Kersfees as Christelike feesdag
Dis ‘n tyd van vrolikheid, liggies en groot feesviering. Só beleef mense wêreldwyd hierdie seisoen. Maar hoe behoort ons as Gereformeerdes dit te sien? Sluit ons bloot aan by die algemene gees van joligheid, of kyk ons dieper - na die ware betekenis van Kersfees?
Geskryf deur Danielle van den Bout, VGK Maranata
Kersfees…
Dis ‘n tyd van vrolikheid, liggies en groot feesviering. Só beleef mense wêreldwyd hierdie seisoen. Maar hoe behoort ons as Gereformeerdes dit te sien? Sluit ons bloot aan by die algemene gees van joligheid, of kyk ons dieper - na die ware betekenis van Kersfees?
Die Bybel leer duidelik dat Kersfees inderdaad ’n fees van groot blydskap behoort te wees. Die engel se woorde aan die skaapwagters op die eerste Kersnag getuig daarvan. Lukas 2:10: “En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees.”
Die vraag bly egter: Wat is die rede vir ons blydskap?
Ons verheug ons omdat die Saligmaker, Jesus Christus die Here, vir ons in die stad van Dawid gebore is. Dáár lê die hart van Kersfees.
Tog word moderne Kersvieringe dikwels oorheers deur dinge soos kersbome, Kersvader en hope geskenke. Dit alles is vrolik en vol pret, maar ons moet eerlik vra: Hoe verbind ek dit waarmee ek besig is met die ware rede vir Kersfees?
Wanneer ons Christus se geboorte as die middelpunt van ons feesviering sien, bepaal dit ook die styl waarin ons vier. Kersvreugde is ware uitbundige lof aan God, maar dit kom gepaard met rus, eerbied en soberheid. Dit soek nie die opwinding van oormatige uitgawes of geskenke nie.
Kersfees en Christus se nederigheid
Jesus se geboorte in die krip in Betlehem herinner ons aan die nederige pad wat Christus gekies het. Hy wat die Koning is, het die vorm van ’n dienskneg aangeneem.
Filippense 2:6-7: “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mens gelyk geword.”
Kersfees roep ons dus ook terug na nederigheid, diensbaarheid en gehoorsaamheid - ’n lewe wat weerspieël wat ons Verlosser vir ons kom doen het.
Kersfees en ons roeping tot liefde en barmhartigheid
Wie die liefde van God in Christus verstaan, kan nie anders as om dit uit te leef nie. Kersfees word dan ’n tyd waarin ons:
- omgee vir armes en behoeftiges,
- die eensames en bedroefdes bystaan,
- en meelewendheid, gasvryheid en barmhartigheid uitleef.
Hierin word die liefde van Christus sigbaar deur sy kerk.
Kersfees as fees van die lig
Christus is die Lig van die wêreld, tot aan die einde van die aarde, ja ook tot aan die einde van die tyd.
Met Kersfees vier ons dat God die Lig gestuur het wat nooit uitgedoof kan word nie. En omdat ons aan Hom behoort, word ons roeping ook om draers van hierdie lig te wees - draers van waarheid, hoop en die evangelie in ’n donker wêreld. Soos die Here aan Paulus gesê het in Handelinge 13:47 (AFR20): “Ek het jou aangewys as ‘n lig vir die nasies, sodat jy verlossing kan bring tot aan die uiteindes van die aarde.”
Kersfees as fees van hoop
Die krip wys na die kruis, en die kruis wys weer na die opstanding. Die geboorte van Christus is die begin van God se groot verlossingsplan wat deur die eeue voortgaan. Daarom is Kersfees ’n fees van hoop - hoop wat sterker is as lyding, sonde en dood.
Kersfees is daarom ook ‘n dankfees. Dit is die dag waarop die kerk van die Here wêreldwyd in diepe dankbaarheid voor Hom neerbuig vir die wonderlike gawe van sy Seun. So word die waarheid van Johannes 3:16 steeds weer bevestig:
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
In hierdie Kerstyd bly ons roeping as kerk van die Here duidelik - om die boodskap van vrede in Christus te verkondig. Buiten Hom soek die wêreld tevergeefs na vrede, want sonder geloof in Hom is daar geen ware vrede nie. Bekeer julle tot Hom. Soek die Here in opregte gebed. Glo dat Hy die Lig van die nasies en die Redder van die wêreld is en onderwerp julle aan Hom as die enigste Here en Koning. Dan sal “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan” oor julle harte en gedagtes waak.