Karakter van God - Goedertierenheid

Loof die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. Loof die God van die gode, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. Loof die Here der here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

Karakter van God - Goedertierenheid
Photo by Blair Fraser / Unsplash

Lees: Psalm 136 (lees dit een keer met die refrein en weer sonder die refrein)

Loof die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
Loof die God van die gode, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
Loof die Here der here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

- Psalm 136: 1-3

Ons trek nou al by die vierde karaktereienskap van God. In hierdie oordenking let ons op God se goedertierenheid. 

Wat beteken die woord goedertierenheid?

Dit is nie ‘n algemene woord wat ons in ons daaglikse lewe gebruik nie. Dit is nie net ‘n moeilike woord omdat dit nie algemeen gebruik word nie, maar selfs die mense wat die Bybel vertaal het, het gesukkel om te besluit wat die beste manier sou wees om die betekenis daarvan vas te vang. Die oorspronklike woord is Hesed, ‘n baie ryk Hebreeuse woord. Dit is ‘n kombinasie van liefde, genade, omgee, trou, toewyding en lojaliteit. Dit is dus regtig die diepste manier van lief wees vir ander - ‘n liefde wat nie oppervlakkig is nie, ‘n liefde wat vir altyd aanhou, en ‘n liefde wat getrou bly onder alle omstandighede. In die 2020-vertaling word dit vertaal as “troue liefde”. 

Hierdie beskrywing van God se karakter kom 250 keer al in die Ou Testament voor, en daarom kan ons weet dat dit regtig is wie God is. Hierdie liefde is op ‘n veel groter en dieper vlak as wat ons liefde verstaan of ooit vir iemand sal kan gee. Sy liefde is oneindig, dit hou vir ewig aan, dit kan nie op raak nie en het geen grense nie. Dink aan die see, ons dink dit is ‘n oneindige hoeveelheid water, maar slim wetenskaplikes kan uitwerk hoeveel kiloliters dit is. Of dink aan die sterre, op ‘n mooi helder aand kan dit soms lyk of daar oneindig baie sterre is, maar tog is daar mense wat al uitgewerk het hoeveel daar ongeveer is. Dit is voorbeelde van dinge wat ons dink is ontelbaar, of oneindig groot of baie, maar selfs dit het nog ‘n limiet, ‘n einde, is nog meetbaar of berekenbaar. God is oneindig, onmeetbaar, en ons kan nie met ons breine sy grootheid omvat nie. In 1 Konings 8:27 sê Salomo “Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.” 

Hoe kan ons seker wees van God se goedertierenheid?

Een van die mooiste Bybelgedeeltes oor God se goedertierenheid is Psalm 136. In hierdie Psalm lees ons 26 keer die woord goedertierenheid, mens raak amper verveeld daarvan. Maar, tussen die refrein gee die digter vir ons 3 redes om op God se goedertierenheid te vertrou: In die eerste plek sien ons God se goedertierenheid in die skepping (vers 4-9), tweedens is die geskiedenis van die volk Israel vir ons ‘n bewys (vers 10-22) en laastens ervaar ons dit in ons persoonlike lewe deur God se voorsienigheid en beskerming (vers 23-25). 

Die troos vir ons!

Hoekom bewys God hierdie onverstaanbare troue liefde aan sy volk en aan ons? God is niks aan ons verskuldig nie. Maar, God sy dank, troue liefde is deel van sy karakter en Hy is onveranderlik. Hy hou sy verbond met Abram, Isak, en Jakob. Dit is ook waarop Moses hom beroep in Exodus 32:9-14, as hy vir God vra om goedertieren te wees. 

God hou ook die oer-oue moederbelofte. God se troue liefde word die duidelikste uitgedruk in God die Seun se menswording: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Dit is vir ons ‘n pragtige troos. 

In Christus is ons as kinders van God aangeneem. Die troos van God se goedertierenheid werk daarom deur na alle fronte van ons lewe. In ons alledaagse lewe kan ons op God se liefde vertrou vir ons daaglikse brood en versorging. Maar meer nog, ons kan ook sy liefde vir ons ewige lewe vertrou: “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge, of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39)

God se goedertierenheid, sy troue liefde, is oneindig en niks kan ons van sy liefde skei nie. Mag ons ook vandag weer in hierdie vertroue lewe. 

Gebed

Dink, Here, aan u barmhartigheid en u goedertierenhede, want dié is van ewigheid af. Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o Here! Amen.(Psalm 25: 6-7) 

Coram Deo

Goedertierenheid, of troue liefde, is deel van God se karakter. Sy liefde strek verder en gaan dieper as enige liefde wat ons as mense ooit kan gee. Dit is onvoorwaardelik en oneindig groot. Sy troue liefde het sy hoogtepunt daarin bereik dat Hy ons eerste liefgehad het en sy Seun geoffer het toe ons nog vyande was. Antwoord hierop deur Hom bo alles lief te hê.

Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria