Islam en Ons

Islam en Ons
Photo by Aidan Bartos / Unsplash
Alleenlik, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie” – Filippense 1:27

“Aslim Taslam”. “Peace to whoever follows guidance”. Hierdie was die woorde van Osama bin Laden aan president George Bush na 11 September. Hy het gesê: “aanvaar goeie leiding, onderwerp jou (aan my) en jy sal vrede hê.” Hy het dit al ook vir ander wêreld leiers deur die jare gestuur, byvoorbeeld ook vir President Donald Trump. Hierdie uitspraak wat bin Laden gebruik, genoem Da’wah, is die basis vir Islam se ‘evangelie’. Ons het verlede Donderdag die 24e herdenking van 9/11 “gevier”. Veral op so ʼn dag kan ʼn mens nie anders as om te wonder hoekom die Moslems op daardie vliegtuie besluit het om in die Twin Towers in te vlieg nie. Verlede week Donderdag het ds. Christo Heiberg ook ʼn lesing aangebied oor Islam  – die gevare daarvan, maar ook wat ons van hulle kan leer. 

Fitna is 'n beproewing wat 'n Moslem se geloof bedreig. Dit veroorsaak skaamte en vernedering vir daardie Moslem. As iemand Fitna veroorsaak op ʼn Moslem, kan en mag die Moslem hulle doodmaak. Hierdie is ʼn direkte opdrag van die Koran af. Om hierdie Fitna te vergeld is om die voorbeeld van Mohammed te volg en Allah se wil te doen. Om die Fitna te vergeld is genoem die ‘slagoffersindroom’. So as die Moslem die Fitna vergeld en sterwe, is dit vir sy eer. Hierdie maak dit baie gevaarlik, want Moslems word eer gegee wanneer hulle sterwe as ʼn martelaar. Die Moslems leef met die doel: in alles wat jy doen moet jy Allah volg, al is dit na die dood toe. Hierdie klink bekend vir ons, nie waar nie? Dit is ook hoe ons as Christene moet lewe. Ons moet Jesus ook so naby volg - soos ons dit vind in Matthéüs 16:24-27. Ons moet ons lewens opoffer vir die diens aan die Here:

“Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.”

Ds Heiberg het genoem dat die tyd nou vir Moslems is om oor te neem. Die weste is geestelik moeg en moreel bankrot. Islam kan nou maklik mense kry, want mense weet nie meer waar om na toe te draai nie. Hierdie sal ʼn oorwinning wees vir die Moslems, om hulle skaamte vir eer te verruil. Dit sien ons deesdae meer en meer, 50% van Afrika is Moslem (Galal, 2024). Maar dit is net so ʼn goeie tyd, as dit nie beter is nie, vir ons as Christene om te evangeliseer. Filippense 1:27-30 noem dat die Filippense moet, en so ons ook, “in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie”. Hierdie teks verduidelik evangelisasie as ons grootste roeping, en so, dat ons nie “afskrik (om te evangeliseer) deur die teëstanders”. Die teks verduidelik verder dat dit vir ons redding is, al is ons redding deur Christus genadiglik aan ons gegee. Ons moet nie net in Christus glo nie maar ook vir Hom ly (Filippense 1:29).

Verder in Galasiërs 4:21-31 kan ons lees van die stryd tussen Isak en Ismael en hulle afstammelinge. Deur dit te lees, besef ons dat daar geen middelgrond is nie. Dit is óf vir God of vir mens. Maar omdat ons “nie kinders van die slavin (is) nie, maar van die vrye” (Gal 4:31) moet ons ook so leef. Ons woorde en dade moet Christus verkondig.

Hierdie stryd gaan moeilik wees (Matthéüs 5:11) maar ons kan dit doen deur die krag van God wat ons ondersteun en die wete dat die oorwinning gewaarborg is (Openbaring 12).

Ds. Christo Heiberg het met ʼn paar praktiese toepassings afgesluit (Heiberg, 2025):

  • Luister weer nuut na die Here se stem
  • Lees die Bybel met ʼn Nuwe Testamentiese perspektief 
  • Bid weer met jou hele hart
  • Beywer jou vir Christelike eenheid
  • Wees sterk in die Here en weier om aan vrees toe te gee
  • Wees bedag op misleiding, en bly ingelig 
  • Reik uit na Moslems en almal anders om jou
  • Raak betrokke in ons gemeenskap, in die kerk en die wêreldse gemeenskap om jou
  • Bid en werk vir politieke verandering 

Hierdie praktiese punte moet hand-aan-hand gaan met Bybellees en gebed. Lees die Woord van God, dit is waar ons ware vrede en krag kan vind (Johannes 14:25-31 en Psalm 73:26). Ons moet die Bybel bestudeer en ken. Ja, dagstukke en verklarings kan baie help maar ons moet die Woord deur en deur ken, want dit is ons wapen in die stryd, die swaard van die Gees (Efesiërs 6:17). So kan ons ook die ‘raad’ van Osama bin Laden volg: Aanvaar goeie leiding (die leiding van uit die Bybel), onderwerp jou (aan God en Sy Woord) en jy sal vrede hê!

Gebed

HERE, U is almagtig en groot, Heerser van hemel en aarde. U weet alles wat in die wêreld aangaan en ook wat in my lewe aangaan. Help my om op te staan vir U naam. HERE, ek plaas my lewe in U hande. U is my krag en sterkte. Help my om U Woord te bestudeer en ook die wil om daaruit te leer. Gee my krag om dit van toepassing in my lewe te maak. Dat ek dit ook vir die evangelie van U Woord kan gebruik. Help my om soos U profeet Jesaja te sê “hier is ek, stuur my”. U is my Rots en Redder by Wie ek skuil, in U vertrou ek. Amen.

Coram Deo

Ons kan leer uit die toewyding van die Moslems aan Allah – ons moet die HERE volg met ons hele hart, siel en gees. Dit kan ons doen net deur die Woord van God te lees en te leer.

Verdere Bybelstudie

Filippense 1 | Matthéüs 16 | Galasiërs 4

Bronne

  • Galal, S. (2024, May 30). Muslim population in Africa as of 2024, by country. Herwin van Statista: https://www.statista.com/statistics/1368589/muslim-population-in-africa-by-country/
  • Heiberg, C. (2025, September 11). Nine Eleven.

Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata