My Enigste Troos in Lewe en Sterwe

My Enigste Troos in Lewe en Sterwe
Photo by Matthew Henry / Unsplash

Die Bybel is vol van bemoedigende woorde - woorde van troos en van hoop. Miskien het jy al bemoediging of troos nodig gehad. As jy dit vandag nodig het, dan hoop ek jy vind dit in Christus - Hy is die een wat ons troos.

Waarom moet ons getroos word?

In Genesis 3 lees ons van die sondeval van die mens, en reg deur die res van die Bybel sien ons al die sondes en gebrokenheid van en in hierdie wêreld. Ons dink aan Dawid wat bely: “Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het” (Psalm 51:7). Dit is baie moontlik dat jy tans ook self daardie gebrokenheid ervaar. Jy voel dalk vasgevang in sondes wat jou elke dag tog weer verhinder om ‘n totale godvresende lewe te lei, dan verstaan jy miskien hoe Paulus voel wanneer hy sê: “Ons weet wel dat die wet geestelik is, maar ek, in my sondige aard, is uitverkoop aan die sonde. Ek verstaan my eie optrede nie: Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek.” (Romeine 7:14-15, AFR20). Jy voel dalk asof jy deur die wêreld of deur die Satan versoek word en jy sukkel om daarteen te stry. Of miskien lê die sondigheid nie net binne jou nie, maar ook rondom jou - as jy dink aan ‘n geliefde wat siek is of gesterf het, of die baie mense wat in honger en armoede lewe.

As ons voorbeelde van ons gebroke en sondige wêreld moet bly opnoem, gaan ons baie lank sit en sal heel moontlik baie moedeloos raak. Miskien is jy reeds moedeloos. Wel, dan het ek vir jou goeie nuus.

Daar is hoop vir die gebroke hart!

Dit is nie verniet dat ek begin praat het van bemoedigende woorde nie, ons kan sien dat dit baie nodig is. As ons dieper na die Bybel kyk, sal ons baie verhale vind wat die gevalle aard van ons natuur wys. Dink maar aan die verhaal oor die toring van Babel - mense wat teen God wil draai en hulle eie grootheid bewys. Of die volk Israel wat keer op keer die Here ongehoorsaam is. Miskien dink jy aan al die siek mense waarvan ons in die Evangelies lees. Tog is dit nie al nie, daardie siekes word ook genees. Die Bybel vertel eintlik ‘n ander verhaal. ‘n Verhaal van hoop, uitkoms en redding.

As ons noukeurig kyk, sal ons sien dat die hele Ou Testament getuig van ‘n Verlosser wat op pad is. En as ons die Evangelies lees, dan hoor ons die Blye Boodskap van die koms van die Messias. Die Bybel is duidelik daaroor: Jesus Christus is ons 

enigste hoop. Daar is geen ander manier om onsself vry te maak van die bande van die sonde waarin ons almal lewe nie, behalwe deur die Een wat vir ons gesterf het en die dood oorwin het. Ons lees hiervan in 2 Korinthiërs 1:5: “Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus.”

Daarom vind ons ook weer en weer in die Bybel die bemoedigende woorde, daar is uitkoms! Lees gerus gedeeltes soos Jesaja 40:29-30, Jesaja 41:10 en 2 Timótheüs 4:17-18.

Die Heidelbergse Kategismus vind hierdie troos so belangrik, dat die heel eerste vraag daaroor handel. Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Ons gaan nou stap vir stap kyk na die antwoord wat die Kategismus ons gee.

Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.

Vandag mag jy getroos wees, in watter omstandighede jy ook jouself mag bevind, dat jy die eiendom van Jesus Christus is. Jy hoef na liggaam en siel oor niks bekommerd te wees nie, want Hy sorg vir jou soos sy eie kind. “Hy wat Homself ter wille van ons gegee het, om ons los te koop van alle wetteloosheid, en vir Hom ‘n eie volk as eiendom te reinig, wat ywerig is om goed te doen” (Titus 2:14).

Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.

Waardeur word jy getroos? Deur die “kosbare bloed van Christus”, soos ons daarvan lees in 1 Petrus 1:18-19. En waarvan word jy getroos? Eerstens, van die straf wat ons verdien vir al die sondes wat ons gedoen het - Christus het dit vir ons betaal. “En Hy is die versoening vir ons sondes – nie net vir óns sondes nie; maar ook vir dié van die hele wêreld.” (1 Johannes 2:2). En tweedens van die krag van die duiwel. Hy mag ons in hierdie leeftyd probeer versoek, maar Hy het geen mag oor ons nie. “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel —“ (Hebreërs 2:14).

Hy bewaar my op so ‘n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.

Die Here beloof in sy Woord dat Hy ons sal beskerm en bewaar. “Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose” (2 Thessalonicense 3:3).

Hy ken ons so goed, dat Hy van elke haar op ons kop bewus is. Sien gerus Matthéüs 10:30 en Lukas 21:18. Hy belowe om alles tot ons goede te laat meewerk en dat elke ding wat in

ons lewe gebeur tot ons saligheid (ons verlossing) sal dien. “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28).

Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Toe Jesus Christus opgevaar het na die hemel, het Hy ons nie alleen hier agtergelaat nie. Hy het geweet dat ons iemand gaan nodig hê om ons te troos en te lei, en Hy wou ons daarvan verseker dat ons nooit alleen is nie. Daarom het Hy vir ons sy Heilige Gees gestuur. Deur die werking van die Gees in ons harte (wat die geloof bewerkstellig) en in ons lewens (dat ons goeie vrugte dra), mag ons weet dat ons kinders van God is en dat Hy in ons woon. Hy beloof dit in Romeine 8:16: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”

Dit is wel nodig om te let daarop dat die Kategismus se antwoord eindig met sprake van verandering in ons lewens. Hoe mag ons weet dat ons die Gees in ons het? Deur die feit dat ons gewillige harte het en graag ons lewens aan die Here wil wy. 1 Johannes 3:3 beklemtoon dit: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” Maar ons hoef nie bekommerd te wees dat ons dit alleen moet doen nie, die Heilige Gees help ons hiermee. Ons kan tot Hom bid en Hom vra om ons te help en te lei om ‘n meer godvresende lewe te lei.

‘n Baie mooi opsomming

Ek vind Efésiërs 2:1-10 ‘n goeie samevatting van die troos wat ons deur Jesus Christus, ons Verlosser, verkry. Lees stadig daardeur en herinner jouself daaraan dat jy nie hierdie stryd alleen stry nie. Daar is hoop vir jou, vind dit by Hom.

“Julle was dood deur die oortredings en sondes waarin julle vantevore geleef het, volgens die bose lewenswyse van hierdie bedeling, volgens die heerser oor die mag van die lug – die heerser van dié gees wat nou aan die werk is onder die seuns van die ongehoorsaamheid. Ons almal het vantevore soos hulle opgetree toe ons die begeertes van ons sondige aard en van ons gedagtes uitgeleef het. Ook ons, soos al die ander, was van nature kinders bestem vir die oordeel. Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos! Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel, sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie. Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.”

Geskryf deur Emily Snyman, VGK Bellville