat ons dan niks anders as die wêreld is nie. Die heidene is ook lief vir die wat hulle lief het, hulle vergeef ook die wat opreg berou het… Maar ons dien ‘n God wat vir goeies en slegtes sorg. Meer nog “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.” (1 Johannes 4:10). As ons kinders van God is, moet ons net soos Jesus Christus optree. Hy het niks terug gedoen aan die mense wat Hom geslaan en gespoeg het nie, nee, inteendeel, Hy het sy lewe aan die kruis gegee om vir daardie mense se skuld te betaal.
Dus in konklusie, die wêreld sê dit is ‘n goeie idee om mense te vergewe omdat dit jou beter laat voel, maar uiteindelik is dit jou eie keuse. Dit is menslik en verstaanbaar om te voel dat vergifnis limiete het. Maar God roep ons op om totaal anders te wees, Hy roep ons op om soos Hom te wees. Dit beteken om nie dinge te doen ter wille van ons self nie, maar ter wille van Hom. Dit beteken dat ons nie net ons naaste moet vergewe nie, maar selfs ons vyande moet liefhê (Mattheüs 5:44). Dit is ‘n radikale nuwe lewensuitkyk, een wat teen ons natuur indruis. Mag die Heilige Gees kragtig in ons werk sodat ons kan groei om net soos ons Hemelse Vader te wees.
Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria