Die Olielamp in 2025 – ‘n Verslag
‘n Dankbare terugblik op ‘n jaar van groei, uitbreiding, en genade.
Hierdie jaar was anders as die vorige twee jare in verskeie maniere. Nuwe uitbreidings in die Olielamp het vir ons lesers en luisteraars nuwe en meer maniere gegee om hulself weekliks te voed met Christelike materiaal. Deur die uitbreidings mog ons ook nuwe redaksielede verwelkom en so as span groei.
Die redaksie se lamp sou al lankal uitgedoof gewees het as ons slegs motivering in statistiek en nommers gesoek het. Al gee statistiek vir ons ‘n aanduiding van groei en potensiale strategie, strek die Olielamp vêr verby wat ons as mense definieer as sukses. Die Olielamp is immers ‘n roeping (Handelinge 1:8) en ‘n weerklinking van die Woord (Handelinge 4:19-20) – ‘n pragtige manier waarop God sy gemeente vergader regoor die wêreld! Deur die skrywers, redaksielede, taalversorgers, potgooi aanbieders en gaste, klankversorgers, en bemarkers se besige skedules heen, besef ons dat dit slegs genade uit God se hand is dat die lamp elke week nog mag brand!
Die doel van hierdie verslag is om te verstaan hoe ons as Olielamp mog groei die afgelope jaar. Statistiek en terugvoer laat ons toe om te verstaan wie ons leser is, hoe laat om te publiseer, en dies meer. Ons wil ook graag ons lesers en luisteraars ‘n oorsig gee van die stand van die Olielamp as ‘n weerspieëling van God se genade. Ons wil Hom verheerlik in alles wat ons doen en sodoende, as die Here wil, vorentoe kyk na ‘n geseënde 2026! Ons hoop van harte dat julle hierdie verslag nuttig, interessant, en opbouend sal vind!
“Dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand 'n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God” (Filippense 1:8-11)
Die Olielamp Redaksie