Karakter van God – Genade
Exodus 34 is een van die mooiste gedeeltes in die Bybel waar die Here sy eie karakter beskryf, veral as ons in gedagte hou dat die volk net voor hierdie gebeure die verbond gebreek het en ‘n goue kalf aanbid het. Hierdie week let ons op die tweede eienskap waarmee Hy Homself bekend maak: Genade.
Lees: Rom 5:1-11
“Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.” (Romeine 5:10)
Exodus 34 vers 6 en 7 is een van die mooiste gedeeltes in die Bybel waar die Here sy eie karakter beskryf, veral as ons in gedagte hou dat die volk net voor hierdie gebeure die verbond gebreek het en ‘n goue kalf aanbid het. Dit is uiters belangrik om die God wat ons dien en aanbid persoonlik te leer ken. Hierdie week let ons op die tweede eienskap waarmee Hy Homself bekend maak: Genade.
Genade is ‘n pragtige eienskap van God; seker die mees bekende eienskap. Een wat definitief met die God van die Christene geassosieer word. Maar, besef ons nog regtig die implikasie van genade?
Dink jouself vir ‘n oomblik die volgende in: Jy is in ‘n oorlog, jy veg nou al vir jare teen die vyand, jy het al baie dinge verloor in die geveg en die geveg gaan nie goed nie. Die vyand is baie sterker en is besig om die oormag te kry.
Dink jouself die oomblik in wat jy total omsingel is. Daar is nie meer uitkomkans nie, jy het verloor. Al moontlikheid vir oorlewing is om te pleit op die genade van die ander party. Jy maak maar ‘n wit lap aan ‘n stok vas en swaai dit in die lug rond. Dink jy dis ‘n oomblik van verligting? Dink jy jy sou vrolik voel die oomblik as jy moet oorgee? Jy het die stryd verloor. Jy is oorgelewer aan die genade van die ander party.
Dink ons ooit so aan genade? Dit is amper ‘n skokkende beeld, ons is so gewoond aan genade. Ons dink aan die liefde, vergewing en sorg van die Here. God is lief vir ons en daarom is Hy genadig. Ja, dit is beslis waar, maar plaas ons dit nog in die konteks van ons vyandskap teenoor God (Romeine 5:10, Kolossense 1:21)?
Ons is ons hele lewe nog besig om teen die Here te stry. Ons was aan die verkeerde kant. Aan die duiwel se kant. Net soos die Here vir Saulus gesê het, is dit vir ons hard om teen die prikkels te skop (Handelinge 9:5). Maar God is sterker. Dit help nie om teen Hom te veg nie. Op die ou end moet ons, net soos Saulus, oorgee. Ons wapper maar ons wit vlaggie.
Ja, dis pragtig as mense tot bekering kom, as mense besef dit help nie om teen God te veg nie. Dis pragtig as mense oorgee en vir God se genade smeek. Maar tog sien ons in onsself dat dit baie moeilik is om regtig oor te gee. Ons ou mens binne ons wil nog so graag baklei. Ons probeer so hard om self te besluit wat reg en verkeerd is…
Genade is mos 'n baie vernederende woord vir hoogmoedige mense. Dit beteken jy het self niks meer nie, jy kan niks meer nie, jy is volslae aan 'n ander uitgelewer. Soos daardie soldate wat gedwing is om die wit vlag uit te steek, so is ons teenoor God.
Ons het net nog lewe en toekoms as God ons genade wil bewys.
Dit is dan ook nie verbasend dat daar regdeur die eeue mense was wat teen die boodskap van die Bybel, dat ons slegs van genade kan lewe, in verset gekom het nie. Op allerhande maniere is daar probeer om aan die vernedering van daardie woordjie genade te kan ontsnap.
Nogtans kan ons uitroep van dankbaarheid, want die Koning wat ons oorwin het, laat ons nie net lewe nie, maar neem ons in Sy diens, meer nog, Hy noem ons selfs Sy kinders. God bewys ons genade op genade, op genade. Eerstens laat Hy ons leef, ons was vyande wat die ewige dood verdien het, maar ons word vrygespreek (Efesiërs 2:4-7). Tweedens gee Hy ons Sy Gees. Die Gees verander ons harte, sodat ons sien dat ons vir die verkeerde kant geveg het. Hy oortuig ons van ons sondes (Johannes 16:7-11). In die derde plek maak Hy ons Sy knegte (Levitikus 25:55, Jakobus 1:1). Met die Gees werk Hy goeie werke in ons, want ons kan dit nie self doen nie (Esegiël 36:27). En selfs dan belowe Hy nog steeds om ons vir ons geloof te beloon (Mattheus 6:3-4). En in die laaste plek maak Hy ons Sy kinders, en mede-erfgename saam met God die Seun (Romeine 8: 16-17).
Dit bly baie keer nog moeilik om ons volkome aan die Here oor te gee. Maar as ons ons oorspronklike staat en ons nuwe lewe besef maak dit ook dat ons Hom van harte kan loof en prys daarvoor. Dan aanvaar ons dit nie met hoogmoedige harte nie, maar met 'n hart vol dankbaarheid en psalms op ons lippe.
Gebed
Here God, Koning van Hemel en aarde. Ons bely dat ons nog so dikwels teen U genade veg. Baie dankie dat U ons al met God versoen het, terwyl ons nog vyande was. Dankie dat U vir ons genade op genade bewys, dat U nie net ons sonde vergewe nie, maar ook vir ons ‘n nuwe lewe gee. Werk met die Gees in ons hart, sodat ons ons lewe aan U sal oorgee, en U genade met dankbaarheid kan aanneem.
Coram Deo
God het in Sy genade al ons skuld betaal met die bloed van die Seun, terwyl ons nog sy vyande was. Hy bewys ons genade op genade, deur ons nie net te vergewe nie, maar ook ‘n nuwe lewe te gee.
Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria