Geestelike Apatie: 'n Onsigbare Gevaar
Dit is laat in die aand en jy weet jy moet Bybel lees en bid voordat jy gaan slaap, of weet jy het môre Bybelstudie, maar het nog glad nie voorberei nie. Dit moet gedoen word, maar jy het regtig nie lus daarvoor nie.
Hierdie artikel is deel 1 van 2. Deel 2 word volgende week gepubliseer.
Dit is laat in die aand en jy weet jy moet Bybel lees en bid voordat jy gaan slaap, of weet jy het môre Bybelstudie, maar het nog glad nie voorberei nie. Dit moet gedoen word, maar jy het regtig nie lus daarvoor nie. Dieselfde gebeur dalk op ‘n Sondagoggend. Die kerk begin oor ‘n halfuur, maar jou bed lê baie lekker. Jy kan mos altyd inluister. So maklik gebeur al hierdie dinge met ons. Ons aanvaar dit dikwels ook net, want dit is maar hoe ons is - al weet ons diep in ons harte dat dit nie reg is nie.
Die beskrywing vir hierdie gevoel is ‘apatie’ in die breëer konteks. Dit kom van die Griekse woor apatheia af. Die voorvoegsel ‘a’ beteken sonder en ‘patos’ beteken emosie. Dus, om iets sonder emosie te doen. Dit word vandag dikwels gebruik vir gebrek aan belangstelling aan iets. Die Bybel waarsku ons sterk teen sulke optrede in Romeine 12:11 - “wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” Ons sien dit baie keer in onsself raak, maar weet nie hoe om daarteen te stry nie. Om daarteen te stry, moet jy dit eers in jouself raaksien en ook verstaan waar dit vandaan kom. Soos enige ander stryd moet jy voorbereid wees.
Waar kom apatie egter vandaan en wat is die oorsaak daarvan? Dit loop baie keer hand-aan-hand met iets soos depressie en is nie net ‘n gebrek aan belangstelling, entoesiasme of besorgdheid nie, maar ook ‘n belangstelling in die verkeerde dinge. Dit is lekkerder om te slaap as om kerk toe te gaan, of om tyd op sosiale media te spandeer is lekkerder as om na Bybelstudie toe te gaan. Ons kan nog dieper kyk wat wat die rede agter die gevoel is. Daar is ses redes waarna ons graag hier wil kyk. Dit gaan alles oor ‘n geestlike geveg rondom ons wat ‘n invloed op ons het en die stryd in onsself teen ons sondige natuur.
1) Twyfel
Dikwels sit ons met n moelike vraag, dalk iets soos die uitverkiesing. Of dalk moet jy ‘n groot besluit maak soos van kerke verskuif, maar is nie seker waarheen om te skuif nie. Die onsekerheid en twyfel oor watter rigting om te kies lei dikwels daartoe dat geen besluit gemaak word nie.
2) Smart of hartseer
Ons gaan almal deur moeilike tye. Ons verloor dalk geliefdes, word afgedank of verhoudings breek op. Nog baie meer dinge kan genoem word. Hier loop depressie baie keer baie naby aan apatie - met die verlies verloor ons baie keer ook hoop. Drome en planne is verpletter. Sonder dit lyk alles hopeloos en dit voel of niks meer saak maak nie. Daar is nie meer nut om in enige iets belang te stel of aandag aan te gee nie.
3) Onbenullighede
Dikwels is ons baie besig met soveel dinge. Die lewe is een groot gejaag. Werk is belangrik, universiteit is belangrik, Bybelstudie is belangrik en dan nog is geloof ook belangrik vir ons. As alles belangrik is, is niks eintlik belangrik nie. Ons maak nie meer onderskeid tussen die belangrikheid van dinge in ons lewens nie. Dit bepaal hoeveel moeite ons insit. As geloof en kerk nie die ding is waaraan ons ons volle aandag grotendeels gedurende die week rig nie, is dit die gedeelte van ons lewe wat in die agtergrond geskuif word. Daar bly net nog bietjie energie, as ons nog het, aan die einde daarvoor oor.
4) Onvoldoendheid
As jeug het ons nog nie so baie lewenservaring en kennis nie. En as ons enige iets doen, is dit nog nie so groot nie. Ons voel ons kan nog nie die groot besluite neem nie. Waarom dan enigsins besluite maak? Waarom dan enigsins na Bybelstudie kom of na die kerk of na enige vergaderings van die aard? Ons kan glo dat ons besluite en bydrae nie veel beteken nie. As ons groter word bly die vrae steeds staan: watter verskil maak een keuse van een persoon ooit?
5) Breekbaarheid of Broosheid
In die eerste rede het ons al met moeilike tye te doen gekry. Daar was die oplossing om gewoon nie die besluit te maak nie. ‘n Ander oplossing wat ons ook kan hê, is om sulke tye heeltemaal te vermy. As ons weet die gemeentevergadering gaan konfronterend wees of die stuk vir die Bybelstudie gaan baie ongemaklike vrae opbring, dan maak ons soms die besluit om dit heeltemaal te vermy - netnou beland jy in ‘n moeilike situasie of word jy dalk direk ‘n vraag gevra. As jy weer sien probeer jy dit alles heeltemaal te vermy. Jy word broos en kies eerder om te skuil.
6) Ten slotte: ‘n Gebrek aan dissipline en ‘n doel
Dit klink soos iets wat elke selfhelp-boek vir jou sal sê, maar daar is waarheid in vir ons geloof ook. Waaraan jy aandag gee of wat jou doel is, bepaal op die ou-end wat jy dink en waarna jou hart neig. As jy net goeie punte soek of ‘n sukses van jou besigheid wil maak, dan fokus jy in alles wat jy doen daarop.
Geestelike apatie is dus nie iets wat buite ons staan nie, maar iets wat diep in ons eie harte wortelskiet. As ons eerlik is, sal elkeen van ons iets hiervan in onsself herken. Die vraag wat oorbly, is nie of hierdie stryd werklik is nie, maar of ons bereid is om dit ernstig voor God te bring. Ons bespreek dit in die volgende artikel.
Geskryf deur Ben Bunk, VGK Pretoria