Die kinders van Gomer - Hoséa 1
Ons het in die vorige oordenking gesien dat daar in die tyd van Hoséa materiële seëninge en voorspoed was. Maar in plaas daarvan om die HERE daarvoor te dank, het Israel dit aan Baäl toegeskryf.
Die kinders van Gomer - Hoséa 1
Lees Hoséa 1
Ons het in die vorige oordenking gesien dat daar in die tyd van Hoséa materiële seëninge en voorspoed was. Maar in plaas daarvan om die HERE daarvoor te dank, het Israel dit aan Baäl toegeskryf. Die voorspoed het gemaak dat Israel die HERE vergeet het. Ons lees byvoorbeeld in Hoséa 13:6: “Ooreenkomstig hulle weiveld het hulle versadig geword; toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet.”
Ons het dus gesien dat Israel ontrou was aan die HERE, maar ook dat God se liefde en geduld baie groot is. Die HERE is baie lankmoedig met sy volk, maar Hy bly steeds regverdig. Hy sal Israel, wat volhard in sonde, moet straf. Ons sien dit in die name wat Hoséa vir die kinders moes gee.
Die eerste kind moet Hoséa Jisreël noem. Jisreël is ‘n vlakte in Israel, ‘n plek waar daar baie bloedvergieting en oorlog plaasgevind het. Dit dui op ‘n plek van oordeel. Jisreël beteken letterlik: verstrooi, versprei.
Die name van die volgende kinders maak die oordeel oor Israel se aanhoudende afgodery nog duideliker. Lo-Rugáma beteken “Nie ontferming” of “sonder barmhartigheid”. Lo-Ammi beteken “Nie my volk nie”. Dit wat Israel uniek maak as verbondsvolk van die HERE, word hulle ontneem.
Daar is ook ‘n verskil tussen die geboorte van Jisreël en die geboortes van Lo-Ammi en Lo-Rugáma. By Jisreël word gesê dat Gomer vir “hom (Hoséa) ‘n seun gebaar” (vers 3) het, maar by Lo-Rugáma en Lo-Ammi word daar net gepraat van “’n dogter” (vers 5) en “’n seun” (vers 8). Dit dui daarop dat die laaste twee kinders van Gomer heelwaarskynlik nie Hoséa s’n was nie, maar dat hierdie kinders vanuit hoerery deur Gomer gebore is.
Die name wat Hoséa in opdrag van die HERE aan die kinders gegee het, maak dus duidelik sy oordeel bekend. Israel sal verstrooi word in ballingskap, sonder ontferming en vervreemd van God. Hoséa profeteer deur hierdie naamgewing al oor die Assiriese ballingskap van 722 v.C, maar later in die boek nog meer direk: “Hy sal ook self na Assur weggevoer word as 'n geskenk aan koning Jareb; skaamte sal Efraim aangryp, en Israel sal beskaamd staan oor sy eie raadsbesluit.” (Hoséa 10:6).
Maar tog in sy regverdigheid bly die HERE steeds barmhartig. Hoséa mag in dieselfde asem waarmee hy die HERE se oordeel aankondig, tegelyk ook verkondig dat God Israel nie heeltemal sal vernietig nie.
Daar bly genade: “Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie — sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God. Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël! Sê aan julle broers: Ammi, en aan julle susters: Rugáma.” (Hoséa 1:10-12)
Die name word verander! Lo-Ammi (nie my volk nie) word Ammi (My volk) en Lo-Rugáma (nie ontferming) word Rugáma (Ontferming).
En ons as Nuwe Testamentiese gelowiges verstaan so te veel meer hoe hierdie naamverandering moontlik is: slegs as gevolg van Jesus Christus se volmaakte verlossingswerk. Aan die kruis het Hy uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?“ (Mattheüs 27:46). Aan die kruis is Hy as’t ware: “Nie my Kind nie” genoem. Vir Jesus was daar geen ontferming of barmhartigheid aan die kruis nie. ‘n Plek waar God sy toorn en oordeel op sy Seun laat neerkom het. Lo-Ammi. Lo- Rugáma. Jisreël.
Omdat Christus deur sy Vader verlaat is, word ons weer kinders van die lewende God genoem. Omdat daar geen ontferming vir Christus was nie, ontferm God Homself oor ons. Ammi en Rugama! Dit is ook die identiteit van die kerk. Wanneer Petrus in sy eerste brief die kerk van die Here beskryf, eindig hy deur te sê: ”Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:9), en dan Hoséa se woorde in vers 10: “julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.”
Uit hierdie woorde van Hoséa straal ook duidelike Pinksterkleure. In die Nuwe Testament word heidene deel van die volk van God en ontvang God se barmhartigheid. Paulus maak dit duidelik in Romeine 9:24-26:”Ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! — daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.”
Kyk na die nuwe status wat God ons gegee het: Volk van God, kinders van die lewende God, sondaars aan wie daar nou barmhartigheid bewys is!
Gebed
Getroue God, U het hierdie groot liefde aan ons bewys dat ons kinders van U genoem mag word. Ons dank U vir hierdie status en identiteit wat ons in Christus mag hê. Dank U dat U as Vader vir ons sorg en weet wat vir ons die beste is. Laat ons besef dat ons van U afhanklik is en dan ook sal besef dat dit U is wat vir ons sorg en ons seën. Soos Israel in die tyd van Hoséa is ons ook nog baie keer ontrou aan U, en ons bid dat U ons daarvoor sal vergewe. Ontferm U oor ons om Christus wil. Amen.
Coram Deo
In Christus het ons die wonderlike status as volk van God, aan wie daar barmhartigheid bewys is, ontvang. Versterk mekaar met hierdie waarheid soos Hoséa ons oproep: “Sê aan julle broers: Ammi, en aan julle susters: Rugáma.” (Hoséa 1:12)
Verder Bybelstudie
Hoséa 2
Geskryf deur Heinrich Goodey, GK Annlin