"In Christus" – Filippense 3

Sommige woorde val nie lekker op die oor nie: ‘Verlies’ laat mens dink aan verloor en ‘vullis’ klink sommer vuil. Juis dít is Paulus se bedoeling wanneer hy hierdie woorde in ons fokusgedeelte gebruik.

"In Christus" – Filippense 3
Photo by Aaron Burden / Unsplash

Lees Filippense 3:1-16

Sommige woorde val nie lekker op die oor nie. Twee sulke woorde vind ons in ons teks. ‘Verlies’ laat mens dink aan verloor en ‘vullis’ klink sommer vuil. Dis asof hierdie woorde ‘n slegte nasmaak in die mond laat soos daardie soetsuur, vrot reuk van ‘n swart asblik wat jou sommer naar maak. Juis dít is Paulus se bedoeling wanneer hy hierdie woorde in ons fokusgedeelte gebruik.

Vandag se gedeelte stem baie ooreen met die eerste oordenking van ons kort reeks uit Filippense. Daar het ons gesien dat Paulus alles ter wille van Christus verduur en daarom vreugdevol is. Sy brief aan die Filippense fokus op eenheid met Christus wat juis ware vreugde bied. Dit word reeds duidelik wanneer ‘n mens na die voorsetsel ‘in’ kyk. As jy hierdie woordjie onderstreep in die vier hoofstukke van hierdie Bybelboek, sal jy gou sien wat Paulus probeer sê. ‘In die Here’ (vers 1) of ‘in Christus’ (vers 9) – is die hoofgedagte van die brief aan die Filippense. 

In die vorige oordenking uit Filippense 2 het ons gesien dat Paulus teen die konteks van ‘n eer-en-skaamte-samelewing skryf. In Filippense 3 waarsku hy teen die honde. Honde was straatdiere en wild in daardie tyd – gevaarlik. Daarmee bedoel hy gevaarlike mense. Hy waarsku ook teen mense wat kwaad aanrig. Dis mense wat honger na hulle eie eer. In vandag se gedeelte wys hy dat hy ook die eer-speletjie kan speel. Kyk na vers 4-6 en sien sy sarkastiese opmerking: Paulus kan hom beroem op sy besnydenis, Israelitiese afkoms, wetsgehoorsaamheid as Fariseër, mag as vervolger van die kerk... Dit is alles waarop mense van daardie tyd, veral die Jode, hulle beroem het. Dit is vir ons vandag dalk eerder dinge soos die kar wat jy ry, jou werk, jou vakansiehuis, die klere wat jy dra, hoe die mense na jou kyk in die kerkbank, hoe gewild jy is, ens.

Maar dan sê Paulus in vers 8 en 9: “Ter wille van Hom, het alles vir my ‘n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word.” Dit is treffend, en moet vandag vir ons ook aan die hart gryp. In ons individualistiese samelewing bou elkeen sy eie koninkryke. Sondag sit ons mooi in die kerk, maar na kerk bêre ons weer die Bybel in die kas; Maandag werk ons weer vir wins en vergeet van God, maar onthou van geldmaak. 

Voor jy verder lees, beantwoord gou die volgende vraag: “Wat sal dit neem om vir jouself te kan sê jy is ‘n volledige Christen?” 

‘n Moontlike antwoord is, “Ek gaan kerk toe, lees Bybel, my kinders is in ‘n Christelike skool, en ek gooi genoeg geld in die kollektesakkie... miskien kan ek harder sing in die kerk, of minder alkohol drink oor die naweke; dan sal ek ‘n volledige Christen wees.” 

Liewe broer of suster, ook dít is verlies en vullis, drek, ‘n vrot asblik as jy nie ‘in Christus’ is nie. Wat jou ‘n Christen maak, is Christus alleen en niks anders nie. Dit is soos Paulus sê:

“nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof – en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik.” – Filippense 3:9-11.

Nie een van ons het dit bereik nie. As Paulus dit toe nog nie bereik het nie (vers 12) hoe kan een van ons dit sê? Hy wil in Christus wees. Geliefde, wil jy ook in Christus wees? Of wat wil jy anders hê as vreugde in die Here wat vrede vind selfs wanneer jy die dood voor oë het? 

Ons lewe in ‘n identiteitlose wêreld, selfs al is ons samelewing individualisties. Ironies, nè? Almal sê om jou identiteit in jouself te vind, maar dit help nie. Ons gaan net by vullis en verlies kom as ons dit daar soek. Maar jy is in die Beeld van God geskape, so jy moet jou identiteit buite jouself in Christus vind. Eenheid met Christus maak jou wie jy is, ‘n Christen wat alles ter wille Christus doen, dink, en sê. Dit ís dan jou identiteit. Dan word jy Christologies.

Wanneer jy in Christus is, is niks meer jou eie nie. Alles is van Hom, jou geld, huis, en jou kinders. Meer nog, wanneer jy in Christus is, word sy regverdigheid word joune, word sy heerlikheid en genade joune. Daarom word ons heilig in Christus, want soos Hy ons gelykenis aangeneem het (mens geword het) om ons vry te maak van die slawehuis van sonde, neem ons deur die Gees Sy gelykenis aan en word kinders in sy Vader se huis vol van goedheid en liefde. 

So beur ons voort na die wenstreep, waar ons in Christus die prys van God sal ontvang (vers 14). Dis waarheen God ons roep. Dink só aan dit alles, en neem die gesindheid van Christus aan (Filippense 2:5).

Gebed

Ons Vader wat in die hemel is, hoe heerlik is U, en hoe groot is U nie? Ons staan verwonderd oor U grootheid, dat die Heilige Gees Paulus so gelei het om U Woord neer te pen. Ons kan dit sien deur net na een klein woordjie te kyk. Dankie vir die troos wat ons het, om te mag weet dat ons in Christus is danksy sy offer aan die kruis. Ons kan daarom alles anders as bloot aardse dinge beskou, en ons mag U heerlikheid ervaar. Dankie vir die eenheid met U Seun. Ons sien uit na die wenstreep wanneer ons die einde van die resies sal bereik. Gee ons U Gees dat ons mag groei en ook mag aanhou hardloop tot ons die einde behaal, by die Bruilofsfees van die Lam. Op daardie dag sal ons tot in ewigheid U heerlikheid aanskou en alle boosheid, verlies en vullis sal vergete gaan. Niks kan met U vergelyk nie. Daarom kom U alle lof en eer en heerlikheid toe. Amen.

Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Kaapstad