Kan ek goed bid terwyl ek sleg lewe?
Het jy al ooit gevoel jy is te sleg om nou te bid, of dat die sonde waarin jy geval het jou heeltemal wegdryf van God? Of het jy dalk al gevoel jy worstel so met ‘n karaktersonde of verslawing en jy vra elke dag vir God in jou gebede om jou daarvan te verlos
Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria
Het jy al ooit gevoel jy is te sleg om nou te bid, of dat die sonde waarin jy geval het jou heeltemal wegdryf van God? Of het jy dalk al gevoel jy worstel so met ‘n karaktersonde of verslawing en jy vra elke dag vir God in jou gebede om jou daarvan te verlos, maar jy kan net nie met die sonde breek nie?
In hierdie artikel wil ons kyk wat die Bybel oor die saak sê. Ek wil graag op drie aspekte fokus:
- Belemmerde gebede
- God beantwoord elke belydenis
- ‘n Gepaste gebed
Voor ons wegspring met hierdie drie punte is dit belangrik om dit van die begin af duidelik te stel dat God elke gebed hoor. God hoor ook valse gebede en gebede van ongelowiges. Daar is egter geen Bybelse grond om aan te neem dat Hy hierdie gebede sal verhoor nie. Dit kan dalk vreemd klink. Wat as ‘n ongelowige in die moeilikheid is en tot God bid, sonder om in Hom te glo, amper as ‘n noodoplossing? Miskien werk dit?
In die Bybel lees ons dat Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh 14:6). Daar is geen manier hoe ons tot die Vader kan nader, behalwe deur Jesus Christus en sy offerbloed nie (Heb 10:19-22). Dit geld definitief ook vir ons gebede. Dit is slegs Jesus se offer aan die kruis wat dit moontlik maak dat ons, sondige mense, in gesprek kan tree met die almagtige God. God het dus geen verpligting om na enige iemand te luister wat sy grootste daad van genade nie wil aanvaar nie.
Belemmerde gebede
God hoor dus alle gebede, maar Hy hoor en sien baie meer. Ja, God hoor elke woord wat ons praat, sien alles wat ons doen en ken elke gedagte! Dit is waarskynlik juis die gedagte aan hierdie alwetendheid van God wat ons tot die vraag in die titel van hierdie artikel gebring het.
Sonde bring inderdaad skeiding tussen God en die mens. Die Bybel is duidelik daaroor: “maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jes 59:2). God sê selfs dat sy volk eerder heeltemal kan ophou met hulle godsdiens as wat hulle skynheilig offers bring, maar Hom nie gehoorsaam of die dank bring wat hulle verskuldig is nie (Spr 15:8, Psalm 50).
As ons besef hoe sondig ons is en hoe almagtig God is, word ons met dieselfde ontsag gevul wat Petrus sover gebring het om uit te roep: “Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man!” (Luk 5:8). Hoe sal ons as sondige mense ooit met God ‘n verhouding kan hê? Wie van ons is dan rein genoeg om met God in gesprek te kan tree in gebed?
God beantwoord elke belydenis
Ja inderdaad, as ons ons toestand besef, bely ons saam met Psalm 130:3: “As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” Dit kan ons baie magteloos laat voel, want gelukkig het God gesorg dat ons ook ‘n gewete het. Ons gewete kla ons aan, selfs as ons van God af wegvlug sal ons altyd besef dat daar iets fout is. Dawid erken: “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed” (Psalm 32:3-4).
God laat ons nie alleen nie. God het nie ‘n behae daarin dat sondaars verlore gaan nie, maar eerder dat hulle hul bekeer (Eseg 18:23). Daarom belowe Hy om altyd na ‘n gebed van bekering en skuldbelydenis te luister. Soos die vader in die gelykenis van die verlore seun, staan Hy elke dag en wag dat sy verlore seun moet terug kom (Luk 15:20). Wanneer ons terug kom, ontvang Hy ons met ope arms.
Eerder as om weg te vlug en op te hou bid wanneer ons vasgevang raak in sonde, moet ons juis na God toe vlug. Om een of ander rede is die mens se natuurlike reaksie na die sondeval om weg te kruip (Gen 3:8), terwyl ons juis die teenoorgestelde nodig het. In Psalm 32:3-4 sien ons hoe die onbelyde sonde en skuldgevoel Dawid verteer het, maar hy gaan aan om in vers 5 te sing hoe God hom genadiglik vergewe het toe hy sy sondes bely het. Dit is wanneer die psalm verander in ‘n uitbundige loflied.
'n Gepaste Gebed
Dit is dus duidelik dat om te bid die belangrikste ding is om te doen wanneer ons in sonde geval het of vasgevang is in ‘n patroon van sonde. Tog is daar ’n regte en ’n verkeerde manier van bid. Ek wil graag die volgende punte uitlig:
In Mattheüs 5:23-24 lees ons: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” As jy jou godsdiens nie kan beoefen voordat jy nie vrede met jou naaste gemaak het nie, hoeveel te meer geld dit nie vir God nie. Vra God om jou te vergewe ter wille van die bloed van Jesus. Vra Hom ook vir ’n nuwe hart.
Hierdie gebed om vergewing en vernuwing moet eerlik en opreg wees. C.S. Lewis skryf dat ‘n Christen eenmaal vir hom vertel het dat hy sy hele jonkheidslewe met sy lippe gebid het: “Here maak my rein”, terwyl hy in sy hart heimlik bygevoeg het: “maar asseblief nog nie nou nie”. Dit is ‘n goeie illustrasie van wat so dikwels in ons hart gebeur. Ons weet wat reg is en vra dit van God, maar in ons hart is daar geen intensie om ons oor te gee aan die Heilige Gees se vernuwende werk nie.
Jesus gee ons in Lukas 18:9-14 ‘n goeie voorbeeld van hoe om wel en hoe om nie te bid nie. Die gepaste houding is om soos die tollenaar op die bors te slaan en uit te roep: “o God, wees my, sondaar, genadig!”
Ons hoef nie terneergedruk te bly oor ons sonde nie. Deur die bloed van Christus is daar nou al vergifnis. Die voorhangsel het geskeur en ons mag vrymoedig tot God nader. “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons 'n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van 'n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Heb 10:19-22)
Daar kan sekerlik nog baie oor gebed, sondebelydenis en vergifnis gesê word, maar ons mag vir seker weet dat die Here elke eerlike gebed tot Hom nie onbeantwoord sal laat nie. Daar is vergifnis deur die bloed van Jesus. En ja, in hierdie lewe is ons nog sondig en val ons nog elke dag, maar dit is des te meer rede om tot God te vlug in gebed. Slegs in sy beskerming en deur die krag van die Heilige Gees is daar vir ons moontlikheid op lewe.
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp