God en Sy Glorie – Genesis 1
Staan vir ‘n oomblik stil en dink, waar word God vir die eerste keer geloof? Dit gebeur alreeds op bladsy 1 van die Bybel. God was die eerste wese om Homself te prys. Die hele skeppingsverhaal besing sy lof. Ons kan dit raaksien wanneer ons vra: Hoekom het God die aarde geskape? Tot sy lof en prys. Hoekom het Hy het die diere gemaak? Om Homself te verheerlik. Hoekom het Hy die mens geskape? Tot sy eie eer. Wanneer jy Genesis 1 lees, sien jy dat alles wat God gemaak het, “goed” was.
Nog ‘n vraag wat mense vra, dui op dieselfde antwoord: Wat is die doel van die lewe? Om God te eer. Wanneer ons hierdie eerste hoofstuk van die Bybel lees, sien ons God se glorie skitter. God Drie-Enig, skep hemel en aarde. Hierdie skeppingsverhaal vind sy hoogtepunt wanneer die mens geskape word – die kroon van God se skepping. Die mens is, as’t ware, die kersie op die koek.
Die mens het ‘n taak gekry (vers 28), iets wat van die ander skepsels nie gesê is nie: “Wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit.” Dit beteken, ons word geroep om God te dien en eer deur sy skeppingsopdrag te gehoorsaam. Deur God te dien loof en prys ons Hom. Hy het nie die aarde “sommer net” geskape nie, nee. Dit het een doel: Sy eer. Ons kan Kolossense 3:17 hierby aanhaal: “En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.”
Die hele skepping loof sy naam. Die plante bloei in alle uitbundigheid met pragtige blomme wat sy glorie uitstraal. Die hoë bome getuig van sy almag. Die druising van die see herinner ons aan die magtige stem van God (Openbaring 1:15). Selfs die sterre skitter en glinster tot die eer van ons heilige God.
Tog, verg dit min moeite om die ellende en donkerheid van die mens te kan raaksien. Die mens het swaar misluk in sy taak, en homself in duisternis gedompel. Genesis 3 wys die wortel daarvan. Die mens is lief vir homself en wil homself loof en prys, daarom het hulle die vrug geëet, want Satan het valshede aan die mens vertel wat hom met hoogmoed en trots verlei het. Die mens se trots het hom laat struikel. En ons dra nou nog die gevolg daarvan, die menslike trots het alles verniel. Nie net sug die hele skepping (Romeine 8) gebukkend onder die mens se sondelas nie, maar die hele skepping aanskou hoe die mens homself vereer ten koste van alles. So neem ons die eer weg wat eintlik alleen aan God behoort.
Dan is die vraag: “Waarom het God die mens geskape as Hy geweet het dat die mens in sonde sou val?” Die heerlikheid van die skepping het nie verdwyn nie, God se raadsplan bevat nog groter glorie as net Genesis 1. Deur die sonde sou God verhoog word. Sy regverdigheid, voorsienigheid en sy genade sou triomfeer. Dit sou kontrasterend, oneindig groot en helder skyn teenoor die donker sondebevlekte mensdom.
God het dit deur die geskiedenis aan die mens openbaar. Deur dit alles sou ons God leer ken vir wie Hy werklik is: ‘n God van getrouheid – wat ‘n verbond met sy kinders sluit; ‘n God van genade wat telkemale sy dwalende skape uitred; ‘n God van geregtigheid wat die bose straf; ‘n God van liefde wat sy Seun gestuur het ten koste van ons almal; ‘n God van ewigheid wat sy kerk bou tot aan die einde van dae.
Ja die heerlikheid en glorie van God skyn helder. Dit is die duidelikste as ons staan by die voet van die kruis. Ook dit was tot sy eer en heerlikheid (Johannes 17). Daar hang Jesus – God self – aan ‘n kruis, die aarde vir 3 uur in duisternis gehul. Daar hang Hy en betaal die boeteprys van ons sonde. Daar het hy die dood oorwin. Drie dae later het Hy opgestaan. Hy het opgevaar tot waar Hy sit aan die regterhand van die Vader. Laat die skepping juig!
Gebed (Aangepas uit Psalm 104)
Here, my God, U is baie groot; U is met luister en glans beklee, U wat Uself met lig omhul, soos in 'n mantel, wat die hemel oopspan soos 'n tentdoek. Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort. Mag die majesteit van U, Here, vir ewig duur; verheug U in U werke. Ek wil vir die Here sing solank ek leef, ek wil U, my God, besing solank ek bestaan. Mag my bepeinsing vir U aangenaam wees. Ek, ek sal my verheug in U, o Here. Amen.
Coram Deo
Ons is nie gemaak om stil te staan nie; ons is gemaak en geroep om God aanhou te dien en te verheerlik.
Verdere Bybelstudie
Psalm 104 | Johannes 1 | Johannes 17
Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Maranata