Verbly julle altyd in die Here!
Ons hele lewe is aanbidding van God. Tog is daar tye in hierdie lewe wat ons nie die krag het om Hom te aanbid nie. Dit is nie dat ons nie wil nie, maar dit is moeilik om dit te doen as ons swaarkry ervaar. Ons weet dat ons die Here se lof moet besing, maar ons sukkel baie keer om onsself sover te kry om dit te doen. Die harde waarheid is: ons as mense het nie die vermoë om hierdie aanbidding te laat opwel nie. Die Heilige Gees wys vir ons die pad.
Petrus skryf in sy eerste brief aan Christene wat vervolging, marteling en stryd ervaar. In hierdie omstandighede sing Petrus tog ‘n loflied (1 Petrus 1:1-12) – prys en loof God, juis in jou moeilike omstandighede. Kan ‘n mens dit doen?
Ons ervaar almal verskillende moeites. Miskien sukkel jy met jou skoolwerk, studies of om werk te kry. Dalk het jy onlangs gehoor ‘n geliefde is terminaal siek. Jy was miskien self onlangs by die dokter wat vir jou ‘n slegte diagnosis gegee het. Miskien wonder jy of dit jou regtig baat om kerk toe te gaan – vandat ek die Here begin volg het, het ek vriende verloor en my wêreld raak al hoe kleiner. Dalk worstel jy om te verstaan wat jou doel hier op aarde is en of dit regtig die moeite werd is om nog te bly lewe. Miskien het die Here in Sy alwysheid ‘n geliefde uit hierdie lewe weggeneem.
Die Here ken ons omstandighede tot in die fynste detail. Tog roep Petrus ons op om die Here te bly loof en aanbid ook wanneer jy vrese, pyn, hartseer en bekommernisse ervaar. Die Here is goed, altyd. Dit is hoekom dit altyd tyd is om die Here te aanbid.
Wat is die grond van ons aanbidding?
Soms word ons beheers deur ons omstandighede - ons kry swaar en dan word dit moeilik om die Here te loof. Stadig maar seker verflou ons gebede. Die Bybel leer vir ons dat ons nie ons moeites moet afmaak nie – die Here maak dit nie net af nie. As ons Sy grootheid voor oë bring, verklein ons moeilikhede. God is groter as al jou seer. Vind die grond van jou aanbidding buite jouself, want binne jouself kyk jy vas in hartseer en pyn. Ons vind dit by ons barmhartige Vader. Hy het medelye met ons. Hy dra ons pyn. Daarom kan ons Hom loof in ons moeilike omstandighede.
Sonder die Heilige Gees kan ons Hom nie prys nie, maar saam met Hom kan ons die Here aanbid in ons donkerste nag. Ons lees in 1 Petrus 1:23: “want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onvergangklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.” Ons moeites is nie vir ewig nie, net die Woord van die Here. Jou Bybel moet oop bly en jou hande gevou.
“Maar die Heer sal in my lewe
weer oordag sy guns gebied.
Ook deur donker nag omgewe,
sing ek nog my pelgrimslied.
Ja, ek lofsing in die nag,
want ek bly die Heer verwag;
my gebed sal opwaarts strewe
na die bronwel van my lewe.”
- Beryming van Psalm 42 (vers 5)
Ons lees dikwels in die psalms van swaarkry in die digters se lewens, maar tog prys hulle die Here vir sy goedheid en sy trou. Dit is altyd tyd om die Here te aanbid. Hy sal uitkoms stuur, op Sy tyd, die regte tyd.
Die Here vra nie net van ons om Hom te aanbid nie, Hy gee vir ons rede om Hom te loof. Hy het vir ons so ‘n jammerte om ons te sien in ons diepste droefheid, dat Hy so ver gegaan het om Sy enigste Seun te offer. Hierin is ons aanbidding geanker, nie in ons wisselvallige omstandighede nie, want as dit die geval is, dan is ons lofprysing ook wisselvallig. Dan sal ons in die tye wat dit sleg gaan sê: “Ek sal die Here loof wanneer dit weer goed gaan”.
