Inleiding tot karakter van God
Soms as mens die Bybel lees voel dit soos ‘n klomp los geskiedenisverhale. Tog weet ons almal dat die Bybel een geheel vorm. Dit vertel een groot verhaal van God se genade en regverdigheid wat sy klimaks bereik in God se Seun, Jesus Christus, wat vir ons sondes aan die kruis betaal het.
Lees: Exodus 34:1-9
Soms as mens die Bybel lees voel dit soos ‘n klomp los geskiedenisverhale. Tog weet ons almal dat die Bybel een geheel vorm. Dit vertel een groot verhaal van God se genade en regverdigheid wat sy klimaks bereik in God se Seun, Jesus Christus, wat vir ons sondes aan die kruis betaal het.
In Exodus vind ons een van sulke tekste wat die essensie van die Bybel se boodskap so goed saamvat dat dit meer as 20 keer in die res van die Bybel aangehaal word. Dit is die woorde waarmee die Here Homself beskryf in Exodus 34:6-7.
In Genesis het die Here vir Abraham belowe dat Hy hom tot ‘n groot nasie sal maak, hulle sal die land Kanaän in besit neem en vrugbaar en geseënd lewe. In Abraham se leeftyd sien hy maar min daarvan. Hy moet geduldig wag tot hy 100 jaar oud is voor hy die seun van die belofte verkry, en al die tyd woon hy nog as ‘n vreemdeling in die beloofde land. Die enigste stukkie grond wat hy besit is ‘n graf. Na sy dood lyk dit nie of dit baie beter gaan nie. Jakob kry inderdaad ‘n klomp seuns, sodat sy nageslag vinnig groei, maar hulle is nog altyd vreemdelinge in Kanaän. Dit raak selfs erger, want tydens ‘n hongersnood verlaat hulle die beloofde land om in Egipte te gaan bly. 400 jaar later is hulle ‘n groot volk, maar hulle is ook ‘n slawevolk. Die Here vergeet egter nie van Sy beloftes nie. Deur Sy kneg Moses lei Hy hulle uit Egipte na die land van melk en heuning.
Daar is egter ‘n groot tussenstop in die boek Exodus. Vir ongeveer ‘n jaar lank kamp die volk aan die voet van die berg Sinai. Dit is hier waar die almagtige God met eenvoudige mensies ‘n verbond wil sluit.
Ons ken almal die geskiedenis: Die Here gee die verbondsvereistes (10 gebooie), maar die volk is te bang om God so direk te hoor praat. Daarom klim Moses alleen teen die berg op. Terwyl hy nog op die berg is en die verbondsluiting dus nog aan die gang is, breek die volk alreeds die eerste twee ooreenkomstes, deur ‘n goue kalf te maak.
God is woedend. Hy dreig om die volk vir altyd van die aarde af te vee. Moses tree as middelaar in vir die volk en God is bereid om te vergewe. Dit is in hierdie konteks wat God die pragtige woorde van Eksodus 34 oor Homself sê.
Kom ons kyk na wat hierdie vers sê:
Die HERE, die HERE,'n barmhartige en genadige God,
geduldig,
oorvloedig in troue liefde en waarheid,
wat troue liefde vir duisende bly handhaaf,
wat skuld, oortreding en sonde vergewe,
maar wat beslis niks ongestraf laat nie,
wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet,
ook die derde en vierde geslag. (Exodus 34:6-7)
Heel eerste noem God Homself by Sy verbondsnaam, JAHWEH. Dit is die Naam waarmee Hy Homself aan Moses in die brandende bos bekend gemaak het. “EK IS”. Ja, ook nou dat die volk die Verbond verbreek het, bly God getrou. Hy hou sy beloftes. Dit is en bly ook ‘n troos vir ons. Dit wat ons oor God in die Bybel lees, is steeds wie Hy is.
In Hebreeus het die tweede reël ('n barmhartige en genadige God) 3 woorde wat rym, dit word beklemtoon deur die vierde reëltjie (oorvloedig in troue liefde en waarheid) wat ook 3 woorde wat rym bevat. Elkeen van hierdie reëls bevat twee eienskappe van God. Dit omring saam die middelste eienskap en lig so God se geduld of lankmoedigheid uit.
Dan kom die tweede helfte van die beskrywing van God in vers 7. God handhaaf troue liefde aan duisende – en hoe kan Hy goedertieren bly teenoor die wat teen Hom sondig – Hy vergewe hulle skuld, oortreding en sonde.
Maar God se vergewing beteken nie dat ons maar net kan doen wat ons wil nie. God se genade word gebalanseer in die beskrywing wat volg “maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag”.
Let op die kontras tussen die klein getal generasies wat gestraf sal word omdat hulle volhard in die sonde van hulle vaders, teenoor die groot getal generasies wat God se troue liefde ervaar. Dit pas in by die teenstelling van God se straf oor ongeregtigheid in reël 8 en God se vergifnis van ongeregtigheid in reël 6.
In vers 7 kry ons dus twee temas: God se vergifnis, maar ook Sy regverdige straf. Saam omring dit weereens ‘n middelste gedagte: “maar wat beslis niks ongestraf laat nie”.
Die twee sentrale gedagtes van hierdie pragtige beskrywing van die karakter van God is dus dat God geduldig is (reël 3), maar beslis nie die sonde ongestraf laat bly nie (reël 7). Dit is die spanning tussen die twee verse, maar ook in die hele verhaal van die Bybel.
Gebed
Almagtige God, Dankie dat u ‘n verbond sluit met nietige, sondige mense soos ons. Here, ons bely dat ons net soos die volk Israel elke dag weer die vereistes van die verbond verbreek. Ons verdien om van die aarde af uitgeroei te word, maar ons pleit op u beloftes. Wees getrou aan u karakter en vergewe ons ons skuld. Dankie dat ons dit met vrymoedigheid kan vra, omdat ons weet dat die Here Jesus reeds met sy eie bloed betaal het. Ons loof en prys U vir hierdie oneindige groot genade. Amen.
Coram Deo
Die HERE is wie Hy is en bly altyd dieselfde. Deur genade maak Hy sy karakter aan mense bekend. God is beide geduldig/genadig en regverdig.
Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria