Wat is waarheid?

Wat is waarheid?
Photo by Priscilla Du Preez 🇨🇦 / Unsplash

In ’n samelewing waar ons al hoe makliker toegang kry tot inligting, groei daar terselfdertyd ’n ongemaklike vraag in ons: wat is werklik waar? Teorieë soos die Dead Internet Theory stel dat groot dele van die internet nie meer deur regte mense gegenereer word nie, maar deur bots (outomatiese rekenaarprogramme) en algoritmes wat bepaal wat ons sien, hoor en uiteindelik as aanvaarbaar reg of verkeerd beskou. Of hierdie teorie waar is of nie, dit wys dat ons in ’n wêreld leef waar waarheid maklik gemanipuleer en vervang kan word. Dit bring ons dan by die vraag: wat is waarheid?

Die vraag is egter nie iets nuuts wat eers in die een-en-twintigste eeu ontstaan het nie. In Johannes 18:38 vra Pontius Pilatus vir Jesus: Wat is waarheid?” Ironies genoeg vra Pilatus hierdie vraag terwyl Jesus, die Waarheid, voor hom staan. Jesus het reeds vroeër gesê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe (Johannes 14:6).

Ons sien dus dat waarheid vir ons geopenbaar word deur Christus, wat self die Waarheid is. Ons leer dat waarheid nie ‘n abstrakte konsep is nie, maar dat dit ons Verlosser Jesus Christus is en dat waarheid nie deur die mens beheer en gedefinieer word nie, maar dat dit van God af kom. Psalm 119:160 sê: “Die hele inhoud van U woord is waarheid”. Hieruit kan ons sien dat die waarheid gegrond en geopenbaar word in God se woord.

Waarheid is dus nie net iets wat jy weet nie, maar is ‘n lewenswyse waarin geleef moet word - so lees ons in Psalm 25:5 waar Dawid sê: “lei my in u waarheid”. So sien ons dat die pad van die waarheid nie deur onsself gehardloop kan word nie, maar dat dit God is wat die krag van die waarheid in ons werk, deur die Heilige Gees.

Verder moet ons as kinders van God, wat leef in ‘n wêreld van verdraaide waarhede en valse leringe, herhaaldelik die inligting wat ons allerdaags inneem, toets teenoor die Woord van God sodat valse waarhede en valse leringe nie toegang tot ons harte vind nie. So word ons ook geleer in 1 Johannes 4:1-6 om geeste te toets, omdat daar baie valse profete is wat in die wêreld uitgegaan het. Nog ‘n waarskuwing sien ons in Matthéüs 24:24 wat handel oor valse profete wat valshede verkondig en die uitverkorenes probeer mislei waar dit moontlik is. Hierdie waarskuwing is in vandag se digitale era baie belangrik, aangesien valshede al hoe makliker versprei word en dikwels voorkom as populêr en iets om deel van te wees.

Waarheid vra daarom meer as blote erkenning, dit vra reaksie. Jesus sê in Johannes 8:31-32: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak”. Dus in ’n wêreld vol bots, algoritmes en teenstrydige stemme word ons as gelowiges geroep om nie net die waarheid te erken nie, maar om in die waarheid te leef. Dit is alleenlik moontlik deur die krag van God, wat dit in ons werk. Bid dus elke dag en vra: “lei my in u waarheid.”

Geskryf deur Tiaan van der Vinne, VGK Maranata