Die Omgekeerde Heerlikheid van Jesus in Sy Nederigheid – Filippense 2:5-11
Ek twyfel sterk dat baie mense ‘n pasgebore babatjie sou vashou en aan sy moontlike dood dink. Dis mos nie ‘n natuurlike reaksie nie? Sou Josef en Maria ooit só na Jesus gekyk het?
Lees Filippense 1:27-2:11
Ek twyfel sterk dat baie mense ‘n pasgebore babatjie sou vashou en aan sy moontlike dood sou dink. Dis mos nie ‘n natuurlike reaksie nie? Sou Josef en Maria ooit só na Jesus gekyk het? Daardie pasgebore babatjie sou ‘n slaaf wees en tot die dood toe verneder word. Dit is die onderwerp waarna ons gaan kyk in die bekende gedeelte van Filippense 2:5-11.
Filippi was ‘n Romeinse stad waar eer en status hoog geag is. Dit is iets wat ons leeftyd ook sterk ervaar. Die Romeinse Ryk het ‘n eer-en-skaamte-samelewing gehad, en dit begin meer en meer vandag prominent te word vir ons ook. Ons lewe in ‘n individualistiese samelewing waar self-obsessie normaal is. Nooit is daar genoeg likes nie, genoeg aandag in ‘n gesprek nie, of wapper daar nie genoeg PRIDE-vlae (die naam op sy eie bevestig alreeds die punt) in ons stede nie. Paulus, soos wat hy aan die Filippense doen, skets vir ons die voorbeeld van nederigheid in Jesus Christus.
Jesus is die Seun van God, maar “hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Let wel, met leeggemaak word nie bedoel dat Jesus iets verloor het nie. God kan niks verloor nie, want dan is Hy nie meer God nie. Eerder, soos die vers self verder verduidelik, het Hy iets aangeneem: die gestalte van ‘n mens.
God het ons so lief gehad dat Hy bereid was om ‘n slaaf te word. Ongelooflik! Hy het Homself verneder om ons klein en nietige sondaars te kom dien. Sien u Hom, daardie klein pap babatjie? Dit is die Almagtige God, Skepper van hemel en aarde, Koning bo alle konings, in die vorm van ‘n pap babatjie. Ons het onlangs nog Kersfees gevier en dit gedenk. Nie net het Jesus Homself vir ons gegee in sy pynlike dood aan die kruis nie, maar alreeds as ‘n kindjie in ‘n krip tussen die diere in Betlehem.
Sy vernedering strek nog baie verder, selfs tot die dood toe. En nie net enige dood nie, maar die dood aan ‘n kruis. Dit is die doodstraf wat vir die laagste laag en die mees kriminele skelm bedoel is. Kyk maar na die moordenaar wat langs Jesus gehang het. Dit is die dood wat ons verdien het. Jesus het dit in ons plek ondergaan. Besef u dit? Die man op die middelste kruis is God! God aan ‘n kruis? Dit klink absurd. Hy is tot die dood toe verneder, die laagste laag.
“Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek ‘n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang”
- Galasiërs 3:13
Die wêreld leer ons dat eer verdien moet word. Jy moet iets bereik om eer te kan verkry. Maar, Jesus doen die omgekeerde, Hy word juis minder. Tog lees ons in vers 9 dat God Hom uitermate verhoog het. Jesus het ook nog die naam (of titel) bo alle name ontvang: Here. Ja, elke knie sal buig, van die engele in die hemel, die mense hier op aarde, tot die bose in die hel. Almal sal voor Jesus die Here buig, selfs die duiwel. Hy verdien dit, nie deur mag en krag nie, maar deur nederigheid. Dit gaan totaal teen ons kultuur in.
Dit moet ‘n verandering in ons teweegbring. As ons in Jesus glo en sy beeld wil navolg (Filippense 3:17 en 1 Korintiërs 11:1), sal dit ons in die hart tref, ons hart besny (Deuteronomium 10:16) en verander. Vandaar Paulus se vermaning en aanmoediging tot nederigheid in vers 5. Christus het die gelykenis van ‘n mens aangeneem, en nou verander Hy ons tot die gelykenis van Homself. Dit doen Hy deur die krag van die Gees. So sal ons met ‘n veranderde hart tot eer van die Vader uitroep:
“Jesus Christus is die Here!”
Gebed
Liefdevolle Vader, U doen dinge wat alle verstand te bowe gaan. Dinge wat ons wese tref en dikwels teen ons grein ingaan, soos die vernedering en verheerliking van u Seun. Dankie vir u groot genade, dat Jesus Christus mens geword het en vir ons verneder is deur die dood aan die kruis. Hy was gehoorsaam waar ons geensins was nie. Daarom verdien ons nie u genade nie. Ons is diep dankbaar vir u goeie wil en liefde. Dankie dat ons mag deel wees van u koninkryk. Vul ons dan ook met u Heilige Gees sodat ons U en ons naaste nederig sal dien en liefhê. Gee ons die gesindheid van Christus. Ons sien uit na u wederkoms, waar elke knie sal buig. Ons wil U verheerlik en u heerlikheid aanskou. Maranata, kom, Here Jesus. Kom gou. Amen.
Coram Deo
Vanuit vers 5 van ons fokusgedeelte: “Laat dan die [nederige] gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees.” Dink na hoe u dit in u huwelik, by die werk of in die klas kan reflekteer.
Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Kaapstad