Moenie jou bekommer oor jou lewe nie!
"Moenie julle kwel oor jul lewe… nie,” klink eenvoudig, maar is dikwels buitengewoon moeilik om na te kom. Jesus bied hier ’n pad van bevryding uit die kringloop van angs en spanning aan, waaraan die moderne mens so gewoond geraak het. Tog sukkel ons om ons bekommernisse werklik neer te lê...
Geskryf deur Emile Burgers, VGK Pretoria-Maranata
In vandag se wêreld klink Jesus se woorde uit Matthéüs soos ‘n kalmerende stem in die storm. “Moenie julle kwel oor jul lewe… nie,” in Matthéüs 6:25, klink eenvoudig, maar is dikwels buitengewoon moeilik om na te kom. Jesus bied hier ’n pad van bevryding uit die kringloop van angs en spanning aan, waaraan die moderne mens so gewoond geraak het. Tog sukkel ons om ons bekommernisse werklik neer te lê en in vertroue te leef.
Hierdie gedeelte maak deel uit van die Bergpredikasie, die preek wat Jesus in Matthéüs 5–7 verkondig. Die Bergpredikasie kan opgesom word in een tema: Hoe om ’n lewe te leef wat geheel en al aan God toegewy is: ’n lewe vry van skynheiligheid, gevul met liefde en genade, en geanker in wysheid en geestelike onderskeiding. Jesus openbaar hier die waardes van die Koninkryk van God en konfronteer terselfdertyd die valse sekuriteit wat die wêreld aanbied.
Hoewel hierdie woorde meer as 2 000 jaar gelede uitgespreek is, bly die boodskap vandag net so relevant. Die oorspronklike gehoor was gewone mense wat onder politieke druk en ekonomiese onsekerheid geleef het. Hulle was oorlaai met vrees vir die toekoms. Dit is presies soos ons in ’n tyd van ekonomiese spanning, prestasiedruk en sosiale vergelyking. Jesus roep sy volgelinge op om geloof bo bekommernis te kies.
Die woord “kwel” (merimnáō) is vertaal vanaf Grieks en beteken: “bekommerd/angs.” Dit beskryf ’n geestelike toestand waarin die gedagtes afgelei word, deurmekaar raak en die geloof se fokus verloor. Jesus waarsku dus teen ’n lewe waar vrees ons aandag wegtrek van God en ons vrede steel. Hy herinner ons dat bekommernis nie die toekoms verander nie, maar wel die vreugde van vandag beroof.
Verder in Matthéüs 6:26–34 en Lukas 12:24–31 word verduidelik hoe die natuur getuig van ’n getroue en voorsienende Skepper. Die voëls vlieg nie rond en maak ingewikkelde planne, strategieë of noodvoorsiening vir die toekoms sodat hulle verseker kan wees van hul eie bestaan nie. Hulle saai nie, oes nie en stapel nie op in skure nie (Matthéüs 6:26). Tog word hulle elke dag onderhou. Dit is nie omdat hulle lui of onverantwoordelik is nie, maar omdat hulle leef in die hede, net in die tyd wat God aan hulle gee.
Die voëls vertrou instinktief op die voorsienigheid van hul Skepper. Hulle leef in totale afhanklikheid van die hand wat vir hulle sorg. Hierdie voorbeeld is nie ’n aanmoediging om niks te doen nie, maar tot rus en vertroue. As God vir die skepsels sorg wat geen siele het nie, hoeveel te meer sal Hy nie sorg vir die mens wat na sy beeld gemaak is en deur Christus verlos word nie?
Jesus herinner die gelowige dat bekommernis nie die toekoms verander nie, maar wel die vreugde van vandag steel. Wanneer die mens gedreig word deur onsekerheid, ekonomiese druk of persoonlike nood, val hy maklik in die strik van selfvertroue en selfbeplanning, dan begin die mens dink hy moet alle dinge self beheer. Maar, deur die natuur wys God dat Hy die koning is oor elke fyn detail, van die kleinste mossie tot die gras van die veld wat môre vergaan.
Dus, om op God te vertrou bring innerlike vrede. Deur eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek, word die gelowige se fokus verskuif vanaf vrees na aanbidding, vanaf onsekerheid na sekerheid, en vanaf menslike krag na goddelike afhanklikheid (Matthéüs 6:33). Daarom hoef die kind van God hom nie te kwel oor vandag of môre nie. Ons Vader weet wat ons nodig het, nog voordat ons vra (Matthéüs 6:32).
In Johannes Calvyn se Instutisie raak hy meer as een keer aan hierdie onderwerp. Hy leer dat niks by toeval gebeur nie. “Daar is nie ‘n enkele druppel reën wat op die aarde val, tensy dit deur God se bevel bepaal is nie”. As God dan alles onder beheer het, dan is bekommernis ‘n teken dat ons sy hand vergeet.
Hy wys daarop dat bekommernis sy wortels het in ongeloof, gehegtheid aan aardse dinge en die idee dat mens sy eie sekuriteit moet beheer. Hy beklemtoon dat tevredenheid ‘n belangrike kenmerk van ware geloof is. ‘n Christen moet rus vind in wat God gee en nie ontevrede wees met wat hy nie het nie. God bepaal die maat van elke gelowige se laste, maar God gee nooit meer as wat Hy terselfdetyd genade gee om dit te kan dra nie.
Selfvertroue, sê Calvyn, is ’n vorm van afgodery, want dit vervang God se sorg met die mens se eie vermoë. Daarom is afhanklikheid nie ’n teken van swakheid nie, maar hoe die mens oorspronklik geskape is. Om nie te kwel nie, word uiteindelik ’n daad van aanbidding: dit is die erkenning dat God getrou, alwetend en volmaak is.
Jesus se woorde in Matthéüs 6:25 is nie net bemoedigende woorde nie, maar ‘n opdrag. Ons het reeds gesien dat om jou te kwel ‘n teken van wantroue is, en hoort nie by ‘n hart wat volledig op God vetrou nie. Wanneer ’n gelowige kies om nie te kwel nie, onderwerp hy hom doelbewus aan God se Vaderlike sorg en erken hy dat God weet wat hy nodig het nog voordat hy vra (Matthéüs 6:32). Daarom gaan hierdie opdrag gepaard met ’n uitnodiging: “Soek eers die Koninkryk van God” (Matthéüs 6:33), met die belofte dat God self sal voorsien.
Paulus beklemtoon dieselfde beginsel wanneer hy skryf dat ons onsself oor niks hoef te kwel nie, maar alles in gebed aan God moet oorlaat, waardeur die vrede van Christus ons harte en gedagtes sal bewaar (Filippense 4:6–7). Verder herinner Petrus gelowiges daaraan om hulle bekommernisse op God te werp, want Hy sorg vir hulle (1 Petrus 5:7). Hierdie tekste saam toon dat om nie te kwel nie ’n gehoorsaamsopdrag is wat die mens se geloof, gebede en afhanklikheid van God verdiep. Dit is meer as net bemoediging; dit is ’n geloofsdaad waarmee die gelowige God se karakter vertrou, sy voorsienigheid erken en sy hart van die slawerny van vrees bevry.