Ware aanbidding: meer as net offers - Hoséa 5-6
Soos ons verder reis deur die profeet Hoséa, kan ons maklik mismoedig word. Hoofstukke 4 tot 10 herhaal deurgaans dieselfde gedagte: Die sonde van die volk en die HERE se oordeel daaroor.
Lees Hoséa 5-6
Soos ons verder reis deur die profeet Hoséa, kan ons maklik mismoedig word. Hoofstukke 4 tot 10 herhaal deurgaans dieselfde gedagte: Die sonde van die volk en die HERE se oordeel daaroor.
Die patroon gaan voort in hoofstuk 5: “Hulle dade gedoog geen terugkeer tot hulle God nie, want daar is 'n gees van hoerery in hulle binneste, en hulle ken die HERE nie (vers 4)…Ek sal my grimmigheid oor hulle uitgiet soos water (vers 10b)...Daarom is Ek vir Efraim soos 'n mot en vir die huis van Juda soos 'n verrotting in die gebeente (vers 12).” Weer die sonde van die volk en dan die oordeel van die HERE.
Hoofstuk 6:1-3 skets egter skynbaar ‘n omkeerpunt in die volk se houding. Hulle sê: “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind (vers 1).” Het die volk nou uiteindelik begin reageer met bekering op Hoséa se profesie?
Uit die HERE se reaksie in vers 4 blyk dit dat dit nie die geval is nie. Hy sê: “Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? Aangesien julle liefde is soos 'n môrewolk en soos 'n dou wat vroeg weer verdwyn.” Die HERE vergelyk die volk se liefde met ‘n môrewolk en ‘n dou – dit dui op die kortstondigheid en vlugtigheid van die liefde – dit verdwyn vinnig.
Die volk se woorde van terugkeer in vers 1 tot 3 is baie oppervlakkig. Dis ‘n houding wat ligsinnig sê: “Laat ons weer die HERE gaan dien, dan sal Hy ons vinnig weer help uit ons node.” Nêrens in hulle woorde lees ons iets van skuldbelydenis nie. Daar is duidelik geen hartsverandering by die volk waarneembaar nie – die liefde verdwyn so vinnig soos wat dou verdamp wanneer die son deurbreek.
Die volk se woorde en hul aanbidding was oppervlakkig. Die volk se godsdiens het verval tot vormgodsdiens – die uiterlike vorm van godsdiens terwyl hul hart ver was van die HERE en sy wil. Die volk het gedink dat hulle die HERE met hul offers en mooi woorde tevrede kon stel. Hierdie gevaar kom ook dikwels by ons na vore. Dit kan gebeur wanneer goeie dinge soos kerkbywoning en gebede slegs gewoontes raak. 'n Ander voorbeeld kan ook wees wanneer ons vroom Sondae in die kerk sit, maar in die week leef ons soos wat almal leef en geniet die sonde.
Die HERE wys dan weer op die kern van ware aanbidding: “Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.” (Hoséa 6:6)
Dit mag miskien vir ons vreemd klink dat die HERE sê dat Hy nie ‘n behae het in offers nie. Het Hy dan nie deur Moses bevel gegee dat die volk offers moet bring nie? Ja, die probleem is nie met die offers nie, maar met die gesindheid waarmee die persoon die offer bring. Deur die bring van offers is die persoon wat offer se toewyding aan God uiterlik bevestig - een van die doele van offers bring, was dus om toewyding aan die Here uit te druk. Sonder toewyding is ‘n offer betekenisloos.
Met hierdie woorde sê die HERE dat die uitvoering van godsdienstige handelinge sonder ‘n hart vol geloof en liefde, nie vir Hom behaaglik is nie. Die HERE soek offers wat kom uit ‘n hart van liefde en kennis van God. Aan die term kennis van God het ons ook al in ‘n vorige oordenking geraak. Die kern van aanbidding is dus ‘n lewende verhouding met die HERE God wat gepaard gaan met liefde. En juis daaruit vloei offers wat God behaag, offers met ‘n lieflike geur.
Ons bring nou wel nie offers van diere soos wat Israel gedoen het nie, maar die offers neem ander vorme aan soos:
- Skulderkenning: “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:18-19)
- Finansiële bydraes in God se koninkryk: “Maar ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafrodítus ontvang het wat deur julle gestuur is, 'n lieflike geur, 'n welgevallige offer, welbehaaglik by God.” (Filipennse 4:18)
- Gebede: “En 'n ander engel het gekom en met 'n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God.” (Openbaring 8:3-4)
Ons kan nog voorbeelde noem, maar uiteindelik is ons hele lewe ‘n lofoffer aan God op grond van die volmaakte versoeningsoffer wat Christus vir ons gebring het. Paulus gebruik ook die beeld van offers om ons lewe van toewyding aan die HERE te beskryf: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1)
Maar tog sien ons ongelukkig nie hierdie uitwerking by die meerderheid van die volk Israel in Hoséa se tyd nie. Die patroon gaan voort: die sonde van die volk en dan die oordeel van die HERE. En volharding in sonde maak die oordeel onafwendbaar – die Assiriese ballingskap het toe later gekom.
Maar laat ons wat nou die boodskap hoor, ons bekeer tot God met ons hele hart en offers bring wat aan God welbehaaglik is. Offers vanuit ‘n hart vol liefde en kennis van God. Christus leer ook in kern hierdie twee elemente wanneer Hy praat met die Samaritaanse vrou oor ware aanbidding: “Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Johannes 4:23-24)
Gebed
Onse Vader wat in die hemel woon, U is groot en baie lofwaardig. Ons wil U heilige Naam loof en prys. Ons dank U dat U baie lankmoedig is met ons en dat U tyd gee vir bekering. Here, ons bid dat U ons sal vergewe op grond van U Seun se volmaakte offer. Ons kan nie uit onsself ons bekeer nie en daarom smeek ons: “Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer.” (Klaagliedere 5:21) Here, lei ons en vorm ons om al hoe meer offers te bring wat aan U welbehaaglik is. Ons bid dit alles in die Here Jesus Christus se Naam. Amen.
Coram Deo
In teenstelling met die oppervlakkige en uitwendige vormgodsdiens van Israel in Hoséa se tyd (en dikwels onder ons ook), moet ons lewens deurweek wees met liefde en kennis van God. Dit is die dryfveer vir die offers wat ons aan God bring. “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1)
Verdere Bybelstudie
Ons volgende oordenking uit Hoséa gaan DV uit hoofstuk 11 kom. U kan daarom gerus hoofstukke 7 tot 10 op u eie tyd lees.
Bronnelys
Van Hulst, F.J. Hoofstuk 5: Hosea 6. Bl. 42-50. Profeet van God se liefde. Uitgegee deur Die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad 1991.
Kempff, D. Hoofstuk 7: Hosea 6. Bl. 45-50. Wees Trou, Die Betroubare Woord. Uitgegee deur Boekhandel De Jong (Edms.) Bpk. 1979.
Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata