Karakter van God - Lankmoedig
“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Petrus 3:9)
Die derde karaktereienskap wat ons in Eksodus 34:6 kry is lankmoedigheid. As ons die woord afbreek, beteken dit letterlik dat jy lank moed hou. Lankmoedigheid beteken ook dat jy met die swakhede van ander kan uithou, geduldig met ander kan wees. In die konteks van Exodus 34 beteken dit: stadig om kwaad te word.
Wat God se lankmoedigheid NIE beteken NIE
Ons het baie keer so ‘n verkeerde beeld van wat dit beteken dat God lankmoedig is. Hier is twee foute wat ons dikwels maak as ons oor God se lankmoedigheid dink.
Die eerste fout is om te dink dit beteken dat God glad nie kwaad raak nie. God is net liefde en Hy sal mos nie mense met die dood of selfs met die hel straf nie. Dit is waar dat God liefde is, Hy is inderdaad genadig en vergewe sonde, maar Hy is ook regverdig. God straf sonde. Dit is dus belangrik dat ons besef God word seergemaak en beledig deur elke sonde wat ons doen.
Die tweede fout is om te dink die Here se lankmoedigheid soos ‘n ballon is. As jy ‘n ballon opblaas, raak dit groter en groter totdat dit op die ou-end bars. Sommige mense dink die Here is geduldig, en dan skielik ontplof Hy, wanneer Hy sy limiet bereik. Ook dit is nie wat God se lankmoedigheid beteken nie.
Die Here is oneindig geduldig. Ja, soms straf Hy; soms stuur Hy selfs vuur uit die hemel, maar Hy tree nooit onbeheerst op nie. As ‘n ballon bars skiet die stukke alle kante toe. Dis stukkend en jy sal dit nooit weer kan regmaak nie. As ons ontplof maak ons skade. Ons verloor ons selfbeheersing. As God straf, is dit altyd vir ons beswil.
Wat leer die Bybel ons oor God se lankmoedigheid?
Die Bybel praat baie oor God se lankmoedigheid. Dit is nie moontlik om na alle tekste te verwys in ‘n oordenking nie, maar hier is drie voorbeelde:
- God se lankmoedigheid oor die Amoriete: In Genesis 15 sluit die Here ‘n Verbond met Abram. In vers 16 sê God dat die Amoriete se maat nog nie vol is nie, God wil nog lankmoedig wees. Hierdie volk het afgode gedien en kinders geoffer. Die Here was 600 jaar geduldig voor Hy Israel gebruik het om hulle te straf.
- God se lankmoedigheid oor Israel: As ons die Bybel lees kom ons al gou agter dat die Israeliete nie ‘n baie gehoorsame volk was nie. Elke keer weer begin hulle afgode dien. Die tienstammeryk het nie een gelowige koning gehad nie. Die Here het 200 jaar lank profete gestuur voor hulle weggevoer is deur die Assiriërs. Netso het die Here die tweestammeryk 340 jaar verdra voor hulle in ballingskap weggevoer is. Selfs toe kon hulle na 70 jaar terug kom.
- Lankmoedigheid in die verhaal van Jona: Die Here stuur vir Jona om vir die goddelose mense van Nineve te gaan preek. Die Here is so genadig om hierdie volk, wat niks met hom te doen wou hê nie, te waarsku. Dit is ook die Here wat die wonder werk dat hulle hul bekeer. Jona is kwaad hieroor. Die Here leer vir Jona met die voorbeeld van die boom dat Hy omgee vir die mense en lankmoedig oor hulle wil wees.
Deur al die eeue van die Ou Testament het God sy lankmoedigheid daarin getoon dat Hy bereid was om die skuld van die mense te verdra. Die Ou Testament het tot ‘n einde gekom, toe God sy eie Seun na die aarde gestuur het, om as Middelaar al die skuld op sy skouers te laai. Dit bring ons by die volmaakte voorbeeld van Christus. Hy het alle reg om aanbid en vereer te word gelos en het geduldig al ons straf oor Hom laat kom. God se lankmoedigheid het ‘n toppunt bereik aan die kruis.
Toepassing vir ons
Die eerste toepassing is: Kom na God toe. Ons almal weet hoe sondig en swak ons is; dit kan ons bang maak. Ons wil dan soos Adam en Eva wegkruip vir God. God se lankmoedigheid herinner ons dat ons die teenoorgestelde moet doen. God sê in die gelykenis van die verlore seun dat Hy vir ons wag om ons te bekeer. As ons ons bekeer neem Hy ons weer as Sy kinders aan.
Die tweede toepassing is dat ons nie self wraak mag neem nie. Ons moet Christus se voorbeeld volg (1 Petrus 2:20-24). Die Bybel sê as jy ‘n Christen is, gaan jy ly (2 Timotheüs 3:12). Verdra dit. Volg Christus se voorbeeld wat nie teruggeveg het nie, selfs nie met woorde nie. Ons moet en kan deur sy krag volharding toon.
Derdens: God werk dit in ons. Om ongeduldig te wees, is baie van ons se swakpunt. Gelukkig hang dit nie van ons af nie. Dink aan Moses. Toe hy ‘n jong man was, het hy ‘n Egiptenaar doodgeslaan. Maar, die Here het hom verander, sodat hy die middelaar van die Ou Verbond kon wees. Ons lees selfs in Numeri 12:3 “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.”
Laastens dink na oor wie jy is. Lankmoedigheid beteken dat jy baie bewus is van die feit dat jy self baie gebreke het, en dat ander mense ook met jou moet uithou. As ons besef wat die Here vir ons gedoen het, hoe groot sy lankmoedigheid teenoor ons is, sal ons anders na ons medemens kyk.
Gebed
Lankmoedige God en Vader, dankie dat U so met ons geduld het. Dankie dat U altyd gereed staan om ons te vergewe en ons weer as U kinders aan te neem. Here, laat hierdie besef deurwerk in ons lewe, sodat ons ook U lankmoedigheid kan weerspieël na almal rondom ons.
Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria
Bronne
Ds PG Boon, “Danksy Christus is God lankmoedig. Deur Christus se Gees word ons ook lankmoedig.”, https://www.vgk.org.za/preke/25295