Om die Here te loof moes jy al Sy goedheid gesmaak het. Elkeen van ons kan oor soveel goedheid getuig wanneer ons terugkyk op ons lewe, hoe Hy sy goedertierenheid vir jou gestuur het en hoe jy in die donker nag kon lofsing. Daarom kan ons ook Hom loof in ons swaarkry, want ons weet dat ons weer Sy goedheid sal kan proe.
Barmhartigheid se geskenk is die wedergeboorte
Ons kan ons Vader se goedheid so duidelik sien as ons na die kruisdood van Sy enigste Seun, ons Verlosser, kyk. Petrus rig ons gedagtes op Christus se opstanding, maar dit beteken dat Hy gekruisig is en gesterf het. Tog het Hy opgestaan. Ons is saam met Hom gekruisig en het saam met Hom opgestaan. Ons is wedergebore en dit het die Here aan ons geskenk in Sy barmhartigheid, nie omdat ons dit verdien nie, maar net omdat Hy dit wil. Hy het ons lewend gemaak. Loof en prys ons Vader vir hierdie goedheid ook al het jy moeites.
Ons swaarkry skep ‘n droefheid in ons hemelse Vader se hart. Hy het Sy Seun geoffer om ons swaarkry, wat deur die sonde oor ons hang, weg te neem en om ons nuwe lewe te skenk. Ons was doodsbeendere wat rondgeswerf het. Efesiërs 2: 4 & 5 troos ons met die woorde:
“Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered…”
Ons nuwe lewe kom van die hart van ‘n liefdevolle Vader en dit vloei voort uit Christus se opstanding. Jy moet dit glo. Jy is ‘n nuwe skepsel. Dieselfde Krag wat Jesus uit die dood uit opgewek het, is nou ook in jou aan die werk. Ons kyk na onsself en dink soveel keer dat ons nie hierdie Krag in ons lewens voel nie. Miskien voel jy hopeloos. Jou omstandighede lyk dalk hopeloos. Tog het ons die troos van lewende hoop in ons wedergeboorte. Die graf is leeg! Jou lewe nou is nie die laaste nie - die ewige lewe is ons erfenis (1 Petrus 1: 4).
Ons hoef nie skatte op die aarde bymekaar te maak om gelukkig te wees nie. Dit sal ons nie geluk bring nie. Ons vreugde lê by ons Vader in die hemel, maak jou skatte daar bymekaar. Ons erfenis, wat ons in Christus kry, is ons vreugde. Jou swaarkry kan nie verlig word hier op aarde deur aardse dinge nie, alleen maar by Christus.
God is liefdevol besig in jou lewe. Hy gebruik jou moeites, as dit nodig is, om jou in Sy erfenis te bewaar. Want wat wil jou Vader hê? Hy wil hê dat jou geloof op daardie dag bevind sal word tot lof, eer en heerlikheid van sy Naam en sal dan vir jou sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, gaan in in die heerlikheid van jou Heer.” Dis hoe kosbaar jy vir die Here is, meer as goud. “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6). Dit is ons troos en hoop in goeie tye, maar veral in donker dae. Laat ons dan lofsing to Sy eer. Hy bewaar ons, ook in moeilike omstandighede, sodat ons ons erfenis in ontvangs mag neem. Kyk hoe Hy die moeites in jou lewe gebruik om jou geloof skoon te maak.
Ons God is lofprysing waardig in elke omstandigheid. God is altyd goed. Dit is altyd tyd om Onse God en Vader te aanbid.
Verwerking van 1 Petrus 1 - preek deur Ds. C van Wyk gehou op Sondag 7 September 2025. Geskryf deur Hanna Klapwijk, VGK Bellville