Immanuel: God met ons

Daar is verskeie name in die Bybel vir Jesus. Ons wonder soms: Hoekom is die name van Jesus belangrik? Daar is baie redes daarvoor. Eerstens wys die name van Jesus vir ons wie Hy is. As ons nie weet wie Hy is nie, sal ons nie weet hoe om Hom as God te dien en eer nie.

Immanuel: God met ons
Photo by JOHN TOWNER / Unsplash

Geskryf deur Ineke Bijker, VGK Pretoria

Daar is verskeie name in die Bybel vir Jesus. Ons wonder soms: Hoekom is die name van Jesus belangrik? Daar is baie redes daarvoor. Eerstens wys die name van Jesus vir ons wie Hy is. As ons nie weet wie Hy is nie, sal ons nie weet hoe om Hom as God te dien en eer nie. Uit Jesus se name weet ons ook wie ons is. Ons identiteit is in God gegrond. Ons weet wie ons is deur te weet wie God is. Jesus se name wys ons ook die gesag van God en sy oneindige, onmeetbare krag. Sy name wys ons sy grootheid en mag. God het ons in die wêreld gestuur om sy naam te verheerlik. Dit is belangrik dat ons weet wat hierdie name is, sodat ons Hom kan verheerlik vir wie Hy is. Ons kan God nader deur Jesus Christus. Jesus sê ook self dat alles wat ons van die Vader in sy naam vra, Hy aan ons sal gee.

“Immanuel” in die Bybel

Die naam “Immanuel” kom net drie keer in die Bybel voor. Dit is in Jesaja 7:14 en 8:8, sowel as Mattheüs 1:23. Jesaja 7:14 is die profetiese aankondiging van Jesus se geboorte, reeds 700 jaar daarvoor. Mattheüs haal hierdie profesie aan wanneer hy Jesus as Immanuel erken.

Wat moet ons weet voordat ons delf?

Voordat ons kan delf in die dieper betekenis van ‘God met ons’, sal ons eers moet kyk na die doel daarvan. God het ons gemaak as skepsels wat volmaak voor Hom kon lewe. Hy het ons gemaak in sy beeld om voor Hom reg te kan lewe. Ons het in ‘n verhouding met Hom geleef. Hierdie verhouding is noodsaaklik vir ons lewe. 

Toe Adam verbondshoof was, is die band met God verbreek. Sonder die band kan ons as mense nie lewe nie. Ons saligheid hang af van hierdie verhouding met God. Dit moes herstel word. Ons kan dit egter nie self herstel nie. Daarvoor het ons Jesus nodig gehad om aarde toe te kom. Hy moes “God met ons” word om ons te verlos.

Wat beteken dit dat "God met ons" is?

As ons na die Ou Testament in geheel kyk, kan ons duidelik sien dat God altyd op ‘n manier teenwoordig was. Dink aan die vuur- en wolkkolom wat bo die volk deur die woestyn gereis het, die tabernakel, die tent van samekoms, die tempel, die profete, en vele meer. God was nooit nader aan sy volk as die tyd toe Jesus tussen ons kom wandel het nie.

Jesus was selfs meer as net ‘n simbool van God wat met ons is, soos wat die tempel, tabernakel, verbondsark, ens. was. Hy was God self. Hy het die aarde sy woning gemaak vir 33 jaar. Jesus was God wat in die vlees na die aarde gekom het. Hy het onder die mense gewandel, nes God met Adam en Eva. Die enigste verskil was dat Jesus ook volledig mens was. Volledig God en volledig mens. Sodoende kon Hy die prys betaal en ons verhouding met God herstel, soos God aan ons beloof het.

Jesus is nie net God met ons nie, Hy is ook God in ons. Jesus leef in ons deur sy Gees. So word ons God se tempel met Jesus in ons. Hy beloof ook om by ons te bly tot in ewigheid.

Jesus was nie vir altyd op aarde nie, hoe is Hy dan ewig by ons? Jesus het vir ons die Heilige Gees gestuur, wat ook God is. God het belowe om vir ewig by sy volk te wees en Hy is getrou! Jesus is God met ons vir altyd en ewig.

Wat is die implikasies van "God met Ons"?

Ons geloof in Immanuel beteken vir ons niks as ons dit nie prakties kan uitleef nie. “Immanuel” is nie net ‘n naam wat ons sing tydens Kersfees nie. Dit is ‘n naam wat ons troos en ons hoop is.

God is met ons as ons alleen voel

God se volk het soms ook gevoel asof Hy nie meer by hulle is nie. Veral tydens die Romeinse heerskappy. Tog was God by hulle, selfs as menslike vlees. Ons vergeet soms dat God ook emosies het - hy is werklik mens. Jesus het pyn gehad. Hy het gehuil. Hy was hartseer. Hy was kwaad. God ken ons emosies en Hy het deernis met ons. Deesdae, noudat ons nie meer Jesus by ons op aarde het nie, mag ons weet dat die Heilige Gees ons troos, ook wanneer ons alleen voel.

God is met ons as ons glo Hy kan ons nie vergewe vir dit wat ons gedoen het nie – of Hy kan nie ons gebrokenheid heel nie

Voor Jesus gebore is, was God se volk vol sonde. Hulle het gesondig, maar God het hulle nie weggestoot van Hom af nie. Hy het na hulle toe gekom. Hy het die verlore skape van Israel gesoek en aan hulle die evangelie gebring. Hy het hulle verlossing en genesing aangebied. God is dieselfde as wat Hy in daardie tyd was. So, wanneer ons voel asof ons nie vergewe kan word nie, mag ons weet dat Hy nog steeds vandag na ons kom en vir ons vergewing bied. Ons mag weet dat Hy ons gebrokenheid kan genees. Al wat Hy vra, is geloof.

God is met ons om ons te red

Jesus het na ons gekom. Dis soms waar ons stop as ons dink aan “Immanuel”. Hy het gekom en dis dit. Jesus het nie net gekom nie. Hy het gekom met ‘n doel en dit was om ons te verlos. Jesus het aarde toe gekom om in ons plek te sterf. Selfs vandag, as ons terugval in sonde, is dit Hy wat ons die krag gee om terug te keer na Hom. 

God is met ons om God en ander lief te hê

Om die ‘God met ons’-belydenis uit te leef, vra dit van ons om Jesus se voorbeeld na te volg. Net soos Jesus gekom het uit die hemel om vir ons sondaars verlossing te bring, so moet ons uit ons pad gaan om ander te help. Ons moet hulp verleen aan diegene wat gebroke is, wat in nood verkeer en wat vasgevang is in sonde. Soos God ons nie alleen gelos het in ons sonde en smart nie, so moet ons ook nie aan ons naaste doen nie.

God is met ons. Dis ons troos vir die lewe.

“Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.”
- Matt. 1:23

Bronnelys