Ek is trots, maar op wat?
In hedendaagse gesprekke dra die konsep van trots dikwels 'n negatiewe konnotasie, veral binne ons eie Christelike kringe waar nederigheid hoog aangeskryf word. Tog is dit deel van ons daaglikse taalgebruik. Ons sê: “Ek is trots op my prestasies in sport.”
Geskryf deur Johann Snijder, VGK Maranata
In hedendaagse gesprekke dra die konsep van trots dikwels 'n negatiewe konnotasie, veral binne ons eie Christelike kringe waar nederigheid hoog aangeskryf word. Tog is dit deel van ons daaglikse taalgebruik. Ons sê: “Ek is trots op my prestasies in sport.” of “Ek is trots op my goeie punte, want ek het so hard gewerk daarvoor.” ‘n Ouer sal sê dat hulle trots is op hul kind wat dit of dat bereik het. Wanneer ons dit hoor is dit nie vir ons vreemd nie, maar roem ek op hierdie manier op myself? Raak ek hoogmoedig? In ons geloof moet ons trots wees! Ek is versigtig om dit te sê, maar laat ek verduidelik. Geagte leser, hierdie gereformeerde siening van ‘Christelike trots’ gaan nie oor selfverheerliking nie, maar oor die erkenning, dankbaarheid en viering van die werk van God in en deur ons lewens.
Kom ons kyk vir ‘n oomblik na ‘n paar belangrike teologiese waarhede waaraan ons vashou. Ons beklemtoon die soewereiniteit van God en die totale verdorwenheid van die mens, wat ons volledige afhanklikheid van God se genade beklemtoon. In hierdie konteks wil ek graag ‘Christelike trots’ duidelik definieer nie as 'n persoonlike prestasie nie, maar as 'n erkenning van die werking van God se genade in ons lewe. Vir ons is ‘n meer verstaanbare woord dan miskien eerder ‘dankbaarheid’. In plaas daarvan om te sê: “Ek is trots op my punte” kan ek eerder sê: “Ek is dankbaar vir my punte.” Die apostel Paulus praat dikwels in sy briewe van roem, roem in die Here. In 1 Korintiërs 1:31 haal hy die profeet Jeremia aan wat sê: "Die wat roem, moet in die Here roem." Hierdie soort roem verskuif die fokus van onsself na God en erken dat alle goeie dinge wat ons in ons lewe ervaar, van Hom afkomstig is.
Wanneer ons dink aan ons nuwe identiteit in Christus en ons roeping, verander dit ook ons definisie van roem. Ons word geroep om trots (oftewel dankbaar) te wees, nie op ons eie prestasies of inherente kwaliteite nie, maar op ons identiteit as aangenome kinders van God. Hierdie trots is gewortel in die veranderende werk van Christus se versoening aan die kruis en die voortdurende heiligmaking deur die Heilige Gees. Efesiërs 2:10 sê vir ons: "Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel." Ons identiteit is te danke aan God en sý werk. Dit is wat aan ons waarde gee en dit is die enigste rede waarom ons wel kan roem, of kan trots wees.
Ons mag roem oor God se werk in die gemeenskap. Die kerk, as die liggaam van Christus, is 'n lewende getuienis van God se verlossende werk. As gemeenskap van Christus mag ons trots wees, nie weens ons eie menslike prestasies nie, maar weens die getuienis van God se werk wat daarin na vore kom. Diensbaarheid, gesamentlike geestelike groei en gemeenskaplike byeenkomste soos die erediens is alles getuienisse van die genadewerk wat God onder ons doen. In 1 Tessalonisense 1:2-3 spreek Paulus sy dankbaarheid uit oor die Thessalonicense se geloof, liefde en lydsaamheid, en beklemtoon ook dat al hierdie dinge die werk van God onder hulle is. Ons behoort ‘n baie duidelike onderskeid te tref wanneer dit kom by ons kerkgemeenskap. Laat ons ver daarvan bly om hoogmoedig te raak oor ons eie gemeenskap. Romeine 3:23 behoort in ons harte te wees in hierdie verband: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”. Ons waarde lê alleen in Jesus Christus, nie in die naam van die kerkverband wat ons dra nie. As ons hoogmoedig raak oor ons eie kerkverband verdraai dit die boodskap van die evangelie en breek dit die eenheid van die liggaam van Christus af. Ja, dit skep verdeeldheid. Dit beteken dat wanneer ‘n besoeker by ons op die kerkplein kom, voel hulle uitgesluit en onwelkom. ‘n Verdere gevaar vir ons as ons hoogmoedig raak oor ons kerkverband is dat ons eie geestelike lewe stagneer. Dis asof ons dink ons reeds by die eindbestemming van die pelgrimstog aangekom het. Dit veroorsaak dat ons nie meer geestelik groei of verbeter nie. Die Here het ons opgeroep tot heiligmaking in hierdie lewe. Laat ons dan elke dag smag om nader en nader te groei aan Christus van wie al hierdie dinge kom. Wanneer ons dan op onsself begin roem moet ons terugdraai na Paulus se vraag in 1 Kor 4:7: “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”
Ons straal ook ‘n beeld uit na die wêreld. ‘n Gemeenskap wat hoogmoedig is beskadig sy getuienis aan die wêreld. In plaas daarvan om mense te trek na Christus, dryf ons hulle weg. Hoogmoed beskadig die naam van Christus wat ons dra. Wanneer ons verstaan dat ons identiteit en prestasies gewortel is in God se genade, kan ons ons geloof vol moed en nederigheid aan die wêreld uitstraal. Hierdie nederige vertroue word weerspieël in 2 Korintiërs 3:4-5, waar Paulus sê: "So ‘n vertroue het ons deur Christus by God. Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God”. Die Gees maak ons lewend, maar wanneer ons uit die letter van die wet leef dan is ons dood. Leef daarom in dankbaarheid in die Gees.
Ware ‘Christelike trots’ moet altyd lei tot groter nederigheid en dankbaarheid teenoor God. Dit is 'n voortdurende erkenning van ons afhanklikheid van Sy barmhartigheid en genade. Filippense 2:3-4 leer ons: "Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.” Ek wil jou, leser, graag uitnooi om God se werk in jou lewe raak te sien en te vier, met nederigheid en dankbaarheid teenoor God wat dit in Christus aan ons gegee het. Daarom wees trots, nie op jouself nie, maar op die transformerende krag van God se genade in jou lewe, jou nuwe identiteit in Christus, en die gemeenskap van geloof wat deur Sy genade gebou word.
Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp