Karakter van God – Barmhartigheid
Dit is uiters belangrik om die God wat ons dien en aanbid persoonlik te leer ken. In hierdie oordenking let ons op die eerste eienskap waarmee Hy Homself bekend maak: Barmhartigheid.
Lees: Psalm 103
“HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Exodus 34:6)
Exodus 34 vers 6 en 7 is een van die mooiste gedeeltes in die Bybel waar die Here sy eie karakter beskryf, veral as ons in gedagte hou dat die volk net voor hierdie gebeure die verbond gebreek het en ‘n goue kalf aanbid het. Dit is uiters belangrik om die God wat ons dien en aanbid persoonlik te leer ken. Kom ons let op die eerste eienskap waarmee Hy Homself bekend maak: Barmhartigheid.
Barmhartigheid is ‘n groot Bybelwoord wat ons maar min in ons gewone taal gebruik. In die Bybel vind ons ‘n pragtige beeld waarmee die dieper betekenis van hierdie woord beskryf word. In Hebreeus word dieselfde stam vir barmhartigheid gebruik as vir baarmoeder/skoot (Tim, Jon, & Carissa, 2020).
Dink aan ‘n ma wat ‘n baba verwag, kan jy aan ‘n veliger plek dink vir ‘n baba om te groei as binne in sy ma se baarmoeder. Buite kan dit koud en gevaarlik wees, maar binne in sy ma is die baba warm en veilig, en kry hy al die kos wat hy nodig het.
Of dink aan ‘n pasgebore baba wat rustig by sy ma lê. Wanneer hy so in sy ma se arms is, weet hy, hy is veilig en daar is iemand wat vir hom lief is en vir hom sorg.
As die Here sê Hy is barmhartig, sê Hy eintlik ons is soos daai pap babatjie en Hy is soos die liefdevolle moeder. Dit klink dalk bietje vreemd om te sê die Here is soos ‘n ma, maar dit is ook hoe die Here self dit verduidelik:
Jesaja 49:14-16, “MAAR Sion sê: Die Here het my verlaat, en die Here het my vergeet! Kan 'n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.”
En Jeremia 31:20, “Is Efraim vir My 'n dierbare seun of 'n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die Here.”
Is dit nie pragtig dat die God wat die hemel en die aarde gemaak het en aan die volk veskyn het in vuur en donderweer (Exodus 20:18 - wat net voor ons teks afspeel) Homself beskryf as ‘n liefdevolle moeder nie?
Een van die mooiste voorbeelde hiervan is die gelykenis van die verlore seun. Die jongste seun het sy Pa se geld gemors op verslawings, drank en verkeerde vriende. Wat doen die Pa in die gelykenis? Hy kyk elke dag of Hy nie al sy seun sien terug kom nie. En wanneer Hy hom sien, hardloop Hy na hom toe en gee hom ‘n soen en ‘n drukkie. Hy reël ‘n groot fees om te vier dat sy verlore seun weer terug is.
God is soos dit. Al het sy volk ‘n goue kalf gemaak en nie meer Hom gedien nie het Hy besluit om nie hulle dood te maak nie, maar om barmhartig te wees. Om barmhartig te wees is meer as om net te vergewe, dit is om weer iemand met liefde te hanteer terwyl hulle dit glad nie verdien nie.
Die Here doen dieselfde met ons. Ons is ook sondig. Ons het ook sy gebooie oortree, ons eie goue kalwers gemaak. Miskien was ons jaloers, miskien het ons geskinder of gelieg, miskien het ons ook dinge in ons lewe wat vir ons belangriker geraak het as God. Miskien was ons baie kwaad vir mense, miskien het ons ook verslawings. Die Here gooi ons nie weg nie. As ons om vergewing vra hardloop Hy as’t ware na ons toe, en verwelkom ons terug in Sy familie. Hy vergewe nie net ons sondes nie, Hy is selfs barmhartig en gee ons so baie liefde soos wat selfs nie eens die beste ma of pa op aarde ooit sal kan gee nie – Hy koop ons vry met Jesus se bloed.
Ja, God is inderdaad barmhartig. Dit is deel van sy karakter en vind uiting in aksies teenoor ons. Maar in die Bybel word ons opgeroep om net soos God te wees. Elkeen van ons lyk ‘n bietjie soos ons pa en ‘n bietjie soos ons ma. Ons is nou kinders van God so ons moet ook al hoe meer soos Hom begin lyk. God is barmhartig so ons moet ook barmhartig wees. Die Bybel het weereens ’n baie mooi voorbeeld van hoe ons barmhartig moet wees: die gelykenis van die barmhartige Samaritaan – ons moet ‘n naaste vir ander wees. Ons moet barmhartigheid wys vir almal wat ons teen kom, of dit nou ‘n vriend of ‘n vyand is.
Mag elkeen van ons vertroos wees omdat ons weet dat die Here barmhartig is. By Hom is ons veilig soos ‘n baba by sy ma, soos ‘n seun by sy pa, want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Mag ons elke dag dit in dankbaarheid besef en antwoord deur ook barmhartigheid aan ander te bewys.
Gebed
Here, God, dankie dat U, Uself bekend maak as Barmhartig. Here by U is ons geborge soos ‘n ongebore baba in sy moeder se skoot. Here, ons vlug dan ook na u toe vir beskerming, en vergewing, want daar is “Geen vader wat, deur smartgevoel bewoë, sy kind aanskou met teerder meededoë as Israels Here die wat Hom eer en vrees. Hy weet wat van sy maaksel is te wagte, hoe swak van moed, hoe klein van kragte, en dat ons stof van jongs af is gewees.”
Coram Deo
God maak Homself aan ons bekend as Barmhartig. By Hom is ons veilig en geborge, want hy vergewe ons nie net nie, maar neem ons ook in liefde as Sy kinders aan.
Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria
Bronne
Tim, Jon, & Carissa. (2020, August 31). The Womb of God? Retrieved from BibleProject: https://bibleproject.com/podcasts/the-womb-of-god/
 
                