Alles ter wille van Christus – Filippense 1

Soos ons 2026 binneval, is dit goed om te vra wat hierdie jaar moontlik mag voortbring. Tyd is baie interessant, want almal is bekommerd daaroor, maar tog is dit iets wat buite enige mens se beheer lê.

Alles ter wille van Christus – Filippense 1
Photo by Luca Upper / Unsplash

Lees Filippense 1:1-26

Soos ons 2026 binneval, is dit goed om te vra wat hierdie jaar moontlik mag voortbring. Tyd is baie interessant, want almal is bekommerd daaroor, maar tog is dit iets wat buite enige mens se beheer lê. Ons maak planne en doen dinge, maar as ons terugkyk op vorige jare is daar soveel dinge wat gebeur het sonder dat ons ‘n sê daarin gehad het. God bly in beheer, so al wat ons saam met Paulus op die vraag kan antwoord, is dat God, “wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus” (Filippense 1:6).

Hierdie oordenking is die eerste in ‘n kort reeks oor Filippense, en dit is pragtig om hierdie skrywe van Paulus te sien ontvou. Hierdie boek is vol hoogtepunte en ook verse wat – dikwels buite konteks – baie aangehaal word. Ons gaan ‘n bietjie daarna kyk. Hoofstuk 1:21 is eerste aan die beurt:

“Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins.”

Hierdie teks is na aan die hart vir baie mense. Dit het my die eerste keer diep getref toe ‘n vriend op 21-jarige ouderdom aan kanker gesterf het. Hierdie teks het hy self vir sy begrafnis gekies. Ek het myself gevra: “Hoe kan iemand die dood so in die gesig staar terwyl hy nog so bloedjonk is? Hoe kan hy, van alle mense, die dood as wins bereken?” Dit kan beter verstaan word as ons die konteks bestudeer. Paulus was in die tronk terwyl hy hierdie brief geskryf het (Filippense 1:13). Hy het waarskynlik die doodstraf afgewag. Nou, dit is ongelooflik om te sien dat hy so vreugdevol is. Die gevangenis was nie ‘n vrolike omgewing nie - alles behalwe ‘n rustige vakansie. Dit was donker, nat, en depressief, maar tog bid hy vol blydskap (Filippense 1:4). Meer nog, hy verbly hom selfs omdat sy gevangenskap tot die verspreiding van die evangelie lei, selfs al preek mense die evangelie met die hoop om Paulus dieper in die moeilikheid te kry (Filippense 1:17-18). 

Ek twyfel dat Paulus in sy jaarbeplanning beplan het om in die tronk te gaan sit, maar tog was dit volgens God se beswil. Hy sê, “sodoende het dit by die hele pretorium en al die ander bekend geword dat ek ter wille van Christus in gevangenskap verkeer.” Let op, “ter wille van Christus” is hy in die tronk. Daarom is hy bly. Op dié manier hoor die soldate, ander gevangenes en selfs die owerhede oor die Heilige Evangelie. So wat ook al Paulus beplan het, het rondom die Here gedraai. Hy het Jesus voor oë gehad, en daarom kan hy hom in sy lof verheug. Dit is wat Paulus staande hou. Dit is die Gees van Jesus Christus wat hom ondersteun (Filippense 1:19).

As ons ‘n rukkie langer na vers 19 kyk, sal iets opval: die gebed van gelowiges sal tot verlossing lei. Ons moet bid vir verlossing, en bid vir die Heilige Gees; en dit is dan nie net vir onsself nie, maar vir ons medemens ook. Paulus ken God se beloftes, en hy klou vas aan daardie waarheid. Dit word deur die gebed van gelowiges bevestig en dien ook as bemoediging vir hom. Of die verlossing nou in die vorm van vrylating uit die tronk kom, of deur die dood as deur tot ewige heerlikheid, sal Paulus bly wees, want gevangenskap, dood, of lewe, is ter wille van Christus. 

Daarom kan Paulus van harte sê: “Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins.” Hy sien die twee opsies. 1) Hy sterf en sien sy Heiland in ewige heerlikheid, of 2) hy word vrygelaat en kan God aanhou dien deur vir Hom te lewe op aarde. Dis waarlik ‘n tweestryd. Opsie 1 is verreweg die beste, erken hy self (Filippense 1:23). Tog is hy oortuig daarvan dat hy sal aanhou dien (opsie 2), en dit is vir hom goed. In beide gevalle is sy vreugde in Christus, nie in sy situasie nie, nie in gevangenskap of vryheid nie, nie in lewe of dood nie. Hy kan altyd blydskap vind, want sy vreugde is in Christus.

Wat ons alles ook vir 2026 beplan, of wat die jaar mag bring, moet ons weet dat God sy werk sal voltooi op die dag van Christus. 2026, soos ander jare, is die jaar van ons Here, so die hele jaar deur gaan God werk en bou. Hy sal sy werk voltooi. Laat ons daarom Christus voor oë hou, vasklou aan die boodskap van die kruis, en alles ter wille van Christus doen – in lewe en in sterwe.

Gebed

Almagtige God en Vader, U wat getrou bly deur die geslagte heen, U bly werk in ons lewens, dag in dag uit. Wat ‘n troos is dit nie om te weet dat U die werk in ons sal voltooi. Daarom bid ons vir verlossing en die Gees. Werk in ons volgens u goeie wil. Vorm ons hele lewe om tot u lof en eer te dien. Bring ons ook daar, sodat ons mag sê: Vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins. Dra ons hierdie jaar, en gee ons die vertroue dat ons mag weet dat alles tot die bou van u koninkryk sal dien. Gebruik ons ook so, sodat ons dae vol mag wees van diens aan U. As die lewe donker en depressief raak, hou ons vas, en gee ons die vreugde en vrede wat alles hier op aarde oortref. Wil U gou terugkeer aarde toe, en ons tot U neem, want by U is dit verreweg die beste. Aan U kom toe alle lof en eer. Amen.

Coram Deo

Die nuwe jaar mag moontlik heelwat uitdagings bring: siekte, dood, en depressie. Dit mag ook vreugdes gee soos nuwe lewe, opwindende fases en mooi tye saam met familie en vriende. Wat die Here ook op u pad bring, probeer dit sien as dinge wat ons nader aan Hom sal bring, hoe maklik of moeilik dit ook kan wees. Dit is soos Paulus wat deur gebede en die krag van die Gees Christus voor oë kon hou. Voorspoed en die Here se seën vir die nuwe jaar!

Lees Verder

Filippense 4 | Psalm 103

Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Kaapstad