Kennis van God en afgodery - Hoséa 4
In hierdie reeks vanuit Hoséa trek ons nou al by die vierde hoofstuk. Die boek Hoséa kan in twee hoofdele verdeel word. Hoofstuk 4 is die begin van die tweede hoofdeel van Hoséa en hier lees ons dat die HERE ‘n regsaak het met die inwoners van die land.
Lees Hoséa 4
In hierdie reeks vanuit Hoséa trek ons nou al by die vierde hoofstuk. Die boek Hoséa kan in twee hoofdele verdeel word. Hoofstuk 1-3 handel oor Hoséa se huwelik met Gomer en dan Gomer se drie kinders. In hoofstuk 4-14 word die hoofboodskappe wat deur Hosea se huwelik uitgebeeld word, verder uitgebrei en ondersteun deur profetiese woorde, aanklagtes en oproepe.
Hoofstuk 4 is dus die begin van die tweede hoofdeel van Hoséa en hier lees ons dat die HERE ‘n regsaak het met die inwoners van die land. Hy gaan as Regter optree teen sy volk. Ons gaan in hierdie oordenking fokus op twee konsepte waarvan die volk aangekla word: ‘n Gebrek aan kennis van God vanuit vers 1 en 6 en dan afgodery vanuit vers 12.
Kennis van God
Kom ons luister weer na vers 1: “Hoor die woord van die Here, o kinders van Israel! Want die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie.”
Daar is geen liefde en trou nie. Hoe kan enige verhouding bestaan sonder hierdie twee elemente? Dit is die boustene vir enige verhouding, veral vir ‘n huwelik. Dan is daar ook geen kennis van God nie. Vers 6 gaan verder: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis”. Veral die priesters word aangekla, omdat hulle die volk van die HERE moes geleer het.
Wat is hierdie kennis van God waarvan gepraat word? Is dit maar net om baie van God te weet? Om kennis van God te hê, beteken nie net om baie van God te weet nie, maar ook dat jy Hom persoonlik ken. Dit is nie ‘n droë en koue akademiese feite-kennis nie, maar kennis wat met trou en liefde gepaard gaan.
Kennis van God dui op ‘n intieme omgang met God. Dit sluit natuurlik nie verstandskennis, ‘n goeie Bybelkennis, uit nie, maar dit is nie net beperk tot verstandskennis nie. Om God te ken, behels om ‘n persoonlike verhouding met die Drie-enige God te hê en om- soos Henog, soos Noag- saam met God te wandel. (Genesis 5:24; 6:9)
Die troueloosheid teenoor die HERE en gebrek aan kennis (vers 1) het gelei tot ‘n samelewing waar leuens, moord, diefstal en owerspel aan die orde van die dag was (vers 2). Dit lei dan weer tot skade en verwoesting in die natuur (vers 3). Dit is die hartseer kettingreaksie wat ons in vers 1 tot vers 3 sien. ‘n Vervreemde verhouding met God (geen kennis van God) lei tot ‘n gebroke verhouding tussen mense en met die natuur.
Kom ons pas hierdie gedeelte op onsself toe en ondersoek onsself deur ‘n paar vrae te vra. Hoe lyk ons kennis van God? Maak ons tyd om persoonlik en intiem met God om te gaan deur persoonlike Bybelstudie en gebed? Weet jy net baie van God of ken jy Hom werklik? Hoe lyk ons verhouding met ons naaste? Is ons goeie rentmeesters van God se skepping?
Afgodery
Kom ons kyk nou na die tweede konsep: Afgodery. Luister weer wat sê vers 12:”My volk raadpleeg sy hout, en sy staf moet hom die inligting gee; want 'n gees van hoerery het hulle verlei, en deur hulle hoerery het hulle van hul God afvallig geword.”
God het die mens geskep met die behoefte om Hom te aanbid. Maar na die sondeval aanbid die mens van nature nie meer die ware God nie, maar aanbid en verheerlik iets in die skepping (Romeine 1:25). Die behoefte om te aanbid het in die mens oorgebly, maar is deur die sonde besmet en verdorwe. Dit is die rede hoekom daar vandag so baie godsdienste en afgode is.
Israel het ook in gruwelike afgodery verval wat gepaard gegaan het met fisiese onsedelikheid (vers 13-14). Maar wanneer die HERE se volk afgode aanbid, dan noem die Bybel dit geestelike hoerery (vers 12). Die verbondsvolk gee hul liefde vir afgode in plaas van die HERE, net soos ‘n vrou wat owerspel bedrywe.
Vandag loop ons nie die gevaar om soos Israel fisies voor Baäl en ander afgodsbeelde te buig nie. Ons sal nie vinnig vir ‘n stuk hout gaan raadpleeg nie (vers 12). Beteken dit dat ons nie skuldig is aan afgodery nie?
Nee, afgodery is nie beperk tot die fisiese aanbidding van ‘n beeld of ander (mensgemaakte) gode nie. Ons bely in Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 95 wat afgodery is: “Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.”
Dit is om iets anders die middelpunt van jou lewe te maak en om daarop te vertrou. Dit kan byvoorbeeld geld, sport, jou werk, aansien, gewildheid of sukses wees. ‘n Afgod is enige iets wat die plek van God in ons lewe inneem. Dit is dan in werklikheid geestelike hoerery.
Slot
Dit is die uitspraak van die Regter in hoofstuk 4, maar dit is nie die enigste hofsaak in die Bybel nie. Paulus roep die beeld van ‘n regsaak weer op in sy brief aan die Romeine. Die uitspraak: ”Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.” (Romeine 3:10-11)
Maar Christus het Homself in ons plek in die beskuldigingsbank geplaas. Hy het ons sonde op Hom geneem, ook ons sonde van gebrekkige kennis van God en afgodery. Hy is onskuldig deur ‘n wêreldse regter ter dood veroordeel en het deur sy lewe, dood en opstanding vir ons die geregtigheid en lewe verwerf. Christus het dus ons sonde op Hom geneem en skenk sy geregtigheid aan ons.
Die HERE het ‘n regsaak met sy volk, en wat is die uitspraak: Deur geloof in Christus is jy regverdig verklaar, is jy vrygespreek! En wat is die gevolg? “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Romeine 5:1). ‘n Versoende verhouding met die enigste ware God. En vanuit hierdie versoende verhouding met God kan ons weer in ‘n versoende verhouding met ons naaste en die natuur lewe. Ons kan groei in kennis van God en aanbidding van die ware God.
Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, ons wil U aanbid, want U is die enigste ware God. Ons dank U dat ons U kan ken deurdat U Uself aan ons geopenbaar het. Om U en u Seun Jesus Christus te ken, om in ‘n verhouding met U te lewe, is die ewige lewe (Johannes 17:3). Ons dank U vir hierdie wonderlike voorreg. Lei ons deur u Gees dat ons al hoe meer sal groei in ons lewe saam met U. Ons bid dit alles in Christus se Naam. Amen.
Geskryf deur Heinrich Goodey, GK Annlin