Is jy gereed?

Is jy gereed?
News24

Die afgelope weke, maar veral die afgelope paar dae, het baie mense gepraat van die wegraping of 'rapture' soos dit genoem word in Engels. Dit is orals oor Facebook, Instagram, TikTok en die nuus. Die TikTok trend oor hierdie dinge word sommer 'raptok' genoem. 

Maar waar kom hierdie idee en aandag vandaan? Dit kom hoofsaaklik van twee mense. Die eerste is die wêreldbekende gospelsanger wat ʼn Christen predikant geword het - Danie Botha. En die tweede is ʼn Suid Afrikaanse dominee Joshua Mhlakela. Hulle albei praat met oortuiging dat die wegraping sou plaasvind tussen die 23ste en 24ste September 2025. Hulle vertel wel twee verskillende stories oor hoe hulle die datum gekry het. Danie Botha verduidelik in ʼn paar videos hoe hy, op ‘n dag, trompette en basuingeklank gehoor het. Hy noem dat God toe met hom gepraat het en gesê het dat iets kom. Later het God weer vir hom ‘n visioen gegee oor verskeie nommers wat uitwerk op die 23ste September 2025. Aan die ander hand, deel Joshua Mhlakela dat hy ook ʼn paar visioene gekry het waar hy Jesus sien en dat Jesus met hom gepraat het en vir hom baie spesifiek genoem het dat die datum wat Hy terug sal kom die 23ste September 2025 is. Hy het ook gesê dat God hom die taak gegee het om vir die mense te waarsku hieroor. 

Hierdie gesprekke oor die datum van die wegraping bring angs en vrees in baie mense. Dit veroorsaak ook bespotting van Jesus Christus en God die Vader asook Christene. Dit gaan ook so ver dat mense hulle besittings en geld weggee vir ander omdat hulle dink dat die ander mense, wat agterbly hier op aarde, dit nodig gaan hê na die wegraping. Dit alles veroorsaak chaos en paniek!

Maar hoe verder? Hoe moet of kan ons daarna kyk? Die wegraping is ʼn moeilike onderwerp vir Christene - baie sê dit is waar, soos Danie Botha en Joshua Mhlakela, terwyl ander Christene glo in die wederkoms van Christus en nie die wegraping nie. In die Bybel leer ons dat die wegraping nie waar is nie. In 1 Thessalonicense 4:13-18 lees ons: “Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” Hierdie verse verduidelik die terugkoms van Jesus Christus om ons te red en hemel toe te vat. Paulus verwys hier ook terug na Mattheus 24 waar die tekens van die eindtye verduidelik word. Christus gaan terugkom en al die gelowiges, lewende en dooies, bymekaar bring voordat Hy hulle almal na die hemel toe sal vat. 

Die wegraping en wederkoms van Christus is ʼn moeilike onderwerp, u kan dalk verder oplees hieroor in die artikels onder aangeheg. 

Ons as Christene moet nie nou fokus op of Christus gaan terugkom tussen 23ste en 24ste nie (teen die tyd wat julle hierdie lees is daardie tyd ook amper verby). Maar ons moet juis fokus op of ons reg is om voor God te kom. Christus kan nou kom maar Hy kan ook in 10 jaar kom of in 1000 jaar kom. Maar dit is nie die punt nie, soos Matthéüs 24:36 beskryf “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.”  Verder sê Matthéüs in vers 44: “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.” Ons moet nie nou net ‘geworry’ raak of Jesus nou gaan terug kom nie, maar ons moet kyk na ons eie lewens. Maak jou lewe reg voor God. Want dit is seker dat ons eendag en enige dag voor God gaan kan kom. Ons kan enige oomblik sterf, of dit van siekte is of ʼn karongeluk of van enigiets anders nie. As ons sterf of as Christus voor dan terugkom, gaan ons voor die Here moet verskyn waar ons ons dade en lewe sal moet verduidelik en verantwoordelikheid vir dit sal moet neem.

Lewe nou met die denkwyse om reg te wees as Christus nou sal terugkom, dat ons nie skaam is oor ons lewens nie. Is jy reg vir Christus se terugkoms? Is jy oortuig dat Hy vir jou sondes gesterwe en weer opgestaan het om ʼn plek in die hemel te maak vir jou en dat Hy sal terugkom om jou na God te bring sodat jy Hom daar kan loof tot in ewigheid? Ek eindig met Paulus se woorde in 1 Thessalonicense 5:1-11 “julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag ... Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie ... Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe. Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.”  

Gebed

HERE, almagtige Vader, Skepper van hemel en aarde. Here, ek kom voor U wat alleen weet van U plan vir die aarde. Help my om U werke raak te sien en ook daarvan te getuig. Help my om ander mense bewus te maak van U Seun en sy reddingswerk, wat op die kruis gesterwe het vir al ons sondes. Help my ook om op U te vertrou deur die moeilike tye, dat ek krag in U kan vind. Asseblief stuur U Gees om ons almal ook te versterk in hierdie stryd. Kom Here Jesus, kom gou! Amen.

Coram Deo

Gee Hom die eer van nou tot in ewigheid. Gee Hom jou lewe, want Hy sal terugkom. Getuig vir ander dat Christus sal terugkom en dat almal reg gaan moet wees vir daardie dag. 

Verdere Bybelstudie

1 Thessalonicense 4 en 5 | Matthéüs 24 | Openbaring 8

Bronne

Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata