Die verhouding tussen kerk en LGBTQ+ en hoe ons met mense in daardie gemeenskap omgaan.

Te midde van hedendaagse bewegings oor homoseksualiteit en die LGBTQ+ gemeenskap, word die kerk elke dag gevra hoe ons omgaan met seksualiteit en veral hoe ons in liefde die saak kan benader.

Die verhouding tussen kerk en LGBTQ+ en hoe ons met mense in daardie gemeenskap omgaan.
Photo by Diogo Fagundes / Unsplash

Geskryf deur Wicus van der Linden, VGK Bellville

Broers, as iemand deur een of ander sonde oorval word, moet julle wat met die Gees vervul is, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp; maar let op jouself, dat ook jy nie versoek word nie. Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus.” - Galasiërs 6:1-2

Te midde van hedendaagse bewegings oor homoseksualiteit en die LGBTQ+ gemeenskap, word die kerk elke dag gevra hoe ons omgaan met seksualiteit en veral hoe ons in liefde die saak kan benader.

God se plan vir seksualiteit

“Maar van die begin van die skepping af het God hulle manlik en vroulik gemaak. Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een.” - Markus 10:6-8

God het die mens, man en vrou, in sy beeld geskep, soos ons in Genesis 1-2 lees. Hy het hulle vir mekaar geskep, om saam in die huwelik sy heerlikheid en liefde uit te beeld. Ons sien veral in Efesiërs 5 hoe die huwelik ‘n refleksie is van Christus se liefde vir die kerk, en die kerk se eenheid met Christus.

Die sondeval het egter hierdie perfekte beeld van God versteur en verskeie kwale en gebreke in die mens se hart gesaai. Ons sien en hoor elke dag van gebroke verhoudings, egbreuk en skeidings, ontrou in die huwelik, en menigmaal ander sondes wat verhoudings tussen mense en tussen mens en God versuur. 

Ons lees in Levitikus 18 en 20, sowel as Romeine 1, dat homoseksualiteit een van die soort verdraaiings van die Bybelse beeld van die huwelik en seksualiteit is. Levitikus 18:22 en 20:13 leer ons dat dit verbode is dat ‘n man met ‘n man te slaap soos met ‘n vrou. Dit is afstootlik vir God, ‘n ernstige sonde wat die straf van die dood moet dra. Die konteks van hierdie gebooie wys ook dat dit duidelik ‘n sonde teen die sewende gebod en dus ‘n verwronge beeld van seksuele gemeenskap is. Ons leer verder uit Romeine 1:26-27 dat hierdie sonde ontaard uit verdraaide begeertes van die hart.

Die Skrif het dus ‘n duidelike uitspraak dat homoseksuele dade ‘n sonde is wat nes ander sonde in die gebroke hart begin. In 1 Korinthiërs 6 sien ons die somber uitkoms van sulke sondes, maar ons sien ook God se genade wat deur die donker skyn. Die doodstraf is gedra op die kruis, vir alle sondes. Vergifnis en versoening is vrylik beskikbaar vir almal wat bely. 

“Weet julle nie dat onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërf nie? Laat julle nie mislei nie: Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie. So was sommige van julle ook, maar julle het julle laat was, julle is geheilig, en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” - 1 Korinthiërs 6:9-11

Homoseksualiteit

‘n Belangrike onderskeid om te maak in hierdie gesprek is tussen die versoeking van sonde en die sonde self. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (artikel 15) verwys na die erfsonde as die wortel waaruit allerhande sondes uitspruit. Daardie selfde wortel bring ook in sommige mense die versoeking tot homoseksuele gedagtes, woorde of selfs dade. In die Dordtse Leerreëls bely ons dat die wat na God roep, verlos word van die slawerny van sonde, maar nie volkome van die sondige natuur en bestaan bevry word in hierdie lewe nie. Ons word dus steeds by tye deur ons eie skuld en deur die begeerlikhede van die sondige natuur verlei.

Dus moet ons verstaan dat die bestaan van versoekings en neigings tot homoseksualiteit in die hart nie insigself die mens van die koninkryk van God weerhou nie. Die Bybel verdoem nie die versoeking tot sonde nie, maar die sonde self. In dieselfde manier wat ‘n mens versoeking ervaar tot seksuele misdaad soos buite-egtelike gemeenskap of pornografie, is daar die onder ons wat met ‘n doring van homoseksualiteit belas is.

Ons kan redeneer oor die oorsprong van die homoseksuele neigings: of dit ‘n aangebore kwaal is, ‘n psigiese kondisie of die gevolge van sondige leefwyses. Die punt bly staan dat dit ‘n gevolg is van die sondeval en dat verlossing daarvan slegs deur Christus moontlik is. In Johannes 9:3 sê Jesus van ‘n man wat blind gebore is dat nóg hy, nóg sy ouers gesondig het. Dit het gebeur sodat die dade van God in hom geopenbaar kan word. As ons met homoseksualiteit gekonfronteer word, moet ons besef dat elke persoon se stryd en geskiedenis met hul sondige natuur uniek is. Dit kan selfs deel van God se plan wees.

Hoe gaan ons dus daarmee om?

Soos met alle sonde, behoort daar ‘n balans te wees in die kerk se reaksie op homoseksualiteit binne die gemeente. Die kerklike tug is bedoel om die sonde te oordeel, maar tog die sondaar te ondersteun in liefde. Elkeen van ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons broers en susters in Christus om sonde in hul lewe uit te wys, maar juis in ‘n gees van sagmoedigheid, terwyl ons ook op onsself en ons eie versoekings let. Ons mag nie toelaat dat die afstootlikheid van die sonde ons liefde vir die sondaar oorweldig nie.

Deur die liefde van Christus is almal welkom om deel van sy liggaam te wees, ongeag van ons sondige geaardheid, geskiedenis of neigings. Ons word wel opgeroep om ons ou self af te sterf en die nuwe mens aan te trek. Ons word ook opgeroep om mekaar daarin te ondersteun en om mekaar se laste te dra in nederigheid en sagmoedigheid. Christus self leer ons in Mattheus 7, en Paulus beaam dit in Romeine 2, dat ons stryd met sonde altyd in onsself begin. As ons waarlik ons broer of suster wil ondersteun in hul stryd, moet ons eers die balk uit ons eie oog haal. Slegs dan kan die liefde van Christus waarlik deur ons skyn.

Wat dan van die LGBTQ+ beweging?

As Christene word ons opgeroep om ons af te sonder vir God. Ons verantwoordelikheid is om ons broers en susters in die geloof tereg te wys en te ondersteun. Beteken dit dat ons niks kan sê oor sondes en euwels in die sekulêre wêreld nie? Ons vind weereens die antwoord hierop in die Skrif.

“Tree met wysheid teenoor buitestanders op, en koop die tyd uit. Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om 'n ieder en 'n elk te antwoord.” – Kolossense 4:5-6

Die Grieks kan letterlik vertaal word as: “laat julle woorde altyd in genade wees”. Die kerk is die bron van lig in ‘n duister wêreld en as Christene verteenwoordig ons die liefde en genade van Christus in die wêreld. Ons moet in wysheid met ongelowiges handel, bereid om alles vir die ander persoon te wees om hul vir Christus te wen, sonder om die waarheid te verloën. Dit kan selfs beteken om in wysheid stil te bly, of om in wysheid na vore te kom met ‘n uitspraak. Ons kyk nie verby die sonde nie, maar nes Christus met die owerspelige vrou, veroordeel ons ook nie die sondaar nie.

Ons lewens moet ook getuig van die evangelie. Dit is die beginpunt van ons omgang met enige iemand buite die kerk. Petrus beveel in sy eerste brief dat ons alle mense respekteer, selfs dié buite die geloof. In alle gevalle wat ons met mense buite die Christengemeenskap omgaan, is ons hoofdoel nie om sondaars te kritiseer of om sonde te veroordeel nie. Ons hoofdoel is en bly altyd om in liefde en respek van Christus se genade te getuig en God se Naam te verheerlik.

Bronnelys

  1. https://www.christianstudylibrary.org/article/gay-no-way
  2. https://www.christianstudylibrary.org/article/pastoral-advice-homosexuality
  3. https://www.christianstudylibrary.org/article/homosexuals-congregation-plea-compassion
  4. https://www.christianstudylibrary.org/article/homosexuality
  5. https://www.christianstudylibrary.org/article/homosexuality-how-should-christians-respond
  6. https://www.christianstudylibrary.org/article/caring-those-struggling-homosexuality

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp