Iets teen Swaarkry en Moegheid - Psalm 143
Aan die einde van ‘n bedrywige jaar is mens dikwels moeg. Ook is swaarkry niks nuut vir mense hier op die aarde nie. Dit kom duidelik van die begin van die aarde af al aan. God het direk na die sondeval aan Adam en Eva gesê dat swaarkry hul voorland is (Genesis 3:16, 17). Vervolging was ook toe al daar, Kain het Abel doodgemaak uit jaloesie vir ‘n aangenome offer. Ons kan daardie lyne regdeur die geskiedenis trek na ons toe, deur die slawerny in Egipte, na Dawid wat deur sy vyande vervolg is, tot by ons Heiland se lyding aan die kruis. Dan is daar nog die martelaars, Christene in Rome, Christene in China vandag. Ook in ons kringe is daar swaarkry, al is dit nie noodwendig direkte vervolging nie. Elke liewe mens in die geskiedenis het swaarkry ervaar, dit is deel van die gebrokenheid van die sondeval. Daarom is Psalm 143 van Dawid so relevant vir elke lewende siel. Kom ons hou ons Bybels daar oop soos ons na ‘n paar dinge in die Psalm kyk.
Dawid se smeekgebed begin in ellende, waar hy erken dat niemand wat leef voor die aangesig van God regverdig is nie. Dawid se swaarkry in hierdie Psalm gaan hoofsaaklik oor die vervolging deur sy vyande. Hy was moontlik deur Saul vervolg toe hy hierdie Psalm geskryf het.
Dawid voel hulpeloos soos sy gees versmag en sy hart verstyf. Ons ervaar sulke emosies ook. Dit kan dood, siekte, eensaamheid of moegheid wees. Hoe dit ook al sy, ons as mense is verlore sonder ons Here. Alle hoop syfer weg, elke greintjie moed beswyk en dan gaan sit ons in sak en as. Die ashoop is waar ons in elk geval hoort, want ons is van nature dood. Tog, mag ons ongelooflik dankbaar wees, want Christus het vanuit sy majesteit neergedaal aarde toe, het mens geword en gely tot aan sy dood aan die kruis. So het Hy ons weer opgewek uit die dood. Sonder Hom is ons dood, maar deur Hom lewe ons (Johannes 3:18).
Ons mag aan die Evangelie vasklou in tye van swaarkry en onsekerheid. Alhoewel ons onstabiel mag wees, staan ons Rots vas en moet ons ons vertroue in Hom stel (Psalm 143:8). Ons mag vreugde en vrede vind by ons Heiland. Ons mag ons laste op Hom sit, en ons kruis opneem. Ja, hierdie kruis dra het ook gevolge en swaarkry, die wêreld het Christus gehaat (en doen nogsteeds) en haat dan natuurlik sy volgelinge ook! MAAR, ons wil hierdie kruis dra, want ons weet wat die Messias vir ons bewerk het. Dan wil ons ook wandel volgens sy weë (v10). Mag ons in lyn hiermee die volgende in ons gebede bid: “Laat u goeie Gees my lei in ‘n gelyk land. o Here, maak my lewend om u Naam ontwil”.
Ons moet dan vir Hom lewe elke dag, en daarmee saam besef dat Hy aan ons kant is, want Hy het ons lief. Daarom hoef ons nie bang te wees om ons barmhartige Vader, die God van liefde, te nader vir hulp nie. Dawid klink dalk opdringerig, maar hy (en ons) mag die versoek aan God rig om ons vyande teen te werk, want ons is sy knegte, sy KINDERS! Aan Hom al die eer.
Gebed (Bid deur die Psalm self)
O Here, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid. En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie. Want die vyand vervolg my siel; hy vertrap my lewe teen die grond; hy laat my woon in duisternisse soos hulle wat lankal dood is. En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste. Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande. Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos 'n uitgedorde land.
Verhoor my tog gou, Here: my gees beswyk! Verberg u aangesig nie vir my nie, sodat ek nie word soos hulle wat in die kuil neerdaal nie. Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U. Red my van my vyande, Here! By U skuil ek. Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land.
O Here, maak my lewend om u Naam ontwil; lei my siel uit die benoudheid, in u geregtigheid. En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om wat my as vyand behandel; want ek is u kneg. Amen
Coram Deo
Ja ons sonde is baie, ons ellende en swaarkry groot. So kan jy gou moeg en moedeloos word en in angs en depressie val. MAAR God se genade is meer en Hy is groter as dit alles. Ons is deur sy Seun se bloed vrygekoop en ons is Syne. Ons mag skuiling en rus vind onder sy koesterende vlerke. Waarom sou ons dan vrees?
Verdere Studie
Johannes 3 en 1 Petrus 3:8-22
Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Pretoria Maranata