Die vierde bede: "Gee ons vandag ons daaglikse brood"
Elke mens kort kos om te kan lewe. Sonder kos kan ons liggaam nie funksioneer nie. Mens kyk vinnig verby die ryke seëninge wat ons het om elke dag brood op tafel te mag hê. Hierdie artikel fokus op die doel van voedsel in ons lewe as Christen.
Geskryf deur Werner de Jong, VGK Maranata
Elke mens kort kos om te kan lewe. Sonder kos kan ons liggaam nie funksioneer nie. Mens kyk vinnig verby die ryke seëninge wat ons het om elke dag brood op tafel te mag hê. Hierdie artikel fokus op die doel van voedsel in ons lewe as Christen.
Die Onse Vader word opgedeel in twee dele, naamlik ons verhouding met God en ons as kinders van God. Die laaste drie bedes handel oor hoe ons as kinders van God is. As mens die Onse Vader bestudeer, lyk dit miskien vreemd omdat ons eers bid vir kos en daarna bid vir vergewing van sondes. Paulus het dit soos volg verduidelik: ”Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.” (1 Korinthiërs 15:46). Daarmee wys hy dat mens eers voedsel nodig het om met God ‘n verhouding te kan bou.
Die kerk in die Middeleeue het dit dikwels verkeerd verstaan. Hulle het Christus se woorde letterlik opgevat omdat Hy Homself die Brood van die Lewe genoem het. (Johannes 6:48). Hierdeur het hulle afgedwaal en die Mis van die Roomse Kerk ondersteun - die idee dat die brood aan tafel Christus se liggaam is. Hierop is daar in Vraag en antwoord 125 van die Heidelbergse Kategismus duidelik gewys dat dit nie die geval is nie, maar eerder ware voedsel wat vir die liggaam nodig is om te funksioneer - om so God te kan dien. Ons bely ook daarmee saam dat ons moet bid vir voedsel, en daardeur vereer ons God omdat Hy die Bron is van alles wat lewe. Soos Romeine 11:36a dit mooi stel: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.”
Ons kan in die Ou Testament dikwels sien hoe God vir sy kinders liggaamlik voed. Dink maar aan die manna in die woestyn. God kom sy beloftes na en voorsien ook sodat ons Sy beloftes moet onthou. Moses het die woorde van God in Deuteronomium 8 geskryf om te wys dat God vir Sy kinders sorg en hulle onderhou. Die manna is deur God gegee om aan die volk bekend te maak dat mens lewe van alles wat uit God uitgaan.
Selfs in die Nuwe Testament wys Hy dieselfde. Christus wat 40 dae en nagte sonder kos in die woestyn was, is versoek deur die duiwel. Hy het egter die woorde wat Moses neergeskryf het, gebruik om die duiwel te weerstaan. Dit gaan hier daaroor dat God nie net daar is om kos te voorsien nie, maar weerens dat die kos van God af kom.
Soos God in die Ou en Nuwe Testament aan sy volk voorsien het, skenk Hy steeds vandag aan ons ons daaglikse brood. Ons mag en moet Hom ook daarvoor vra sodat alle eer aan Hom toekom. Sal ons uit onsself dit kan vra? Nee, want God is die Bron van alles wat lewe. Hy wil deur die woorde ons juis wys dat alles van Hom af kom. Dieselfde Krag wat die manna vir die Israeliete gegee het, gee vandag nogsteeds ons daaglikse brood op tafel.
Verder kan ons sien dat daar ‘n doel is agter voedsel wat van Hom af kom. Sonder kos is daaglikse werk nie moontlik nie. Ons kort die energie van kos om ons skeppingsopdrag te kan uitoefen. God het in die skeppingsopdrag beveel om te heers oor die skepping, wat insluit dat ons dit moet bewerk en bewaar, maar ook om die aarde te vul (Genesis 1:28). God wil weereens hierdeur wys dat Hy die Skepper is en ons die voedsel gee om Sy bevele te gehoorsaam en daardeur eer aan Hom te skenk.
‘n Belangrike tyd om God vir voedsel te bid en te dank is voor en na die oestydperk. Ons kom saam as gemeente met die doel om God te vra dat Hy vir ons ‘n goeie oes sal gee. Ons plaas dus al ons vertroue op Hom. Na die oes dank ons Hom vir die nuwe voedsel op tafel omdat alles van Hom af kom. Ons mag altyd weet dat God vir ons sal voorsien, ons hoef nie daaraan te twyfel nie. Hy sê dit ook in Sy Woord: “Kyk na die voëls van die hemel, hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Matthéüs 6:26).
Samevattend kan ons sien dat alles van God af kom en dat Hy wil hê dat ons daarvoor moet bid. Ons hoef nie bang te wees om God vir kos te vra nie. Die vierde bede leer ons hoe om ons verhouding met God te bou en ons vertroue ten volle op Hom te plaas.