Sien God in die Seisoen – Ps. 104
Afgelope Sondag was biddag vir Gewas en Arbeid. Oral om ons kan ons die begin van ʼn nuwe seisoen sien: Die nuwe blare en blommetjies, die gesing van voëltjies, die gedreun van donderweer, die gedruis van reën. Oral om ons is daar veranderinge - die somer is om die draai! Ons voel die koue weggaan en begin uitsien vir die reën en onweer.
Maar nou moet ons die vraag vra, “het ek al ooit stilgestaan by die gebeurtenis? Het ek al gedink oor wat die verandering in seisoene beteken?”
Ons lees in Psalm 104 oor God se skepping. Hierdie psalm moedig ons aan om God te loof en te prys vir Sy wonderbare skepping. Ons moet saam met die digter sê, “Hoe talryk is u werke, o Here! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!” (Ps. 104:24). Die psalm wys ook vir ons God se koninklike majesteit soos vertoon word in Sy skepping (v. 3-5). Dit laat ons rus vind in die Here se mag, dat Hy alles in Sy Hand het. Die Here is besig in Sy skepping sodat ons weer van die somer en die reën kan geniet. So kan ons getroos word dat die Here ook na ons toe kom - Hy ondersteun en versterk ons. Hy wil dit ook graag doen vir ons, veral in die moeiliker oomblikke van ons lewe, soos geskryf is in Psalm 72:12-14.
Alles wat God in Sy skepping gemaak het, is so gemaak dat dit ons dryf om God se bestaan raak te sien. Hierdeur word ons gekonfronteer met ons wanbeeld van selfstandigheid. Deur die skepping leer God vir ons om Hom te erken soos beskryf is in 2 Korinthiërs 3:5, “Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God”. Wanneer ons opstaan en wanneer ons werk en weer wanneer ons gaan slaap, sien ons God se werke net soos die digter noem regdeur Psalm 139. Ons sien God deur die wind en reën, lig en duister, groenigheid en lewe. Alles wys die vinger na God. Die seisoene veral wys na die wysheid en getrouheid van die Here. Alles in die natuur is deurstraal met die liefde en genade van God (Matt 5:44-45).
Verder in Psalm 104 lees ons dat die Here sal voorsien: “Hy laat die berge drink uit Sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke. Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom, en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk” (Ps. 104:13-15). Al gaan ons deur moeilike of onseker tye, kan ons weet dat God daar is en vir ons en Sy skepping sal sorg. God is dag na dag, uur na uur besig met die wêreld – daar is nie iets wat gebeur wat God nie van weet nie. Soos ons bely in die Sondag 1, “Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie”.
Laat ons almal die verandering in seisoene gebruik as ʼn herinnering om te besef dat God betrokke en besig is in ons almal se lewens. Laat ons dit gebruik om terug te draai en weer volle vertroue op Hom alleen plaas. En dan kan ons saam met die digter van Psalm 104 ons almagtige en getroue Vader prys: “Laat die heerlikheid van die Here vir ewig wees, laat die Here bly wees oor Sy werke... Ek wil sing tot eer van die Here solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is. Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die Here! Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie! Loof die Here, o my siel! Halleluja!” (Ps. 104:31,33-35).
Gebed
Onse getroue Vader en almagtige Here. Ons dank U vir U volmaakte skeppingsplan. U hou alles in stand en beheer die seisoene en weer dat alles op sy bestemde tyd aanbreek. Here, ons bid dat U die land sal seën met reën, dat die land en al die plante genoeg water mag kry om te groei en vrug te dra. Here, help my om altyd U werke raak te sien en so ook herinner mag word aan U betrokkenheid in my lewe. Help my om al my sorge oor te gee aan U, want ek is geneig om op myself te vertrou. Ek bid dit in Jesus se Naam alleen, Amen.
Coram Deo
God gebruik Sy skepping om ons te herinner aan Sy almagtige krag en Vaderlike liefde. Die verandering in seisoen moet ons versterk in ons stryd. Hou moed in die Here, want Hy alleen is goed!
Verdere Bybelstudie
Psalm 104 | Sondag 1 | Psalm 8
Bronnelys
- Do You Believe by Paul David Tripp
Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata