Gaan die nuwe jaar in met Prediker se wysheid

Nuwejaarsdag - die eerste dag van ‘n nuwe jaar. ‘n Dag waarop meeste van ons groot drome het vir die jaar wat voorlê. Die nuwejaar bring baie keer verandering - nuwe voornemens, nuwe projekte of dalk nuwe vakke. 

Gaan die nuwe jaar in met Prediker se wysheid
Photo by Peter Spencer: https://www.pexels.com/photo/fireworks-photo-634694/

Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria

Nuwejaarsdag - die eerste dag van ‘n nuwe jaar. ‘n Dag waarop meeste van ons groot drome het vir die jaar wat voorlê. Die nuwejaar bring baie keer verandering - miskien is jy klaar met skool en gaan nou universiteit toe, miskien begin jy werk of het jy planne om oorsee te gaan. Of dalk is die verandering minder groot - dit is net nog ‘n jaar op universiteit, skool, of by die werk. Tog ook dan is daar nuwe voornemens, nuwe projekte of dalk nuwe vakke. 

Al die nuwigheid kan ons opgewonde laat voel, maar dit kan ons ook onseker laat voel. In dit alles is die Bybel vir ons ‘n goeie kompas. Dit gee vir ons goeie raad hoe ons hierdie nuwe jaar tot eer van die Here kan aanpak. Kom ons kyk wat die Bybel ons leer in Prediker 11. Dit is ‘n bekende gedeelte, en tog bevat dit soveel wysheid.

Toekoms is onvoorspelbaarSoos jy nie weet wat die weg van die wind is, of hoe die gebeente in die skoot van ‘n swangere is nie, net so weet jy nie die werk van God wat alles doen nie.” (Prediker 11:5)

Ons weet nie wat die toekoms bring nie. Ons as mense kan groot planne maak, ons kan droom, ons kan sperdatums stel, maar uiteindelik het ons nie beheer oor die loop van gebeure nie. Die groot Koning sit in die hemel. Hy is die beskikker van ons lot en lewe, Hy beheer die geskiedenis. 

As die wolke vol reën is, giet hulle dit uit op die aarde; en as ‘n boom na die suide of na die noorde val, op die plek waar die boom val, daar bly hy lê.” (vers 3). 

Wanneer ons die nuwe jaar ingaan moet ons hierdie waarheid in gedagte hou. Jakobus skryf ook vir die gelowiges van die nuwe testament dat hulle moet oppas om net te sê “Vandag of môre sal ons na die of die stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak” (Jakobus 4:13), want sê Jakobus, julle weet nie eens wat môre gebeur nie. Hy leer ons om altyd God die erkenning te gee deur te sê “as die Here wil en ons lewe” (Jakobus 4:15). 

So die eerste boodskap van Prediker 11 is om te onthou dat die toekoms onbekend is. Ons kan planne maak, maar uiteindelik lei God ons paaie. Soms kan dit vir ons lastig voel, maar as ons dieper daaroor dink, is dit eintlik so troosvol en versterkend, want die Een wat, uit liefde, bereid was om sy eie Seun aan ‘n kruis te laat sterf, is ook die Een wat elkeen van ons se lewensverhaal skryf. Ons hoef ons daarom nie te bekommer oor môre nie, gee nie om hoe onseker die toekoms lyk nie. Ons kan ons lewe met ‘n geruste hart aan die Here oorgee. 

Werk hardSoms word ons verlam deur die onsekerheid van die lewe. Die Prediker skryf oor hierdie realiteit in vers 4: “Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie.” 

Aan die een kant kan die onsekerheid van die toekoms maak dat ons niks durf aanpak nie omdat ons nog nie weet wat sal werk en wat sal gebeur nie. Aan die ander kant is daar ook die gevaar dat ons, heel gelowig, ons hele lewe in God se hand oorgee maar nie bereid is om die werktuie te wees nie. 

