Hoe skryf ek ‘n goeie Christelike artikel?
Om ‘n artikel te skryf klink rof. Soms is dit al moeilik genoeg om met die regte woorde te praat. Nou moet jy woorde op papier sit - goeie woorde, goeie sinne, goeie logika en dan nog goeie Teologie! En boonop moet dit alles saam leesbaar wees. Hoe doen ek dit? Gaan mense dit ooit wil lees?
Wanneer jy begin, kry 'n duidelike en goeie verstaan van die onderwerp waarvoor jy wil skryf. Dit is belangrik om goeie navorsing te doen en jou inligting te verifieer, sodat jou artikel akkuraat en betroubaar is. Lees ‘n paar artikels of preke (kyk gerus na ons hulpbronnelys op Die Olielamp), of as jy regtig jou en jou leser wil verryk, lees ‘n hoofstuk of selfs ‘n hele boek oor jou onderwerp. As jy onseker is, praat gerus met jou vriende, iemand by die kerk of jou predikant oor jou artikel.
‘n Titel maak of breek jou artikel. ‘n Treffende titel maak die kyker se oog wonder wat die artikel te sê het. ‘n Goeie titel weerspieël die hoofonderwerp: “My selfoon maak my siek” of “Hoe gebruik ek my selfoon as ‘n Christen?” Dit is ook goed wanneer jy klaar geskryf is, om weer te gaan kyk of jy tevrede is met jou titel.
Die inleiding is amper die belangrikste en word juis vir daardie rede - meestal - laaste geskryf. Dit moet die leser se aandag gryp en die belangrikheid van die onderwerp verduidelik. Jy kan besluit: “Gaan ek clues wil gee oor die inhoud of gaan ek eerder die leser stadig maar seker wys wat ek wil sê?” Onthou, geen artikel is dieselfde nie. Gebruik jou verbeelding en dink mooi na oor hoe jy jou punt wil oordra. As jy skryf oor ‘n vraag of iets soos die Drie-Eenheid, is dit dalk beter om die inhoud stukkie vir stukkie te verduidelik totdat jy by die antwoord of gevolgtrekking kom. Jy mag dalk ‘n argument lewer, maar dan begin jy liewers met jou stelling en verduidelik van daar af hoe jy daarby uitgekom het, bv.: “Pornografie vind die ingang na jou hart deur jou selfoon se skerm”, is ‘n stelling wat jy in jou inleiding kan gee. Dit prikkel die leser se belangstelling, waarna jy dan verder verduidelik hoe jy by daardie gevolgtrekking uitgekom het.
Die liggaam van jou artikel is die deel waar jy die meeste inligting en argumente sal gee. Verdeel jou teks in paragrawe wat elkeen spesifieke aspekte van die onderwerp aanspreek. Maak seker dat elke paragraaf 'n duidelike idee of argument bevat wat logies van die een konsep na die ander gaan. Goeie struktuur gee goeie vloei en dan kan jou leser lekker lees aan ‘n goeie artikel. Dink so daaraan: “Alles moet bydra tot my boodskap en moet my leser help om te verstaan wat ek sê” - ja, selfs die vloei van idees! Klomp deurmekaar woorde maak nie ‘n sin nie; los sinne maak nie ‘n storie nie; lukrake idees maak nie ‘n artikel nie.
Gebruik feite, statistieke, en bronne. Wanneer jy navorsing doen, kry ‘n paar Bybelverse wat jy kan gebruik. Jy kan dit in jou artikel aanhaal. Ons skryf ‘n Christelike artikel, en daarom moet dit wat jy sê Bybels wees. Dit beteken dat jy nie teen God se Woord ingaan met dit wat jy sê nie - eerder, laat jou punt uit die Bybel kom. Dit is altyd bemoedigend om ‘n Bybelvers te lees, so kan jy jou leser toerus met verse wat pas by jou onderwerp. Dit is daarom belangrik om mooi te gaan kyk na die verse wat jy gebruik. Vra jouself: “Wat sê God hier?” So kan jy self ook getrou bly aan God se Woord. Om by ons voorbeeldtema van skerms en selfone te bly:
“Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie! “ (Matthéϋs 6:22-23, AFR20)
Sluit jou artikel af met 'n samevatting of gevolgtrekking wat die hoofpunte van jou werkstuk uitlig en jou artikel tot die eindstreep bring. Jy wil jou leser oortuig/bemoedig agterlaat. Jy kan ook 'n vraag stel of 'n aksie voorstel wat die leser aanmoedig om verder na te dink of op te tree. Laastens, hersien jou artikel vir taal- en spelfoute. 'n Goed geskrewe artikel sal die leser se aandag behou en hulle ‘n Bybelse boodskap gee om saam te dra - bemoedig deur die Evangelie.
Om ‘n artikel te skryf is nie maklik nie, maar dit is ‘n groot geleentheid om oor iets te leer en dit met ander mense te deel. Dan word skryf ‘n vreugde! Jou artikel word vir die leser nog ‘n groter vreugde om te lees. Dit is belangrik om te onthou dat geen artikel perfek is nie. Ons beroof onsself dikwels van vreugde wanneer ‘n groot taak voor ons staan. Ons kyk vas teen hoë standaarde, menslike opinies en is bang dat ons nie ‘n goeie werk sal doen nie. Ons is soms te trots om ‘n artikel te probeer skryf. Gooi die trots eenkant, bid vir God om jou te lei in die proses. Hy sê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (2 Korinthiërs 12:9, AFR53).
Nouja, gryp jou Bybel, notaboekie en jou rekenaar - skryf! Ons lees graag!
Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Bellville