Hier geld die eeue-oue leuse van Benedictus “Ora et Labora” of te wel “Bid en Werk”. Ja God is in beheer, maar Hy maak gebruik van baie eenvoudige, allerdaagse maniere om sy wil uit te voer. Ja, daar was inderdaad tye wat die brood letterlik uit die hemel geval het, maar vir die meeste van die geskiedenis moes mense koring plant, oes, dors, maal en brood bak. 

Die Prediker roep ons dan ook op om hard te werk: “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie.” (vers 6)

Help ander

Baie keer is dit vir ons maklik om ons lewens al heeltemal vol te beplan - werk, skool of studies neem so baie tyd in beslag, daar is nog skaars tyd oor vir onsself, en in die tyd wil ons so graag sport kan doen, met vriende kuier of net ontspan. Dit is inderdaad alles belangrik; ons moet vir ons self sorg, maar in ons samelewing waar die eie self oorbeklemtoon word, is dit maklik om van ons naaste te vergeet. 

Die Prediker roep ons dan ook op: “Werp jou brood uit op die water... Gee ‘n deel aan sewe; ja, ook aan agt; want jy weet nie watter onheil daar op die aarde sal wees nie” (vers 1-2). God vra van ons om goed te doen aan ander, sonder om te iets terug te verwag.

In al die drukte mag ons nie van die behoeftes van ander vergeet nie. Ons moet nie so besig met onsself raak dat ons nie tyd het vir ander nie. Dit is deel van die groot gebod om ons naaste lief te hê soos onsself en God bo alles. 

Laat ons ook in hierdie nuwe jaar seker maak dat ons tyd maak vir ons naaste, dat ons saam Bybelstudie doen (al is dit nie altyd mense met wie ons van nature oor die weg kom nie), dat ons bereid is om te help waar ons kan met beide ons tyd en ons hulpbronne. 

Geniet van dit wat die Here geeTeen die tyd voel mens dalk al: Is werk en ander help dan al waaroor die lewe gaan? Dit klink nie regtig meer lekker om die nuwe jaar in te gaan nie. 

Dit is beslis nie die boodskap van die Bybel of van Prediker nie. Regdeur die boek wys die Prediker uit dat die lewe ‘n gejaag na wind is, dat meeste dinge wat ons aanpak nie nut het nie en in dit alles was sy konklusie telkens: die beste ding om te doen is om nie gejaagd te wees nie, maar om te geniet van dit wat die Here vir jou gee, soos kos, jou vrou en werk. Ook in Prediker 11 word ons opgeroep om die lewe te geniet:

Verder, soet is die lig, en goed is dit vir die oë om die son te aanskou. Want as die mens baie jare lewe, moet hy hom in dié almal verheug en dink aan die dae van duisternis, dat dit baie sal wees; alles wat kom, is nietigheid” (vers 7-8)

Die gedeelte gaan selfs aan en spreek spesifiek die jeug aan om hulself te verbly in hulle jonkheid, vrolik te wees en te wandel in die weë van hulle hart (vers 9). Geloof en ‘n lewe naby God is nie ‘n tronk nie. Nee, naby God vind ons juis die ware vrede, geluk en vervulling van ons lewe. 

Mag ons ook in hierdie nuwe jaar, so in blydskap en dankbaarheid leef. Meeste van ons is uitermate geseënd en kom niks kort nie. Laat ons die dankbaarheid uitstraal en God elke dag daarvoor die eer gee. 

Onthou dat God sienIn dit alles moet ons egter onthou dat God alles sien: “weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring” (vers 9b). 

Wanneer ons planne maak, wanneer ons werk, as ons besluit hoe ons ons tyd gebruik, wanneer ons ander help, en wanneer ons ontspan moet ons altyd onthou dat God nie net sien wat ons doen nie, maar selfs ons harte deursoek. Mag 2026 bo alles ‘n jaar wees waarin ons nader aan God groei, Hom in alles soek, Hom die eer gee, en ons toekoms in sy hande lê.